DIE TONG HET MAG OOR DOOD EN OOR LEWE

DIE TONG HET MAG OOR DOOD EN OOR LEWE.

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:

“Kan u dalk verduidelik wat beteken:  ‘spreek lewe’ – en so ook die teenoorgestelde?”

Ek wil dan met die volgende kwotering uit die Woord begin:

SPR 18:21  Die tong het mag oor dood en oor lewe.  Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde.

‘n Mens se tong kan letterlik fisiese dood veroorsaak.

Dink maar aan ‘n Regter in lande waar die doodstraf nog geld en dink maar net aan al die baie gevalle in ons eie land waar woorde tussen twee mense in ‘n argument begin het en oorgegaan het in die moord op een van die twee mense.  Of waar iemand ‘n ander persoon gehuur het om iemand dood te maak.

Ek is baie seker dat jyself aan nog baie meer soortgelyke voorbeelde sou kon dink.

So verseker kan die mens se tong fisies die dood van iemand anders veroorsaak maar alhoewel ‘n mens se tong fisies werklik die dood van iemand anders kan veroorsaak, wil ek in hierdie skrywe, omdat die meeste mense wat hierdie gedagte uit die Woord gaan lees Christene is, veral met jou gesels oor hoe jy en ek, om dit so te stel, emosionele of geestelike lewe of dood oor iemand kan bring

Voordat ek by ons woorde kom wat ons praat, laat ons net gou kyk na die een en ander wat ons Here self in Sy Woord oor die mens se tong sê.

Ons lees:

JAK 3:8  maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ’n onbeheerbare kwaad, vol dodelike gif.

JAK 3:9  Partykeer loof daardie tong ons Here en Vader, en ander kere vloek dieselfde tong mense wat na die beeld van God gemaak is.

JAK 3:10 Dit beteken dat lof en vloek uit dieselfde mond kom. Dit kan tog nie so wees nie, my broers en susters!

Die meeste mense wil graag lank lewe.

Hier is iets waaraan baie mense wat so graag lank wil lewe gerus in gedagte kan hou.

Ek ken mense wat tot die uiterstes gaan om ‘n lang lewe te lewe en altyd opsoek is na die nuutste van hierdie of daardie om te help dat hulle nog lank gaan lewe.

Dit is hierdie en daardie soort pille en hierdie en daardie soort inspuitings en hierdie  en daardie wat geëet of nie geëet mag word nie.

Terwyl ons Here ons in Sy Woord twee leefwyses gee wat ‘n lang lewe waarborg.

Die eerste wat ek wys is het direk op hierdie skrywe van toepassing en die tweede een deel ek ook met jou, net ingeval jy nie daarvan weet, of meer kan onthou nie.

Die eerste dan:

PSM 34:13  Wie is die mens wat ’n lang lewe begeer, wat baie goeie dae begeer?

PSM 34:14  Hy moet sy tong weerhou van kwaad en sy lippe om leuens te vertel.

Dan die tweede wat nie op hierdie onderwerp van toepassing is nie maar net ingeval jy ‘n bietjie vergeet het en wonder waarvan ek praat:

EFE 6:1  Kinders, omdat julle aan die Here verbonde is, moet julle aan julle ouers gehoorsaam wees. Dit is mos die regte ding om te doen!

EFE 6:2  “Eer jou vader en jou moeder” is die eerste van die Tien Gebooie waaraan ’n belofte verbind is:

EFE 6:3  Sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag lewe.”

Terug by die eintlike onderwerp.

As jy mooi daaroor gaan dink, sal jyself sommer maklik self die logika agter hierdie eerste gedeelte wat ek aan die heel begin kwoteer het kan sien van:

SPR 18:21  Die tong het mag oor dood en oor lewe.  …

Daar is ‘n satan en daar is mense wat hulle deur hom laat beheer en daarom is daar ongelukkig baie mense op wie die volgende uit die Woord betrekking het:

ROM 3:13  “Hulle keel is soos ’n geopende graf.

      Met hulle tonge pleeg hulle bedrog.”

      “Die gif van dodelike slange drup van hulle lippe.”

ROM 3:14  “Hulle monde is vol vervloeking en bitterheid.”

Ek het jou reeds deur voorbeelde gewys, dat die tong, jou en my tong, fisiese moord kan pleeg.

Wat emosionele moord aanbetref – en ek gee een voorbeeld wat ongelukkig by so baie mense te bekend is.

‘n Mens kry dit byvoorbeeld soms en die tragedie daarvan is, dat dit so baie in gesinne, ook Christelike gesinne,  voorkom, dat die een lewensmaat aanhoudend vir die ander lewensmaat op die een of ander wyse vertel hoe sleg en nikswerd nutteloos sy/hy is, of dat die een of albei ouers vir hulle kind aanhoudend op die een of ander wyse vertel hoe sleg en nikswerd nutteloos sy/hy is en dit kan werklik uiteindelik op emosionele moord uitloop.

