DIE CHRISTEN EN AKUPUNKTUUR

DIE CHRISTEN EN AKUPUNKTUUR

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra: “Is dit toelaatbaar vir 'n Christen om akupunktuur te gebruik?”

Hier dan is hoe ek na hierdie saak kyk:

Net eers gou iets, nie veel nie, want ek weet nie veel van die godsdiens waarin akupunktuur beoefen word nie, en ek stel ook nie in daardie godsdiens belang nie.
Akupunktuur is deel van ‘n godsdiens in China waar twee kragte: ‘n vroulike, die negatiewe krag en ‘n manlike krag, ‘n positiewe krag, bymekaar gebring word deur ‘n naald of naalde in jou liggaam te steek en dit is nou net hier waar ek baie mense seker gaan skok.

Ek glo dat ‘n Christen wel van akupunktuur gebruik kan maak mits dit suiwer op ‘n, wat ek ‘n mediese wyse noem, gedoen word.

Want, wat is ‘n afgod?

1KOR 8:4-6 
4 Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat ‘n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een.
5  Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is — soos daar baie gode en baie here is —
6  tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.”

Omdat Bachus die god van drank is, beteken dit tog nie dat ons nie wyn by die Nagmaal mag gebruik nie.

Ek deel graag met jou ‘n voorbeeld van iemand wat van akupunktuur gebruik gemaak het:

Ek en my vrou was al jare getroud toe sy my vertel het dat jare voordat sy my geken het, sy geweldig spasma aanvalle in haar nek gekry het.  Sy het toe ‘n homopaat gaan sien en dié het toe akupunktuur op haar toegepas.  Sy moes terug gaan vir nog twee behandelings maar dit was toe nie nodig nie.  Sy was dadelik genees. ‘n Paar jaar gelede begin dit toe weer.  Ons het op daardie tydstip ‘n wonderlike dokter gehad.
My vrou gaan sien toe ons dokter en terwyl die dokter my vrou ondersoek, vertel my vrou haar dat sy vantevore deur ‘n homopaat vir die toestand met akupunktuur  behandel was.  Ons dokter, ‘n mediese dokter,  sê toe vir my vrou dat sy ook akupunktuur behandeling gee. Sy het toe sommer daar in die spreekkamer my vrou behandel en vir my vrou gesê dat sy dalk vir nog ‘n behandeling of wat sal moet kom.  Dit was toe tot vandag toe nie nodig nie.
Net ingeval iemand wonder: Toe ek my vrou ontmoet het, was sy wat my aanbetref, ‘n pragtige voorbeeld van ‘n Christen ten spyte van die akupunktuur waarvan ek nie geweet het nie en na die akupunktuur wat ons mediese dokter haar jare later gegee het, waarvan ek wel geweet het, het sy niks verander nie.

Ek wil egter die volgende baie duidelik stel:

As jy vir akupunktuur gaan en dit wil net amper lyk of die persoon dit nie as ‘n suiwer mediese proses gaan hanteer nie en van dit ‘n geestelike of psigiese proses maak, neem dadelik jou baadjie of jou handsak en loop.  Want onthou, ons Here het vir ons in Sy Woord laat skryf:

1PET 5:8  “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”

Groete,
Sakkie