DIE KENMERKE VAN ‘N WARE KERK OF GEMEENTE

DIE KENMERKE VAN ‘N WARE KERK OF GEMEENTE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Is daar iets soos ‘n verkeerde kerk?  Indien wel, hoe weet ek, ek is so kerk. Gaan ek hel toe as ek myself in so kerk bevind?”

Ek wil dan begin om die vraag aan my so effe te wysig en die rede daarvoor is, omdat satan dit al moeilik genoeg gaan maak vir iemand om ‘n gemeente te kry wat deel van die ware kerk is en daarom wil ek my bepaal om liewer oor die regte kerk, of dan die kenmerke van die ware kerk te praat en daarom gaan ek die vraag so ‘n bietjie verander naamlik:
“Is daar iets soos ‘n regte/ware kerk? Indien wel, hoe weet ek, ek is deel van so ‘n kerk?

Hier dan is hoe ek die antwoord op hierdie vraag uit die Woord verstaan.

Hoe die wáre kerk van Christus lyk word duidelik vir ons uiteengesit in die Nuwe Testament deur Jesus, die geskiedenis van die kerk se begin ens in Handelinge en dan verder by uitstek in al Paulus, aan wie ons Here die grootste gedeelte van die Nuwe Testament toevertrou het, se briewe.
So van Paulus gepraat, kyk net hoe sterk stel hy dit, dat ons moet séker maak, dat ons nie by vals prediking, of dan met die oog op die vraag aan my, by ‘n verkeerde kerk  betrokke raak nie:

GAL 1:8-9
8 Vervloek is elkeen wat ’n ander boodskap verkondig as wat ons aan julle verkondig het, (naamlik die Evangelie wat julle in die Woord van God vind) al sou dit ons self of ’n boodskapper uit die hemel wees.
9 Ek herhaal:  Vervloek is elkeen wat ’n ander boodskap verkondig as dié een wat julle ontvang het! (naamlik die een wat julle in die Woord van God vind)

Paulus noem hier iets, waaroor Jesus se Heilige Gees hom gemaan het om homself baie sterk uit te druk en ek kwoteer weer ‘n gedeelte van vers 8 en 9  maar net dit waarop ek jou aandag wil vestig.

8  … al sou dit ons self of ’n boodskapper uit die hemel wees.
9 Ek herhaal: Vervloek is elkeen wat ’n ander boodskap verkondig as dié een wat julle ontvang het! (naamlik die een wat julle in die Woord van God vind)

Jy kry vandag mense, met hierdie ongelooflike persoonlikhede en wonderlike charisma en met daardie persoonlikheid en charisma kry hulle dit reg om ‘n soort evangelie te preek wat vir hulle baie aansien en aardse rykdom in bring.
So, nog voor jy by ‘n gemeente se aanbiddingsplek instap, onthou altyd sit wat ek nou met jou gaan deel:
Om mee te begin –
As die evangelis meer uitstaan as die evangelie wat hy verkondig:  As die boodskapper daar voor agter die kansel of op die verhoog, deur sy optrede meer uitstaan as die boodskap van Jesus Christus, wees dan baie versigtig.  Want dit is deel van satan se modus operandi, om sy boodskappers selfs die voorkoms van ‘n boodskapper uit die hemel te gee.

2KOR 11:13-15 
13 Want sulke mense is vals apostels; hulle is bedrieglike werkers wat voorgee dat hulle apostels van Christus is.
14  Geen wonder nie!  Satan self gee immers voor dat hy ’n engel van die lig is.
15  Daarom is dit ook niks besonders dat sy diensknegte hulle voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Hulle uiteinde sal wees wat hulle volgens hulle dade verdien.

So, hoe kan jy weet of die gemeente waar jy gaan aanbid ‘n gemeente, of dan deel van die kerk van Christus is?

Persoonlik dink ek in hierdie tyd waar nuwe hierdie en nuwe daardie openbaringe en lerings soos paddastoele opspring sou ek die volgende wil voorstel:
Vra om ‘n kopie van die kerk of gemeente se konstitusie en vergelyk dit met die Woord.  Want die Woord is die een maatstaf wat heel eerste gebruik moet word om te sien of daardie gemeente Heilige Gees geïnspireerd is en dan kan jy ook, as jy wil na ander dinge ook kyk waarvan ek nou ‘n paar as voorbeelde sal noem maar nie nou aandag aan gaan gee nie.
Ons mag met mekaar verskil  oor die doop of ‘n mens een of drie keer onderdompel behoort te word. 
Ons mag verskil oor die manier waarop ons Nagmaal moet gebruik;  byvoorbeeld, of almal uit een beker moet drink of elkeen haar/sy eie glasie moet hê. 
Ons mag verskil, oor watter dag die Sabbat is, Saterdag of Sondag.
So kan ek aan en aan en aan gaan maar oor dít wat ek nou met jou gaan deel kan daar geen maar géén, hoegenaamd nie eens ámper ‘n kompromie aangegaan word nie:

Met die Woord dan as jou maatstaf, moet jy heel eerste die volgende daar vind:

Dat die gemeente waar jy gaan aanbid glo, dat daar een almagtige God is.  Wat die hemel en die aarde geskep het en dit in stand hou:

GEN 1:1  In die begin het God die hemel en die aarde geskape.