SPR 15:4  Vriendelike woorde bring lewe, bedrieglike woorde (en met ander woorde of    afbrekende woorde) ontstel (vernietig) mense.

Die 1953 Vertaling stel dit so:

SPR 14:4  Sagtheid van die tong is ‘n lewensboom, maar valsheid daarin is verbreking in die gees.

Asook:

SPR 12:18  Daar is mense wat dinge sal sê wat seermaak. (soos om iemand af te takel) ’n Wyse mens se woorde bring eerder genesing. (soos om iemand se selfbeeld op te bou)

Mense wat altyd so graag vir ander mense wil vertel hoe sleg en nutteloos ens hulle is, moet by dit alles wat ek uit die Woord tot hier kwoteer het ook onthou en hierdie woorde baie, baie ernstig opneem, terwyl jy onthou, dat dit Jesus self is wat hier praat:

MAT 12:34  “Julle nes van adders! Julle is sleg. Daarom is dit vir julle onmoontlik om goeie dinge te praat. Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

MAT 12:35 ’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn.

MAT 12:36  Dít verseker Ek julle, julle sal op die oordeelsdag rekenskap moet gee van elke onverskillige woord wat julle sê.

MAT 12:37 Op grond van wat jy nou sê, sal jy eendag vrygespreek of veroordeel word.”

Nou wil ek net iets sê vir al die kinders van ons Here wat so emosioneel deur ander mense, soms juis die mense wat na aan hulle is, so afgekraak word dat hulle werklik begin voel dat hulle so sleg is soos wat vir hulle vertel word en hulle, om dit so te stel, besig is om emosioneel te sterf.

Die satan wil deur daardie mense jou emosioneel vernietig en dit kan gebeur, as jy sy gesant en/ of gesante glo.

Luister wat sê die Woord van jou wie Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker:

JOH 1:12  Aan almal (ook jy kind van God wat hier lees) wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.  (dit is wie jy is)

JOH 1:13  Hulle is nie deur ’n natuurlike proses gebore nie, en ook nie na aanleiding van die wilsbesluit van ’n man nie.  Hulle (met ander woorde jy) is uit God gebore.

So, jy is Sy kind en van jou, Sy kind sê Hy, dat jy nie sommer net kind is nie.

Lees net hier:

ROM 8:29  Want God het hulle (ook vir jou) reeds vooruit geken, en Hy het hulle (ook vir jou) aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste Seun wees, omring deur baie broers en susters. (waarvan jy een gaan wees)

So – moet nie die mens of mense glo wat jou emosioneel so aftakel nie.

Glo dit wat God wie nie kan lieg nie, in Sy Woord van jou sê.

Ek het nou aan jou gewys dat ons tong deur ons Woorde werklik fisies kan doodmaak en as ons dit toelaat ook emosioneel kan moord pleeg.

Ek sluit dan nou af en hoe heerlik wonderlik, deur ook vir jou te wys, dat jy en ek ook geestelike dood van ander mense deur ons tong met ons woorde kan voorkom en dit is deur die evangelie van Jesus Christus aan die verloregaande wêreld om ons te verkondig.

Want jy sien –

Al die mense om ons wat om ons is wat nié vir Jesus Christus aanneem as Verlosser en Saligmaker nie, is oppad om ‘n ewige dood in die hel te sterf.

Hulle kan net lewe as hulle Jesus aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker en jy en ek het ‘n tong en die woorde om hulle van ‘n ewige dood te red!

Luister:

ROM 10:13  Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, (almal met wie jy en ek die Evangelie deel en wie dan vir Jesus Christus aanneem as Verlosser en Saligmaker) sal verlos word”.

ROM 10:14  Maar hoe sal hulle Hom aanroep as hulle nie in Hom glo nie? En hoe sal hulle in Hom glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe sal hulle van Hom hoor sonder dat daar iemand is wat die boodskap bring?

ROM 10:15  En hoe sal hulle die boodskap bring as hulle nie gestuur word nie? Daarom sê die Skrif: “Hoe lieflik klink die voetstappe van hulle wat die Goeie Boodskap bring!”

Jy en ek is na die Beeld van ons Here geskape en soos Hy, het ons, omdat ons na Sy beeld geskape is, die mag om lewe of dood uit ons mond te laat kom.

Ek sluit af met ‘n gedeelte wat ek reeds met jou gedeel het en ek wil amper voorstel, dat jy dit neerskryf en oral sit waar jy dit gereeld kan sien:

SPR 15:4  Vriendelike woorde bring lewe, bedrieglike woorde ontstel (vernietig) mense.

Groete,

Sakkie