DIE WET DEUR MOSES EN DIE GENADE EN WAARHEID DEUR JESUS

DIE WET DEUR MOSES EN DIE GENADE EN WAARHEID DEUR JESUS.

Sakkie Parsons

Van tyd tot tyd skryf mense aan my omdat hulle met my verskil.
Hoofsaaklik plaas ek hierdie mense in drie groepe.
Eerstens is daar dié wat op ‘n baie mooi Christelike wyse met my deel waarom hulle met my verskil.
Dan is daar diegene wat met ‘n skyn van mooi Christelikheid vir my vertel hoekom hulle met my verskil en op amper nog ‘n mooier skyn van Christelikheid vir my vertel dat ek ‘n valse profeet en vol duiwels is.
Dan is daar die groep, darem en dankie tog daarvoor, nie baie nie, wat sommer vieslik is en sommer vloekwoorde ook sal gebruik om my te vertel wat hulle van my en my bediening dink.

Hier is my antwoord op ‘n skrywe wat ek ontvang het, waar ek, om dit so te stel, tereggewys was oor my sienswyse van die sabbat en so lyk dit vir my sommer ‘n hele klomp ander dinge wat in die wet van Moses voorkom, wat ek verkondig nie op ‘n Christen van toepassing is nie.

Ek wil net noem dat die meeste gevalle wanneer mense met my verskil, is wanneer ek iets skryf oor my sienswyse oor my naaste, die sabbat en tiendes. Dit ongelukkig is natuurlik nie al waaroor ek van tyd tot tyd die kop gewas word nie.
In hierdie antwoord aan die persoon probeer ek toe weer wys dat die wet van Moses soos ek die Woord verstaan, nie op ‘n Christen van toepassing is nie.
Amper vergeet ek. Hierdie persoon het darem nie in die derde groep van mense wat met my verskil geval nie.

Hier dan, met ‘n paar veranderinge, is my antwoord aan hom:
Jy skryf onder andere as volg:
“Weet jy dat die Hemelse Vader sê dat Hy nooit verander nie? Dat die Woord stand hou? Dat Hy die Feeste in Lev 23 Sy eie feeste noem en dat die kerk vaders ons kom vertel het die Joodse feeste (maak hulle die hemelse Vader tot leuenaar?”
Ek weet nie wat die persoon wou sê met:
“ons kom vertel het die Joodse feeste (maak hulle die hemelse Vader tot leuenaar?”
Ek dink dat hy dalk wou sê:
“ons kom vertel het die Joodse feeste, is nie meer van toepassing nie, (maak hulle die
hemelse Vader tot leuenaar?”

Toe antwoord ek:
Die manier wat jy dit stel, sluit jy ook sommer die skrywers van die Nuwe Testament sowel as Paulus wat ek dink die skrywer van die brief aan die Hebreërs is.
Voor jy dalk dink ek verkondig iets wat nie in die Woord is nie, onthou, ek sê dat ek dink Paulus het die brief aan die Hebreërs geskryf, ek sê nie dit is so nie, want ek het nie skrif daarvoor nie.

As ek iets verkondig as Evangelie, dan wys ek uit die Skrif, hoekom ek dit as Evangelie verkondig en dan moet, wie dit dan ook lees, met die leiding van die Heilige Gees, self besluit of ek die waarheid verkondig.
Jy is natuurlik reg, ons Here verander nie:

HEB 13:8 Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!

Soms egter, terwille van ons, om dit so te stel, omdat ek nie nou aan beter woorde kan dink nie, verander en verbeter Hy, as gevolg van Sy oneindige groot liefde vir ons, iets of omstandighede.

Ek deel met jou die een en ander:

2KON 20:1-6
1  Ongeveer hierdie tyd het Hiskia dodelik siek geword.  Die profeet Jesaja seun van Amos het hom gaan besoek.  Hy gee toe hierdie boodskap aan die koning:  “Dit is wat die HERE sê:  Kry jou sake in orde, wat jy gaan sterf.  Jy sal nie van hierdie siekte hestel nie.”
2 Toe Hiskia dit hoor, het hy sy gesig na die muur toe gdraai en tot die HERE gebid:
3 O HERE, onthou tog hoe ek altyd probeer het om aan U getrou te bly en om dit te doen wat vir U reg is.”  Daarna het Hiskia in trane uitgebars en bitterlik gehuil.
4 Jesaja was skaars weg, toe sê die HERE vir hom: 
5 “Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk:  ‘Dit is wat die HERE, die God van jou voorvader Dawid sê:  Ek het jou gebed gehoor en jou trane gesien.  Ek sal jou gesond maak.  Oor drie dae sal jy uit die bed opstaan en na die tempel van die HERE toe gaan.
6 Ek sal nog vyftien jaar by jou lewe voeg, en Ek sal jou en hierdie stad red uit die mag van die koning van Assirië.  Ek sal die stad beskerm om my ontwil en ter wille van my dienaar Dawid.’”

Asook:

JNA 3:4-10
4 Die eerste dag toe Jona in die stad ingegaan het, het hy uitgeroep:  “Oor 40 dae sal Nineve vernietig word!”
5 Die mense van Nineve het God se boodskap geglo.  Almal, van groot tot klein, het besluit om te vas en om rouklere aan te trek. 
6 Toe die koning van Nineve hoor wat Jona sê, het hy van sy troon af opgestaan en sy koninklike klere uitgetrek.  Hy het rouklere aangetrek en op ‘n ashoop gaan sit.
7 Die koning en sy amptenare het toe die volgende bevel deur die stad gestuur:  “Niemand nie, nie eers die diere, mag enigsins iets eet of drink nie.
8 Almal moet rouklere aantrek en ernstig tot God bid.  Almal moet ophou om kwaad te doen en geweld te pleeg.
9 Wie weet, miskien sal God ons genadig wees en ons nie in sy woede vernietig nie.”
10 Toe God sien dat hulle opgehou het om verkeerd te doen, was Hy hulle genadig.  Hy het daarvan afgesien om hulle te vernietig soos Hy gedreig het om te doen.

