DIE VERBORGE DINGE IS VIR DIE HERE ONSE GOD, MAAR DIE GEOPENBAARDE DINGE IS VIR ONS EN ONS KINDERS TOT IN EWIGHEID

DIE VERBORGE DINGE IS VIR DIE HERE ONSE GOD, MAAR DIE GEOPENBAARDE  DINGE IS VIR ONS EN ONS KINDERS TOT IN EWIGHEID

Sakkie Parsons

DeuT 29:29  Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.

In ‘n nuwer Vertaling, lees hierdie teks as volg:

DEUT 29:29 Daar is dinge wat geheim is omdat die Here ons God hulle nie vir ons duidelik gemaak het nie. Maar daar is ook dinge wat Hy wel aan ons en ons kinders duidelik gemaak het, en dit is hierdie wette wat Hy ons gegee het sodat ons hulle vir altyd moet gehoorsaam.

Toe ek nou weer hierdie gedeelte uit ons Here se Woord lees, dink ek daaraan:

Baie mense vra my baie vrae – en baie kan ek antwoord, en baie kan ek nie ten volle antwoord nie, en vir nog baie, dalk nog die meeste, het ek gladnie ‘n behoorlike antwoord nie.

Vir my egter is die maklikste manier om ‘n antwoord uit die Woord te kry, om die Woord met die leiding van ons Here, soos ‘n kind te lees.  Nie op ‘n kinderagtig manier soos ek ook al gesien het nie – maar kinderlik.  Op die manier kry ek die meeste antwoorde op ‘n kinderlik eerlike manier uit die Woord.

Ons Here leer ons dan ook:

Mat 18:3  en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!

By ‘n vorige geleentheid het Jesus so met Sy Vader gepraat.

Mat 11:25  In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.

Verdra my tog as ek nog een voorbeeld vir jou wys wat hierdie saak aanbetref.

Luk 18:17  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

Hoe is ‘n kindjie se hart?  Rein, nederig, vol vertroue, en so mooi ontvanklik om te leer. 

Dus lees ek die Woord met hierdie wete dat daar verborge dinge is wat net ons Here weet, maar dat Hy in Sy groot genade Homself vir ons geopenbaar het in Jesus Christus en Sy Woord vir ons gegee het – vol wonderlike openbaringe – asook Sy Heilige Gees wat ons leer en lei in alle waarheid.

ROM 16:25-26 AFR20

Lof aan God

25 Aan Hom wat magtig is om julle te versterk, volgens die evangelie van Jesus Christus wat ek verkondig, en volgens die openbaring van die misterie, wat eeue lank verswyg was

26 maar wat nou in opdrag van die Ewige God deur die geskrifte van die profete onthul en aan alle nasies bekend gemaak is, om hulle tot geloofsgehoorsaamheid te bring – 

27 aan Hom, die enigste en alwyse God, kom toe die heerlikheid deur Jesus Christus, vir ewig! •Amen.

JOH 15:15

15 ”Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat ‘n slaaf nie weet wat sy eienaar doen nie. Ek het julle egter vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.

En so het GOD aan ons baie geheimenisse geopenbaar wat eers verborge was.  Dit wat HY wou gehad het ons moes weet.

As ek nou iets raaklees in die Woord wat ek nie verstaan nie, of daar gebeur iets in my lewe wat ek nie verstaan nie – soos ons in Afrikaans sê: “As ek die kloutjie nie by die oor kan bring nie.” Dan sê ek net: 

“Prys die Here!  Want, Hy weet gelukkig alles – en ek is in Sy hand, en ek kwoteer vir myself dit wat my groot held Paulus in die verband gesê het:

1KOR 13:12  Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.

Gedagtes uit die Woord wat hierby aansluit wat op my Webtuiste beskikbaar is onder die afdeling „Bediening“ of wat ek met graagte op aanvraag vir u per epos sal aanstuur is:

„Wie sou as GOD se raadegewer kon optree?“

„Hoe heerlik, jy en ek is vry“

Profesieë aangaande JESUS CHRISTUS in die Ou Testament

Waarom sou ek hoegenaamde my God, my Skepper , my Verlosser en Saligmaker, wil bevraagteken?

God se Woord is die Waarheid en die Antwoord op elke vraag.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.