DIE GEBOEIDE ENGELE WAT REEDS IN DIE HEL IS

DIE GEBOEIDE ENGELE WAT REEDS IN DIE HEL IS

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra die volgende en ek plaas die vraag hier in my eie woorde:
As daar bose geeste, of dan satan se engele om ons is, wie is dan die  engele van 2PET 2:4 en Jud 1:6 wat in die hel gegooi is en daar sal bly tot by die groot oordeel?

Lees net gou die twee gedeeltes wat ter sprake is:

2PET 2:4  Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;

JUD 1:6  En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;

So ver my kennis strek, wys die Woord nie, om dit so te stel, die vinger reguit na hierdie of daardie engele / geeste en sê, dit is hulle wat in die helse tronk geboeid sit nie -maar, so glo ek, ook in hierdie geval, soos in so baie ander gevalle as jy die Woord bestudeer, kan ons tog na my mening agterkom wie hulle is.
Na my mening lees ons van Hulle in GENESIS 6 vanaf vers 1

GEN 6:1-4 
1 Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is,
2  sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.
3  Toe sê die HERE: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd en twintig jaar.
4  In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.

Ek glo, dat ons Here hulle in die hel laat opsluit het, sodat hulle nie weer kan doen wat hulle gedoen het nie en sommer terselfdertyd ‘n boodskap aan satan en al sy ander engele deur te stuur, dat die tyd wat hulle het, alhoewel hulle in term van die ewigheid min tyd het,ook daardie tyd summier tot ‘n einde sal kom vir diegene onder hulle wat hulleself aan dieselfde soort vergrype sou skuldig maak – as dit wat die engele gedoen het, wat reeds in die hel geboeid sit.
Na my persoonlike mening, onderstreep Petrus my siening as hy, net nadat hy oor hierdie gevange engele in 2PET 2:4  geskryf het, hy net in die volgende vers skryf:

2PET 2:5  en die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het;

Hoekom sê ek dat, met hierdie skrywe van 2PET 2:5 net na dit wat hy in 2PET 2:4 geskryf het, onderstreep Petrus, om dit so te stel, wat ek sê?
Want net nadat ons in Gen 6:1-4 van die vergrype van hierdie engele gelees het, lees ons:

GEN 6:5-9 
5 Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was,
6  het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.
7  En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het.
8  Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE.
9  Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ‘n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.

Dan volg die geskiedenis van Noag en die groot vloed, waardeur die mens en al die diere wat op land gelewe het, wat nie saam met Noag gewees het nie,  verdrink het.

Om dan op te som:

Die Woord sê nie direk, in elk geval nie vir my nie, presies wie die geboeide engele in die hel is nie en hoekom hulle daar geboeid sit en wag om veroordeel te word nie maar persoonlik glo ek dit is die engele waarvan in GEN 6:1-4 gepraat word.

Uiteindelik egter is dit nie so belangrik dat ek weet wie daardie engele is en wat hulle gedoen het nie, anders sou dit vir my duidelik in die Woord geskryf gewees het.

Wat egter baie, baie belangrik is, is dat ek weet, dat ek nie die ewigheid na my lewe
hier op aarde saam met daardie engele in die hel hoef deur te bring nie.

Dit is vir ons Here só belangrik dat ek dit weet, dat ons Here baie, baie duidelik vir ons in Sy Woord laat skryf het, wat Jesus gedoen het om dit vir my moontlik te maak, om dieselfde lot as wat hulle nou reeds het vry te spring as ek uit hierdie lewe uittree.

Nie net het ons Here vir my baie duidelik laat skryf, wat Jesus gedoen het om my van die hel te red nie – maar Hy het net so duidelik in Sy Woord vir my laat skryf, wat ek kan verwag, as ek my rug draai op Sy uitreik deur Jesus na my:

JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

Ten spyte van wat sommige, wie hulle self nogal uitgee as groot Teoloë sê, dat daar nie ‘n hel is nie, verstaan ek uit Jesus se woorde dat daar baie mense vandag lewe, wat daardie engele gaan geselskap hou.  Nie dat, so lyk dit vir my daar baie gesels gaan word nie.

MAT 13:41-43 
41 die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen,
42  en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
43  Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.

As jy nog nie Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie, reik ons Here deur hierdie skrywe weer uit na jou.

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
OPG 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

As jy nou besluit het, dat jy jou hart se deur vir Jesus oopmaak, soek jy ‘n Christelike gemeente wat die hele Bybel as die onfeilbare Woord van ons Here aanvaar en jy woon so gou as moontlik een van hulle dienste by, maak kennis met die herder/leier van daardie gemeente en maak ‘n afspraak met hom sodat jy verdere leiding kan ontvang.

Groete,
Sakkie