Hierdie gemeente moet glo en bely, dat hierdie God Almagtig, Sy enigebore Seun na die aarde gestuur het om elke mens wie Hom aanneem as Verlosser en Saligmaker die ewige lewe in die Hemel te gee, wanneer ons uit hierdie lewe die ewigheid intree.

JOH 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
JOH 3:17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

Die gemeente moet glo dat hierdie Jesus, God wat mens geword het:

JOH 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Dat hierdie Jesus God wat mens geword het, deur die bonatuurlike werking van die Heilige Gees deur ‘n maagd wat geboorte gegee het, , die wêreld ingekom het.

MAT 1:22  En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het:
MAT 1:23  Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.

Hulle moet glo, dat hierdie Jesus die enigste volmaakte offer in die heelal, Sy lewe vir ons aan die kruis op Golgota gegee het:

JOH 19:30  En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.
JOH 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Die gemeente moet glo, dat hierdie Jesus fisies uit die dood opgestaan het:

MAT 28:5-7 
5 Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.
6  Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het;
7  en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.

Die gemeente moet glo, dat hierdie Jesus letterlik sigbaar opgevaar het na die           hemel:

HAN 1:9-11 
9 En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.
10  En toe hulle nog stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan, staan daar twee manne in wit klere by hulle,
11  wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.

Die gemeente moet glo, dat Jesus weer na die aarde sal terug kom, soos wat Hy weggegaan het en al Sy kinders wat op daardie tyd nog in hierdie lewe is, Hom en al ons geliefdes sal tegemoet gaan in die lug en dat ons dan vir altyd by Hom sal wees:

1THS 4:13-18 
13 Broers en susters, ons wil nie hê dat julle in onkunde sal verkeer oor die dooies nie. Dan sal julle nie soos die ander mense treur sonder ’n toekomsvooruitsig nie.
14  Want aangesien ons glo dat Jesus gesterf én opgestaan het, moet ons ook glo dat God die dooies wat in Jesus geglo het, saam met Jesus sal terugbring.
15 Wat ons nou vir julle gaan sê, is ’n uitspraak van die Here: Ons wat bly lewe tot wanneer die Here terugkeer, het glad nie ’n voorsprong bo dié wat dan al gesterf het nie.
16 Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die hemel sal neerdaal en dat die dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan.  Dit sal gebeur wanneer die hoofengel ’n bevel gee en God se trompet weerklink.
17 Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees.
18  Troos mekaar dan met hierdie woorde.

Luister noukeurig:

1KOR 3:11 Want niemand kan ’n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus.

Jy sien, daar is géén, hoegenaamd geen ander wyse om met God almagtig kontak te maak, of uiteindelik by hom in die hemel uit te kom nie, buiten deur Jesus Christus:

HAN 4:12 “Daar is geen verlossing by iemand anders nie. Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om verlos te word nie.”

Daarom Sê Jesus, God wat mens geword het, ons Verlosser en Saligmaker dan ook self vir ons:

JOH 14:6  Jesus sê vir hom: (en vir jou en vir my) “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.

FIL 2:9-11
9 Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam.
10  Só sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig,
11  en elke tong sal bely: “Jesus Christus is Here!” En só sal God die Vader verheerlik word!

Om dan net in baie kort op te som:
Hoe kan jy weet in hierdie tyd wat ons lewe met al sy valshede, bedrog en verdraaiing van die Woord, dat jy by ‘n gemeente aanbid wat nog in wese ‘n ware Christen gemeente is?
Vra jouself hierdie vraag, nadat jy noukeurig ondersoek ingestel het:

Is Jesus Christus, God wat mens geword het…

JOH 1:1-5 
1 Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. Die Woord was by God, en die Woord was self God.
2  Hy was reeds in die begin by God.
3  Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.
4  In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig vir die mense.
5  Die lig skyn in die duisternis, ja – die duisternis het dit nie uitgedoof nie!
14  En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

Is Jesus Christus die alfa en die omega in die evangelie wat daardie gemeente verkondig?

OPB 1:7  Kyk, Hy kom met die wolke! Elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; al die nasies op aarde sal jammerlik oor Hom huil. Ja, amen!
OPB 1:8  “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. 

Ten slotte:
Jy vra:
“Gaan ek hel toe as ek myself in ‘n verkeerde kerk bevind?”

Volgens God se Woord gaan ‘n mens uiteindelik net hel toe, as jy nié vir Jesus aanneem as jou Verlosser en Saligmaker nie:

JOH 3:18  “Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.

JOH 1:12  Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
JOH 1:13 Hulle is nie deur ’n natuurlike proses gebore nie, en ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ’n man nie. Hulle is uit God gebore.

Met Jesus se Heilige Gees in jou mag jy dalk in ‘n verkeerde kerk of enige ander verkeerde situasie beland maar jy sal verseker nie daar bly nie.

Groete,
Sakkie