DIE GOUE LEWENSREËL

DIE GOUE LEWENSREËL

Sakkie Parsons

Ek het met iemand gedeel oor hoe Christene soms willens en wetens onchristelik teenoor ander Christene optree en ek deel graag met jou die gedagtes wat by my opgekom het.

Ek wil ook net noem, dat soos wat jy sal sien, geld die Bybelse oplossing vir dit wat ek nou met jou gaan deel uiteindelik vir my optrede teenoor elke mens met wie ek te doen kry.

As ek na sommige Christene se optredes teenoor ander Christene kyk, wil ek amper dink, dat daar Christene is wat dink dat hulle geheel en al, selfs deur ons Here  onaantasbaar is.

Dit kan werklik net dit wees, of, dat al sê hulle dat hulle Christene is, hulle nie regtig diep in hulle harte glo, dat daar ‘n Almagtige, alomteenwoordige, alwetende God is nie.  ‘n God wat álles weet wat in hulle harte omgaan en álles sien wat hulle doen nie.

Dit is vir my verstommend hoe Christene soms teenoor ander Christene kan optree, wetende, dat daardie mens teenoor wie hulle nou so lelik is, net soos hulle ook een van ons Here se kinders is en dit skynbaar hulle nie ‘n bloue duit skeel hoe ons Here nou oor hulle optrede voel nie en dat hulle skynbaar ook redeneer, dat ons Here maar passief gaan toekyk, dat hulle sê en doen wat hulle sê en doen.

Wel ek is jammer om diegene wat so redeneer se “bubble” te bars.

As ek onchristelik optree teenoor een van ons Here se kinders – vir wie Hy aan die kruis gaan hang het en hulle Hom aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker, moet ek weet –  Daar gaan gevolge vir my wees.

Ons Here gaan my nie oorsien omdat ek een van Sy kinders is nie.

Ons Here het my nie liewer as my mede-broer en suster teenoor wie ek onchristelik optree       nie en wat vir my broer en suster geld, geld ook vir my.

Met alles wat ek nou geskryf het in gedagte, deel ek met jou die volgende:

Ons lees byvoorbeeld in die Woord:

NUM 14:18  ‘Die HERE word nie gou kwaad nie.  Sy liefde kan sonde en oortreding verdra.  Hy laat sonde egter nie ongestraf bly nie.  Hy hou dit wat die ouers verkeerd gedoen het nog teen die derde en vierde geslag daarna.’

Sien jy?

NUM 14:18  ‘Die HERE word nie gou kwaad nie.  Sy liefde kan sonde en oortreding verdra…

Dit is Wonderlik en hoe groot is ons Here se liefdevolle genade nie, dat ons so ‘n liefdevolle God dien maar ons moet nie vergeet nie:

NUM 14:18  … Hy laat sonde egter nie ongestraf bly nie …

Ek deel met jou die volgende om te demonstreer, so glo ek hoe dit werk, as ons Here vir ons in Sy Woord sê: (Ek herhaal dit hier uit die 1953 Vertaling)

NUM 14:18  … maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie.

Dawid het ‘n verskriklike sonde gepleeg, wat hom uiteindelik ‘n egbreker en ‘n moordenaar  gemaak het.  Jy kan die geskiedenis hieroor gaan lees van af 2 SAM 11:2 

Dawid het op die ou einde groot en opregte berou gehad oor die verskriklike ding wat hy gedoen het maar daar was verskriklike nagevolge vir hom oor wat hy gedoen het.

Ja, hy het werklik berou gehad maar sy optrede het gevolge vir byvoorbeeld die geliefdes van Uría vir wie hy laat vermoor het gehad en daarom moes Dawid ook leer:

NUM 14:18  … maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. …

Ja, Dawid was ook nie sonder meer vrygespreek nie.

Ons lees van sy kind by Bátseba die vrou van Uría vir wie hy laat vermoor het:

2SAM 12:18  Op die sewende dag het die kind gesterf.  Dawid se amptenare was bang om dit vir hom te vertel.  “Toe die kind nog gelewe het, het ons met die koning gepraat, maar hy wou nie vir ons luister nie,” het hulle gesê.  Watter onverantwoordelike ding sal hy dalk doen as ons hom vertel dat die kind dood is?”

Ek weet van ‘n geval, waar iemand wie ek goed ken en ek noem die persoon hier Jan, ‘n honderdduisend rand van iemand gesteel het maar niks kon bewys word nie.

Daar was verskriklike gevolge vir die persoon van wie die geld gesteel was.

Jan, wie die geld gesteel het, het later, so lyk dit vir my, as ek so tussen die lyne lees,  werklik berou gehad oor wat hy gedoen het maar hy het ook ‘n verskriklike pad gestap.

Net soos wat daar nog steeds letsels in die persoon se geliefdes se harte is van wie hy die geld gesteel het.

Jy sien –

My slegte of dan verkeerde optrede teenoor ‘n ander kind van ons Here, het gevolge vir daardie kind van ons Here, waarvan ek soms nie eens van weet nie, maar ons Here sien en weet dit en ek mag dalk later berou hê oor wat ek gesê of gedoen het maar daar gaan verseker gevolge vir my wees.

Net soos wat daar in my optrede vir daardie kind van ons Here gevolge gewees het en dalk nou nog vir daardie kind van ons Here gevolge is.

So, ek moet baie versigtig wees hoe ek teenoor my mede broer of suster in die geloof optree, terwyl ek van beter weet.

Luister hierna:

GAL 6:7  Moenie ‘n fout maak nie.  God laat nie met Hom spot nie:  Wat mense saai, sal hulle ook maai!

GAL 6:8  Hulle wat op die land van hulle sondige geaardheid saai, sal op grond daarvan die dood oes, terwyl hulle wat op die land van die Gees saai, op grond daarvan die ewige lewe sal oes.

Paulus gebruik hier die handeling van saai, omdat dit so werk:

As jy ‘n koringkorrel saai, gaan jy ten minste ‘n koring aar maai.

Net so gaan dit met die goed of sleg wat ek sê of doen.  Die een of ander tyd gaan ek oes, selfs al wil ek soms nie oes nie en die oes gaan veel groter wees as wat ek gesaai het.

Kyk nou net hoe wonderlik heerlik is die oplossing wat Jesus ons gee, sodat ons nooit hoef bekommerd te wees, oor wat ons aan ons broer of suster, of wat dit aanbetref, aan ons medemens doen of vir hulle sê nie.  Met ander woorde, wat ons saai nie:

Die goue lewensreël

MAT 7:12  “Doen vir ander alles wat julle graag wil hê hulle vir julle sal doen.  Dit is die kern om alles wat die wet en die profete van julle vra.”

Kyk ook net hoe heerlik eenvoudig som Jesus hierdie “wet en die profete” vir jou en my, Sy kinders op:

MAT 22:36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”

MAT 22:37 Jesus se antwoord was:  ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’

MAT 22:38 Dit is die eerste en belangrikste opdrag.

MAT 22:39 Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

MAT 22:40 Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoof gebooie.”

Daarom kon my groot held Paulus dan ook skryf:

ROM 13:9  “Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.”

So my vriendin en vriend, geliefde in ons Here,

Wil jy net goeie gevolge hê vir dit wat jy teenoor jou broer en suster en ook alle ander mense wat jy teëkom sê of doen?

Met ander woorde, wil jy rustig slaap oor dit wat jy gesaai het, hoe dit wat jy gaan oes in jou lewe manifesteer?

1953 Vertaling:

MAT 7:12  Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.