DIE EEN PLEK WAAR JESUS NIE SONDER JOU TOESTEMMING GEVIND SAL WORD NIE

DIE EEN PLEK WAAR JESUS NIE SONDER JOU TOESTEMMING GEVIND SAL WORD NIE

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my, in wat hier op neergekom het:
“Waar was Jesus  vir die drie dae na Sy kruisiging? Wat is jou opinie?”

Hier dan is hoe ek in my hart die antwoord op hierdie vraag uit die Woord sien en verstaan.

Die eerste wat ek moet verstaan is – wie hierdie Jesus wat aan die kruis gehang het werklik is. Ek sê “is,” want sien, Jesus wás nie, HY IS.

Die Woord, God se Woord, sê onder andere van hierdie Jesus wat aan die kruis gehang het, die volgende:

JHN 1:1-5 
1 Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.  Die Woord was by God,, en die Woord was self God.
2  Hy was reeds in die begin by God.
3  Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.
4  In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense.
5 Die lig verlig die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.

JHN 1:14  En die Woord het mens geword en by ons kom woon.  Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ‘n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

OPB 1:7  Kyk, Hy kom met die wolke!  Elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; al die nasies op aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!
OPB 1:8  “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. (Jesus Christus)

So waar was hierdie Jesus, God Almagtig, wat alom-teenwoordig is en wat ‘n mens se gestalte aangeneem het?
Waar was Jesus nadat Hy Sy menslike liggaam verlaat het en hulle Sy menslike liggaam in ‘n graf verseël het?

Wel  – ek weet van twee plekke, om menslike terme te gebruik, waar Jesus gewees het, wat ek in die Woord lees.

Ek sê “om menslike terme te gebruik,” want eintlik is God almagtig, alom-teenwoordig, mos presies dít. Hy, die almagtige, alwetende en alom-teenwoordige God, is presies dit.  Hy is in Sy almag, alwetend en alom-teenwoordig.

So, as ek met jou deel wat die Woord vir ons noem waar Hy spesifiek was, is dit maar net dat die Woord vir ons, met ons menslike verstand, die plekke noem.

Hoekom die Woord hierdie twee plekke vir ons uitsonder, noem verskillende teoloë verskillende redes en dit is ook nie nou hier ter sprake nie. So, ek noem vir jou die twee plekke soos ek dit uit die vraag aan my verstaan. Die eerste plek wat vir ons genoem word is die paradys:

LUK 23:39-43
39 Een van die misdadigers wat daar gehang is, het Jesus aanhou beledig deur te sê:  “Is jy dan nie die Messias nie?  Red jouself en ook vir ons!”
40  Die ander een het hom egter bestraf en gesê:  “Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan!
41  Ons het dit terdeë verdien, want ons ontvang straf vir die dinge wat ons gedoen het.  Hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”
42  Hy het verder gesê:  “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”
43  Jesus se antwoord was:  “Ek verseker jou, jy sal vandag nog saam met My in die paradys wees.”

Die tweede plek waarvan ons in die Woord lees van waar Jesus was, wat ek aan jou wil noem, is die volgende:

1 PET 3:18  “Ons moenie dink dis net ons wat onverdiend ly nie. Ook Christus het só gely toe Hy vir eens en vir altyd vir ons sondes gesterf het. Hy het nooit enige sonde gedoen nie, maar Hy het vir sondaars gesterf om julle by God te laat tuiskom.  Wat Sy liggaam betref, het Hy gesterf, maar deur die Gees is Hy lewend gemaak.
1 PET 3:19 Só het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en Sy oorwinning daar aangekondig.”

Dit is dan die twee plekke waar Jesus was, wat die Woord spesifiek wil hê dat ek en jy van moet kennis neem. Hy was, met ander woorde, by die plekke wat, om dit so te stel, in die heelal die grootste van mekaar verskil en seker ook maar die verste van mekaar verwyderd is, maar hoe kan dit dan ook anders, Hy is mos die alom-teenwoordige God.
Hy was, om dit so te stel, by die heel beste plek in die heelal asook by die heel slegste plek in die heelal waarvan ons weet.

Daar is egter een plek in die heelal waar Jesus nooit sal wees, tensy die mens Hom toelaat om daar te wees nie, en dit is die hart van die mens.

