DIE HEMEL EN AARDE SAL VERBYGAAN, MAAR MY WOORDE SAL NOOIT VERBYGAAN NIE

DIE HEMEL EN AARDE SAL VERBYGAAN, MAAR MY WOORDE SAL NOOIT VERBYGAAN NIE

Die Woord van GOD bly altyd nuut

Sakkie Parsons

Ek antwoord iemand vandag op ‘n vraag en in my opstel van my antwoord, kom ek toe weer op hierdie gedeelte in die Woord af wat ek graag met jou deel.

Is dit nie wonderlik nie –  en ek weet jy het dit ook oor en oor in jou lewe gesien:

As kind van God, met Sy Heilige Gees inwonend in jou en omdat jy daarom Sy Heilige Gees in jou hoor, as hy met jou praat, lees jy ‘n gedeelte uit die Woord, en jy kry ‘n sekere boodskap van ons Here daaruit.

By ‘n ander geleentheid lees jy presies dieselfde gedeelte, en ons Here wys iets aan jou uit daardie gedeelte wat jy nie die vorige keer gekry het nie.

Heel aan die begin van my kindskap van ons Here, het my een mentor hierdie heerlike fenomeen so verduidelik:

Hy het aan my gesê:

“Ou Sakkie, God se Woord is oud maar altyd nuut.”

Somtyds is daar mense wat aan my skryf en wil redeneer en wat hierdie of daardie in die Woord wil verander, of wil afmaak, dat dit nie meer vandag van toepassing is nie – en ek het al ‘n paar keer mense in die verband geantwoord en omdat niemand my natuurlik uit die Woord kon wys dat ek verkeerd is nie, was die beste wat van hulle nog kon doen is om iets soos die volgende te sê:

“Wel dit is hoe ek dit sien.”

Wat hulle egter eintlik sê is:

“Wel dit is hoe ek dit wil sien en dit is hoe ek dit gaan verkondig.”

Dit egter nou daar gelaat.

Ek merk weer vandag in hierdie gedeelte van die Woord, dat die eerste evangeliste, reg van die absolute begin af, toe Paulus en die ander nog besig was om die Nuwe Testament van Jesus op skrif te sit, reeds met hierdie boosheid te doen gehad het en wat so heerlik wonderlik is –

Die beste wat hulle kon doen, is soos mense vandag nog vir my ook sê:

“Wel dit is hoe ek dit sien.”

Want vir nou al meer as 2,000 jaar probeer hulle dit verander, of uit te haal – maar daar staan dit geskrywe:

MAT 24:35  “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.”

Die gedeelte waarvan ek praat en met jou wil deel is die volgende:

2 PET 3:14-16 

14 Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.

15  En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het,

16  net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, (gewoonlik, omdat hulle dit nie wíl verstaan nie. Omdat hulle dit nie soos ‘n gelowige kind van ons Here wil verstaan nie) wat die ongeleerde en onvaste mense (dit is mense, ongeleerd en onvas in die Gees) verdraai, net soos die ander Skrifte, (omdat hulle net nie hou van wat hulle lees nie, omdat dit nie inpas by hulle soort evangelie nie) tot hul eie verderf.

My siening van Petrus se siening en respek vir Paulus verdiep nog meer as ek onthou, dat eerstens, Petrus was seker al teen daardie tyd die moderator van die kerk en tweedens, Paulus het hom by geleentheid aangespreek oor wat volgens Paulus, by wie niks ‘grys’ was nie maar alles is ‘wit of swart’, wat vir Paulus, as ek Galasiërs 2:11 lees, Petrus deur sy verkeerde optrede veroordelend gestaan het, en toe volg Barnabas vir Petrus, wie die voorbeeld gestel het:

GAL 2:11-18 

11 Maar toe Petrus in Antiochíë gekom het, het ek hom openlik teëgestaan, omdat hy veroordeeld gestaan het.

12  Want voordat sommige van Jakobus af gekom het, was hy gewoond om saam met die heidene te eet; maar ná hulle koms het hy hom teruggetrek en hom eenkant gehou uit vrees vir die wat uit die besnydenis is.

