DIE DOOP – DOEN ALLES IN DIE NAAM VAN DIE HERE JESUS EN DANK GOD DIE VADER DEUR HOM

DIE DOOP – DOEN ALLES IN DIE NAAM VAN DIE HERE JESUS EN DANK GOD DIE VADER DEUR HOM

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra om die volgende bevel in die Woord te verduidelik naamlik:
HAN 2:38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, …

Daar is natuurlik nog ‘n soortgelyke voorbeeld in die Woord van ons Here:

HAN 19:3-6 
3 En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes.
4 Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus.
5 En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus.  En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer (‘n bevestiging, dat Paulus hulle nie verkeerd gedoop het nie).

Nou net voor ek verder gaan, wil ek net die volgende, volgens wat ek die Woord verstaan baie duidelik stel.
Ons moet verstaan dat die doop my nie van die hel red nie.  Daar is maar net een manier om die saligheid deelagtig te word en dit is om Jesus aan te neem as my Verlosser en Saligmaker.

JHN 3:16-19 
16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
19  En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
JHN 1:13  wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

Deur die doop maak die kind van God in die openbaar ‘n verklaring aan die wêreld  wat net glo dit wat hulle sien:
“Die mens wat julle geken het is nou dood, my God het my ‘n nuwe mens geskep.  Ek het nou Jesus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker.”

Die Woord sê in die verband onder andere die volgende.

ROM 6:3 -5
3 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.
5  Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding;

Ek deel met jou een van die mooiste voorbeelde volgens my, van iemand wat die hemel in is sonder dat hy gedoop was.

Ons lees:

LUK 23:42 Hy het verder gesê: “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”
LUK 23:43 Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.”

Hier is nou ‘n paar feite aangaande hierdie moordenaar aan die kruis langs Jesus wat ek net weer aan jou wil uitwys.
Eerstens, omdat hierdie skrywe oor die doop gaan.
Die man was nie gedoop nie.
Daar is egter nog ‘n op die oog af, of dan menslike gesproke nog ‘n baie belangrike aspek van die evangelie van Jesus wat by hom ontbreek het.
Hy het ook nie sy sonde bely nie.  Hy het nie eens net ekskuus of so iets gesê nie.  Nee, hy het net gesê:
… “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”
Tog is hy vandag in die Hemel, want Jesus het sy hart gesien en Jesus het geantwoord:
“Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.”

Nee, die doop red ons nie van die hel nie maar die doop is ‘n belangrike sakrament in die evangelie van Jesus Christus.  

Vir my is die doop ‘n mededeling/verklaring/stelling in die openbaar aan alle mense en geeste en magte:

“In hierdie voorstelling van die begrafnis van my ou mens en die opstanding van die nuwe mens, getuig ek:
“Ek glo, dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het.
Ek glo dat Hy begrawe is.
Ek glo dat Hy uit die dood opgestaan het.
Ek het hierdie Jesus, God wat mens geword het, aangeneem as my Verlosser en Saligmaker. 
Die ou Sakkie is nou dood. 
Ek is nou ‘n nuwe bloedgewaste kind van God, ‘n dissipel van Jesus.”

Terug by die vraag wat aan my gestuur is.
Hier dan is hoe ek persoonlik na hierdie saak kyk en dit ook in my eie lewe uitleef:

Daar is ‘n verskeidenheid wyses wat mense doop en soos ek genoem het, jy gaan nie die hemel mis as jy verkeerd gedoop is nie. Jy gaan verseker die hemel mis as jy aan die anderkant van die graf sonder Jesus arriveer.
Dan is dit ‘n werklikheid wat ek in my eie lewe ervaar en in ander mense se lewens oor meer as 47 jaar gesien het:
Hoe nader jy aan dit wat in die Woord geskryf is leef hoe beter is jou verhouding met ons Here en hoe duideliker hoor jy die stem van Sy Heilige Gees.
Mense haal hierdie uit en verander aan daardie in die Woord en dan kry jy byvoorbeeld ‘n denominasie wie se teoloë met baie jare se studie, omdat hulle hier iets wegneem, omdat dit nie meer vandag op ons van toepassing is nie en daar verander omdat ons vandag ding nou so doen en nie hoe die eerste Christene dit gedoen het nie, dat hulle gedink het om ‘n sinode besluit te neem om ondersoek in te stel of daar ‘n satan is.  Terwyl Jesus die een is, wat as ek nou reg onthou, die Persoon is wat die meeste oor satan praat.
Die duidelikste bewys, dat ek na my bekering gedoop behoort te word, kry ons van Jesus af:

MAT 28:18-20 
18 En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.
19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Lees nou hoe het die dissipels dit gedoen na ongeveer 3 jaar se opleiding by Jesus:

HAN 2:37-39 
37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?
38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

Dan kom my groot held Paulus aan wie ons Here die grootste gedeelte van Sy Nuwe Verbond met ons toevertrou het en hy doop as volg:

HAN 19:3-6  (ek herhaal hierdie gedeelte uit die Nuwe Lewende Vertaling)
3 “Met watter doop is julle dan gedoop?” het hy gevra.  Hulle het geantwoord:  “Met die doop van Johannes.”
4  Paulus sê toe:  “Johannes se doop was ‘n bevestiging dat ‘n mens jou van jou sonde bekeer het tot God.  Johannes het self vir die volk gesê hulle moet in Jesus glo, dié Een wat hy gesê het ná hom kom.
5  Toe hulle dit hoor, het hulle hulle in die Naam van die Here Jesus laat doop.
6  Toe Paulus sy hande op hulle sit, het die Heilige Gees op hulle gekom en hulle het in ander tale gepraat en geprofeteer.  (‘n bevestiging, dat Paulus hulle nie verkeerd gedoop het nie).

So wat is die Naam wat gebruik moet word by my doop?  Want vader is tog nie ‘n naam nie.  ek is ‘n vader maar dit is nie my naam nie.
Ek is ook my vader se seun maar dit is nie my naam nie.
Ek was ook ‘n evangelis maar dit is nie my naam nie.
Na ongeveer 3 jaar se opleiding het die dissipels presies geweet watter naam hulle moes gebruik toe Jesus vir hulle sê:

MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam (enkelvoud) van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Ek kon nou nog regtig baie meer oor hierdie onderwerp geskryf het maar die gedagte uit die Woord is al klaar taamlik lank.  So ek sluit af met die volgende:

HAN 4:12  En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.
HAN 4:13  En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken. (want die ware evangelie van Jesus Christus is so eenvoudig, dat ‘n kind dit kan verstaan, as ook eenvoudige mense soos Petrus, Johannes en ek.)

Ek het my laat doop in die Naam van Jesus Christus.  Want by dit alles wat jy nou gelees het, lees ek ook:

KOL 3:17  En wat julle ook al doen in woord of in daad, (in hierdie geval, die daad van my doop) doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Groete,
Sakkie