DIE RESEP VIR WARE SUKSES

DIE RESEP VIR WARE SUKSES.

Sakkie Parsons

Eendag gesels ‘n taamlike moedelose man met my en hy vra my:

“Waarom is niks wat ek doen ‘n sukses nie?
Waarom help God my nie?  Wil Hy my nie help nie of wat?”

Nou ken ek hierdie persoon baie goed en op die oog af lyk dit amper of sy moedelose vrae meriete het.
Want, hy het al so baie dinge aangepak om geld te maak, dat ek baie van sy pogings nie eens meer kan onthou nie. 
Omdat ek hom baie goed ken, kan ek met groot vrymoedigheid hier sê, dat in alles wat hy aangepak het, hy een baie groot fout gemaak het, hy het ons Here nie eerste gestel nie.  Om die waarheid te sê, in alles wat hy aangepak het, was hy en soms, ook sy gesin, nommer een.

In ‘n Christen se lewe is daar na my mening nie iets meer fataal om jouself aan te doen, as om jouself nommer een te maak nie.

Selfs as jy met jouself as nommer een op die oog af ‘n sukses van jou lewe maak, is die enigste sukses wat jy maak, letterlik ‘n helse groot sukses.
Met ander woorde jy is met ‘n groot sukses besig om aste ware suksesvol satan te help aan die voorbereiding van jou plek in die hel.
Want, al jou sogenaamde sukses gaan hier agterbly – terwyl jy die res van die ewigheid, tot in ewigheid in die hel gaan deurbring.

By geleentheid het Jesus wat ek nou met jou deel so verduidelik:

LUK 12:15-21  

15 Toe het Hy gesê:  “Pas op!  Moenie gierig wees vir wat jy nie het nie.  Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie.”
16  En Hy het ‘n voorbeeld gegee:  “’n Ryk man het ‘n vrugbare plaas besit wat goeie oeste opgelewer het.
17  Hy het toe by homself gewonder:  ‘Wat moet ek doen?  Ek het nie meer stoorplek vir die oes oor nie.”
18  Hy het toe gesê:  “’Ek weet!  Ek sal my skure afbreek en groter skure bou.  Dan sal ek genoeg plek hê om alles te berg.  
19  En ek sal terugsit en vir myself sê:  “My vriend, jy het genoeg gebêre vir die jare wat voorlê.  Ontspan nou!  Eet, drink en wees vrolik!’
20  Maar God het vir hom gesê:  ‘Jou dwaas!  Jy sal vannag nog sterf.  Wie sal dan alles kry?’
21  “Ja, ‘n mens is ‘n dwaas as jy net aardse rykdom versamel, maar nie ‘n ryk verhouding met God het nie.”

So, wat is die antwoord?  Of dan met respek gesê.
Wat is die resep vir ware sukses?

MAT 6:33  Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit;  dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg.

Iemand vra nou dalk:
“Hoe kan ek deur selfondersoek vasstel of ek reg te werk gaan, om in die oë van ons Here, op die regte manier sukses na te strewe?”

Dan is vir my die eenvoudigste manier om dit vas te stel –
Luister na jouself as jy bid.
Wie of wat is die eerste waaroor ek bid?

Onthou jy hoe het Jesus ons geleer om te bid?

MAT 6:9  Bid dan soos volg:  Ons Vader in die hemel, laat U Naam geheilig word.
MAT 6:10  Laat U koningsheerskappy spoedig kom.  Laat U wil hier op aarde uitgevoer word soos in die hemel.

Eers in my gebed moet dit gaan oor ons Here en Sy koninkryk.
Dán, so leer Jesus ons, dán eers bid ek vir die ander dinge.
Met ander woorde, wanneer ek die belangrikste van my dag doen –
Is ék nommer een, of is ons Hére nommer een?

Praat ek eers oor wat vir my belangrik is en dan, dalk wat vir ons Here belangrik is?

Soos die verloregaande wêreld om my, vir wie Sy Seun Golgota toe gestap het.
Jy sien, in absoluut álles wat ek dink, sê, doen en beplan, behoort ons Here nommer een te wees.
Dit na my mening is die sleutel na ware vrede.

Iemand sê:

“Ek dog jy praat van sukses, nou praat jy van vrede.”

Ek sê, dat geen sukses is sukses sonder werklike vrede nie en werklike ware vrede is maar net op een manier bekombaar.

1953 Vertaling 
MAT 6:33 Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

Wat is die heerlike, als omvattende bestanddeel van ware sukses?

JHN 14:27  “Ek laat vir julle vrede na;  My vrede deel Ek met julle.  Ek gee nie soos die wêreld gee nie.  Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie.

Hierdie resep sê nie dat jy die volgende lotto trekking gaan wen, of dat jy môre of oormôre met ‘n luukse motor gaan rondry nie, maar deel van hierdie sukses sluit in:

Mede-erfgename saam met Jesus.
Die ewige lewe.
Ook terwyl jy nog hier op aarde rond loop, vrede wat alle verstand te bowe gaan.

FIL 4:6 Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles.  Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. 
FIL 4:7  As julle so bid, sal julle God se vrede beleef.  Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink.  Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas.

So, kom ek en jy doen elke dag, wat net ‘n dwaas en hy wat ‘n helse sukses nastrewe nié sal doen nie –

MAT 6:33  .. Maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit;  dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg.

Groete,
Sakkie