DIE CHRISTEN EN VREES

DIE CHRISTEN EN VREES

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra of ek dalk vir die persoon iets kan saamstel van hoe ons as Christene na vrees moet kyk.

Persoonlik dink ek ons behoort nie vrees soos die wêreld dit ervaar in ons wese te hê nie maar dit is ‘n feit dat dit een van satan se groot wapens teen ons as Christene is.

Om die waarheid te sê en ek sê dit met die tong in die kies, want wie wil nou ‘n kompliment van satan hê maar dit lyk vir my asof satan vrees gebruik wanneer hy dink dat jou standvastigheid in ons Here baie hoog is.

Hy het dit teen Petrus gebruik, toe hy die leier van die kerk hier op aarde gewees het en dit het my groot held Paulus geneem om hom daardeur te help.

Gal 2:11-12 Maar toe Petrus later in Antiogië kom, moes ek hom voor almal op sy fout wys, want hy het nie reg opgetree nie. 12Eers het hy gereeld saam met die nie-Joodse Christinne aan tafel geëet. Maar toe ’n paar vriende van Jakobus daar aankom, wou hy nie meer saam eet nie. Hy het hom toe eenkant gehou, want hy was bang vir dié wat voorstanders van die besnydenis was.

In ‘n ouer vertaling lees GAL 2 vers 12 so:

Gal 2:12  Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is.

Vrees het Petrus vir ‘n kort tydjie gedwing om die verkeerde leiding te gee.

Ek wil jou nog een voorbeeld in hierdie verband wys:

In Jerusalem, sit die room van die kerk kan jy sê, die fondament waarop Jesus Sy kerk gaan bou en God stuur na hulle, na my mening die grootste apostel van alle tye.

Hier moet ek net byvoeg, dat dit nie net ek is wat dink dat Paulus die grootste apostel van hulle almal gewees het nie, dit lyk vir my dat ons Here ook so gedink het, want nie net het Paulus ‘n baie groot gedeelte van die Nuwe Testament geskryf nie, maar al was hy nie eens by die laaste Paasmaal nie, is hy die enigste een wat vertrou word om my en jou te leer oor die Nagmaal.

1Kor 11:23-26  Wat ek julle oor die Maaltyd van die Here gesê het, is wat Hy self vir my geleer het: dieselfde nag wat Jesus aan sy vyande oorgegee is, het Hy aan tafel van die brood geneem 24en vir God daarvoor dankie gesê. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit vir hulle en sê: “Vat hierdie brood en eet dit. Dit is my liggaam wat ter wille van julle gebreek word. Julle moet dit eet en onthou wat Ek vir julle gedoen het.” 25Toe hulle die brood geëet het, het Jesus ook die beker met wyn geneem en gesê: “Hierdie wyn is die teken van die nuwe verbond wat God met julle maak omdat my bloed vir julle gevloei het. Drink hierdie wyn, en elke keer as julle dit doen, moet julle onthou wat Ek vir julle gedoen het.” 26Julle moet hierdie brood eet en uit hierdie beker drink totdat die Here weer kom. Elke keer as julle dit doen, wys julle vir almal dat Hy gesterf het om vir julle sondes te betaal.

Hier stuur ons Here na die, jy kan maar sê na die room van die kerk, hierdie hoogsgeleerde dinamiese man wat Hy, ons Here, in die persoon gaan voorkeer het.

Onthou jy nog?

Han 9:3-5  Hy was op pad na Damaskus toe en reeds naby die stad, toe daar skielik ’n lig uit die hemel op hom neerstraal en alles om hom verlig. 4Hy het op die grond neergeval, en toe hoor hy ’n stem wat vir hom vra: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My so?”

 5“Wie is U, Here?” het Saulus gevra.

“Ek is Jesus,” was die antwoord, “en jy is besig om My te vervolg. 6Maar staan nou op en gaan in die stad in. Daar sal jy aangesê word wat jy moet doen.”

Hier stuur ons Here hierdie man na hulle en wat doen die room van die kerk, die fondament wat die voorbeeld moet stel?