13  En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Barnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins.

14  Maar toe ek sien dat hulle nie reguit loop volgens die waarheid van die evangelie nie, het ek vir Petrus in teenwoordigheid van almal gesê: As jy wat ‘n Jood is, soos ‘n heiden lewe en nie soos ‘n Jood nie, waarom dwing jy die heidene om soos Jode te lewe?

15  Ons wat van nature Jode en nie sondaars uit die heidene is nie,

16  terwyl ons weet dat die mens nie geregverdig word uit die werke van die wet nie, maar alleen deur die geloof in Jesus Christus, selfs ons het in Christus Jesus geglo, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof in Christus en nie uit die werke van die wet nie; omdat uit die werke van die wet geen vlees geregverdig sal word nie.

17  Maar as ons wat streef om in Christus geregverdig te word, self ook sondaars bevind is, is Christus dan ‘n dienaar van die sonde? Nee, stellig nie!

18  Want as ek weer opbou wat ek afgebreek het, dan betoon ek myself ‘n oortreder;

So van net wit of swart gepraat –

Dit was natuurlik ook Jesus se siening, al wil baie wie die Evangelie verkondig dit graag anders hê, sodat hulle hulle, hulle foefies en klein veranderinge en weglatings kan inbring.

Onthou jy?

MAT 12:30  Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.

Dan kom Jesus en onderstreep dit wat jy nou gelees het as Hy sê:

OPG 3:15  Ek ken jou werke, dat jy nie koud  en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!

OPG 3:16  Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.

Al was Paulus se uitganspunt dwarsdeur sy bediening, dwarsdeur al sy ontberinge en uiteindelik ook deur die tronk in Rome na die plek waar hulle, volgens oorlewering,  sy kop afgekap het: Die Woord, net die Woord en niks anders as die Woord nie,” was hy en Petrus so glo ek, groot vriende van die dag af dat hy uitgereik het na Petrus, en Petrus die voormalige Christen-vervolger en Christen moordenaar met ope arms ontvang het:

GAL 1:18-24 

18 Vervolgens, drie jaar daarna, het ek na Jerusalem opgegaan om met Petrus kennis te maak en vyftien dae by hom gebly;

19  en ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.

20  En wat ek julle skryf—voor die aangesig van God, ek lieg nie!

21  Daarna het ek gekom in die streke van Sírië en Cilícië;

22  en ek was persoonlik onbekend by die Christelike gemeentes van Judéa;

23  hulle het net gehoor: hy wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy vroeër besig was om uit te roei.

24  En hulle het God verheerlik in my.

Natuurlik sukkel ons almal, wie eerlik in ons uitlewe van Jesus se Evangelie is, om in ons geloof nie kompromieë aan te gaan nie – maar ons mag nooit ophou, om dit so te stel, om op te hou sukkel om nié kompromieë aan te gaan met die wêreld nie.

Veral mag ‘n kind van ons Here, nooit so brutaal boos, arrogant en verwaand word, dat jy die laaste, dit is die Nuwe Testament van God wat mens geword het, wat Hy opgestel het, te neem en hier ‘n verandering aan te bring en daar ‘n streep deur te trek nie.

Natuurlik doen hulle, wie in die gees ongeleer en onvas is (dit is nie my woorde nie maar dit is Petrus se woorde) saam met satan en sy gesante dit –  maar jy en ek en almal wie probeer om nougeset volgens ons Here se laaste Testament, die Nuwe Testament, die Evangelie uit te lewe en verkondig, moet ons, ons  van daardie mense se boosheid distansieer – en hoe wonderlik, het, en sal gebeur wat ons Here vir ons gesê het, wat sal gebeur, midde en ten spyte van al die valshede wat die kerk insluip:

MAT 24:35  “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.”

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.