DIE VERBORGE MANNA EN DIE GEGRAFEERDE WIT KEURSTEEN – DEEL 1

DIE VERBORGE MANNA EN DIE GEGRAFEERDE WIT KEURSTEEN – DEEL 1

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:
“Ek sal baie graag wil hoor hoe verduidelik of verstaan ek Openbaring 2 vers 17.”

Ek verduidelik dan in hierdie, die eerste van twee gedagtes uit die Woord, hoe ek die verborge manna in Openbaring 2:17 met die lig tot my beskikking onder leiding van die Heilige Gees verstaan.

Openbaring het tot stand gekom in ‘n tyd waar daar van die wreedste vervolging van die Christene plaasgevind het.
Dit is belangrik dat jy dit sal onthou terwyl ek met jou oor hierdie gedeelte deel.
Johannes is ‘n gevangene op die eiland Patmos, as hy Openbaring van ons Here ontvang.

OPB 1:9  Ek is Johannes, julle medegelowige. Deur ons hegte verhouding met Jesus deel ons saam in die swaarkry, maar ook in sy heerskappy en in die volharding.
Dit het gebeur dat ek op die eiland Patmos beland het omdat ek die boodskap van God en die getuienis wat deur Jesus gelewer is, gepreek het.

Volgens die geskiedskrywer Phinius, was die eiland Patmos die plek waar ‘n strafkolonie vir gevaarlike staatsgevangenis gewees het.
Dit is dan nou teen hierdie agtergrond, dat ek lees:

OPB 2:17  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ‘n wit keursteen, en op dié steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.

Kom ons kyk dan nou gou eers in hierdie eerste skrywe van ‘n reeks van twee na die “weggesteekte” of dan verborge manna.

Die eerste manna waarvan ons lees, was die manna wat die Israeliete in die woestyn van ons Here ontvang het:
Ons lees:

EKS 16:4  Toe het die Here vir Moses gesê: “Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie.

EKS 16:31  Die Israeliete het die kos manna genoem.
Dit was wit soos koljandersaad en het soos heuningkoek gesmaak.

Die eerste manna het uit die Hemel op die Israeliete neergedaal en hierdie weggesteekte, of dan verborge manna wat hier van gepraat word het ook uit die Hemel neergedaal en ons lees in hierdie verband:

JOH 6:47-51 
47 “Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe.
48  Ek is die brood wat lewe gee.
49  Julle voorvaders het in die woestyn manna geëet en tog gesterf.
50  Hierdie is die brood wat uit die hemel gekom het sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie.
51  Ek is die brood wat lewe gee, wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe. En die brood wat Ek beskikbaar sal stel, is my liggaam. Dit doen Ek ter wille daarvan dat die wêreld kan lewe.”

Jy en ek herdenk hierdie groot heerlike waarheid elke keer wanneer ons Nagmaal gebruik:

1KOR 11:23-26 
23 Dít is wat die Here self gesê het en wat ek destyds aan julle oorgedra het net soos ek dit ontvang het. In die nag waarin Jesus verraai is, het Hy brood geneem
24  en nadat Hy God gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam, dit is vir júlle. Gebruik dit ter herinnering aan My.”
25  Net so het Hy die wynbeker ná die maaltyd geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond wat verseël is deur my bloed. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, ter herinnering aan My.”
26  Want elke keer as julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die Here se dood totdat Hy terugkom.

Johannes skryf hierdie Woorde in OPB 2:17 eerstens aan die 7 gemeentes in Asië en hulle het goed begryp waarvan Jesus hier deur Johannes praat, maar Jesus praat hier ook met jou en my en vir ons, net soos vir die 7 gemeentes in Asië,  is hierdie Manna naamlik Jesus Christus nie weggesteek of verborge nie, maar wat derduisende mense om ons aanbetref, kan hierdie grootse heerlike groot waarheid net sowel in ‘n kruik op Mars weggesteek wees.

Juis oor dáárdie rede het Jesus vir ons, Sy dissipels gesê:

MAT 28:19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
MAT 28:20  Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

So, kom jy en ek maak seker dat hierdie Manna naamlik Jesus Christus, wat satan vir die wêreld wil wegsteek, by soveel as moontlik mense uitkom, omdat ons weet:

JOH 14:6  Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

(Deel 2 vervolg)

Groete,
Sakkie