Al het Hy ons, die mens, só lief dat Hy aan die kruis gaan hang het om dit vir ons moontlik te maak om Hom in daardie plek toe te laat – sal Hy Homself nie op ons afdwing nie.

Nee, Hy – God Almagtig – forseer Homself nie op ons af nie, Hy staan by die deur van jou en my harte en ons wat vir Hom ons hart oopgemaak het, met ons wil Hy dan die wonderlikste liefdesverhouding hê, en as ons Hom toelaat, sal dit ook verseker so gebeur.
Ons lees:

OPB 3:20  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy My stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan (dan en dan alleen) en ons sal die fees-ete saam geniet (ons sal ‘n wonderlike goddelike liefdesverhouding hê).
OPG 3:21  Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek toelaat om saam met My op my troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met my Vader op Sy troon sit.

Hoe groot is ons Here se liefde nie!

Hy is Alomteenwoordig –  maar as jy nie jou hart vir Hom oopmaak nie, sal jy Hom nie in jou hart vind nie, omdat Hy Homself nie op jou of my gaan afforseer nie.

Kyk net watter groot Verlosser en Saligmaker van die wêreld dien ek en elke ander Christen wat ons harte vir Jesus oopgemaak het, en Jesus so aangeneem het as Verlosser en Saligmaker. Want, ten spyte van die volgende werklikheid:

JES 53:3-5 
3 Hy was verag en verwerp deur mense, iemand wat leed en pyn geken het soos iemand vir wie mense die gesig wegedraai, ‘n man van smart en bekend met hartseer.  Hy was verag, maar ons het nie omgegee nie.
4  Tog was dit ons swakhede wat hy gedra het.  Hy het swaar gedra aan ons pyn.  Ons het al die tyd gedink hy ly omdat God hom straf.
5  Hy is geslaan en gepynig ter wille van ons sondes.  Hy is gestraf sodat ons in vrede kon leef.  Hy is geslaan sodat ons gesond kon word.

Ja, ten spyte van dit alles wat jy nou gelees het wat Hy in Sy menslike liggaam deurgemaak het, ten spyte daarvan – klop Hy aan die deur van ons harte en as ons Hom daar wil hê, sal ons die deur van ons hart vir Hom moet oopmaak, anders gaan ons sonder Hom die ewigheid in.

Ag, verdra my tog maar as ek nog ook die volgende met jou deel, sodat jy tog net mooi kan insien hoe groot is die liefde waarmee Hy wag dat jy jou hart vir Hom oopmaak:

ROM 5:7-9 
7 “'n Persoon sal kwalik bereid wees om vir 'n regverdige mens te sterf. Miskien sal iemand nog kans sien om vir 'n besonder goeie mens te sterf.
8  God laat blyk Sý liefde vir ons egter daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was.
9  Ons is nou vrygespreek deur Jesus se dood. Hoeveel te meer sal Hy ons nie, deur Jesus, verlos van die toekomstige oordeel nie!”

Kan jy sien waarom ek altyd wanneer ek aan mense se ideoloë en aan ander gelowe dink, saam met die Psalmdigter in ekstase wil uitroep:

PSM 86:8   Daar is nie ‘n god soos U nie, HERE.  Niemand kan U werke naboots nie.
PSM 86:9   Al die nasies wat U gemaak het, sal kom en voor U neerbuig, HERE,  hulle sal U Naam verheerlik.

My groot held Paulus beaam dit wat jy nou gelees het, wanneer hy skryf:

FIL 2:9-11 
9 “Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam.
10 So sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig,
11 en elke tong sal erken:  “Jesus Christus is Here!”

Deur hierdie skrywe kom Jesus, hierdie Jesus wat alom-teenwoordig is, maar nie sonder uitnodiging in jou hart sal ingaan nie, en Hy sê:

OPB 3:20  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As jy my stem herken en die deur oopmaak, sal Ek na jou toe ingaan en ons sal die fees-ete saam geniet.
OPB 3:21 Die een wat aanhou oorwin, hom sal Ek toelaat om saam met My op My troon te sit, net soos Ek oorwin het en saam met My Vader op Sy troon sit.”

Groete,
Sakkie