HAN 9:26 Toe Saulus in Jerusalem terug was, het hy dadelik na die ander gelowiges toe probeer gaan. Maar hulle was almal vir hom bang want hulle kon nie glo hy is nou werklik ’n aanhanger van Jesus nie.

So, ek en jy hoef nie te dink dat dit net swakkelinge is wat vrees nie, veel beter mense as ek of jy het satan al met daardie “trick” van hom gevang.

Nou is die vraag, hoe wil ons Here hê dat ek en jy na vrees moet kyk?

Nou is ek van mening en ek is seker jy sal dit ook so optel uit die voorbeelde wat ek jou gaan wys, dat ons Here met medelye en deernis na ons vreesagtigheid, of dan bangheid kyk maar dat Hy tog nie wil hê dat dit deel van ons moet wees nie.

Jy behoort mos aan Hom, Hy is mos jou God en Verlosser.

Jy kan eintlik die “ Toemaar, ek verstaan dat julle bangis” deernis in die woorde van Jesus hoor as jy hierdie verse lees:

Mat 14:27 Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat: “Nee, bly kalm,” het Hy gesê, “dit is Ek. julle hoef nie bangte wees nie.”

Jhn 20:19 Laat daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Hulle het die deur gesluit omdat hulle bang was vir die Joodse leiers. Toe kom Jesus—meteens het Hy tussen hulle gestaan en hulle gegroet: “Vrede vir julle!”

Jy sien, alhoewel God verstaan dat ons vrese kan hê en soos jy gesien het, Hy ook medelye het met ons vrese, is die doel wat ons moet najaag, om daardie vrese met Sy hulp te oorwin, want eintlik behoort vrees nie deel van ons te wees nie.

2Tim 1:7 Want die Heilige Gees wat God ons gegee het, maak ’n mens nie lafhartig nie, maar Hy gee jou krag en liefde en selfdissipline.

8Jy moet jou dan nie skaam om van ons Here te praat nie…

Heb 13:6 Daarom kan ons op Hom reken en sê: dit is die Here wat my help, en ek sal nie bang wees vir iets wat ’n mens aan my kan doen nie.

Onthou ook soos God se Woord ook sê, dieselfde Jesus wat meer as tweeduisend jaar gelede gesê het dat Sy volgelinge nie moet bang wees nie, daardie selfde Jesus staan vandag daar by jou en Hy sê presies dieselfde vir jou.

Heb 13:8 Jesus Christus bly dieselfde—gister en vandag en tot in ewigheid.

Mense kom vandag met allerlei foefies en “tricks” na ‘n mens toe maar ek sê vir jou, dat as jy werklik ‘n liefdesverhouding met Jesus het, het jy als wat jy nodig het om vrees te oorwin.

Jhn 14:1 Jesus sê toe vir sy dissipels: “Moenie verskrik word nie. Vertrou op God en vertrou ook op My.

Jhn 14:27 Die erfenis wat Ek vir julle nalaat, is ware vrede. Dit is my eie vrede wat Ek aan julle gee—nie die soort vrede wat die ongelowige mense gee nie. Moenie verskrik wees of bang word nie.

Verder sê hierdie Jesus wat altyd dieselfde bly ook nog dit:

Mat 11:28 “Kom na My toe, dan sal Ek julle rus gee, julle almal wat moeg is en swaarkry onder die laste wat julle dra.

Ook word daar van hierdie Jesus wat nooit verander nie, die volgende gesê.

Mat 12:20-21 Waar iemand se lewe gebroke is soos ’n riet wat geknak is,

sal Hy dit nie verbreek nie, en waar dit swak is soos ’n lamppit wat rook,

sal Hy dit nie beskadig nie…

21Hy sal so aanhou totdat God se oordeel die oorwinning behaal het…

Al wat ek en jy met hierdie kennis in ons hart moet doen,is:

“We must live it, if we believe it.”

Groete

Sakkie

E-pos:            bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:   www.sakkieparsons.co.za

Sel:                083 457 6669

Judas 1:24-25Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,

     aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.