Dan sê ons Here self byvoorbeeld by geleentheid:

MAT 5:38 “Julle het gehoor dat daar gesê is:  ‘’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.’
MAT 5:39 Maar Ek sê vir julle, julle moet julle nie teen ‘n slegte mens verset nie.  As mense jou op jou regterwang klap, draai vir hulle ook jou ander wang.”

Jesus verwys hier na die gedeelte in die wet van Moses waar geskryf staan:

EXO 21:22-25
22 As mans met mekaar baklei, kan dit gebeur dat hulle in die proses ‘n vrou wat swanger is, omstamp.  Sy kan haar baba verloor, maar nie self permanent beseer word nie.  Die persoon wat dit veroorsaak het, moet daarvoor aan haar man vergoed volgens die bepaling van die regters.
23 As daar permanente skade is, moet hy in ooreenstemming met die skade gestraf word.  As sy dood is, moet hy self doodgemaak word.
24 ‘n Oog wat beseer is, moet met ‘n oog se skade vergoed word.  As ‘n tand verloor is, moet iemand se eie tand uitgeslaan word.  ‘n Hand se skade moet met ‘n hand vergoed word, ‘n voet vir ‘n voet,
25 ‘n brandplek vir ‘n brandplek, ‘n wond vir ‘n wond en ‘n kneusplek vir ‘n kneusplek.

Nog so ‘n verandering, die heerlikste en grootste in ons Here se verhouding met die mens, het ons Here, in Sy oneindige groot liefde net meer as 2,000 jaar gelede gemaak, toe Hy ‘n Nuwe testament opgetrek en die ou verbond met ‘n nuwe vervang het:

GAL 4:4  Maar toe, op die regte tyd, het God sy Seun gestuur.  Hy is uit ‘n vrou gebore, onder die wet,
GAL 4:5 sodat Hy hulle wat onder die wet is, kan vrykoop.  Ja, sodat ons tot kinders aangeneem kan word.

Hier is nog ‘n paar heerlike gedeeltes uit die Woord wat ek ook graag met jou wil deel, wat meer lig werp op die heerlike verandering wat plaasgevind het, toe die “volheid van die tyd” aangebreek het en ons Here ons vry gemaak het van die Wet van Moses en sy insettinge:

1KOR 11:25  Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.

2KOR 3:6 wat ons bekwaam gemaak het om as bedienaars van die nuwe verbond op te tree, nie met die wet as inhoud nie, maar met die Gees as inhoud.  Want die geskrewe letter maak dood, maar die Gees maak lewend.

Van die mense wat so aan die wet van Moses vasklou, al is dit net die uitgesoekte gedeeltes waaraan hulle graag self om die een of ander rede wil vasklou, sê die Woord na my mening die volgende:

2KOR 3:14  Hulle denke het verhard geraak.  Tot vandag toe is hulle gedagtes versluier as hulle die Ou Testament lees.  Daardie sluier word net eenvoudig nie verwyder nie omdat dit net Christus is wat dit geheel en al vernietig.
2KOR 3:15 Tot vandag toe nog, elke keer as Moses voorgelees word, lê daar ‘n sluier oor hulle harte.

HEB 8:13 Deur van ‘n nuwe verbond te praat het God die vorige een as uitgedien verklaar.  En wat uitgedien is en steeds nog verder verouder, staan gereed om heeltemal afgeskaf te word.

HEB 9:15  Daarom is Hy ook die Middelaar van die nuwe verbond tussen God en ons sodat almal wat genooi is, die ewige erfdeel kan ontvang wat God vir hulle beloof het.  Want Christus het gesterf om hulle te bevry van die straf van die sondes wat hulle onder daardie eerste verbond begaan het.

Jy sien – Sommige mense lees en leef die Woord uit soos Jona. Hulle het nie werklik daardie heerlike, diep liefdesverhouding met Jesus, waar my liefde my wandel met Hom bepaal en nie allerlei ander dinge daarvoor nodig is nie:

JNA 3:10 Toe God sien dat hulle opgehou het om verkeerd te doen, was Hy hulle genadig.  Hy het daarvan afgesien om hulle te vernietig soos Hy gedreig het om te doen.

JNA 4:1 Hierdie verandering het Jona ontstel.  Hy het baie kwaad geword.

Vir baie mense het die voorhangsel nog nie in hulle harte werklik van bo tot onder geskeur nie:

MAT 27:51 Op daardie oomblik het die swaar gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo tot onder.  Die aarde het gebewe en die rotse het uitmekaargebars.

Daarom kan hulle nog nie werklik self in die allerheiligste tot by ons Here kom nie:

EXO 26:31-33
31  “Maak ‘n gordyn om die tent in twee dele af te skort.  Dit moet van linne wees waarin blou, pers en bloedrooi draad ingeweef is.  Gerubs moet daarop uitgeborduur wees.
32  Hang die gordyn in die tabernakel aan hake bo-aan vier regop balke.  Hulle moet van akasiahout gemaak en met goud oorgetrek word.  Hulle moet elkeen op ‘n voetstuk staan wat van silwer gemaak is.
33  Nadat jy die gordyn gehang het, moet jy die ark van die verbond agter die gordyn kom neersit.  Die heiligdom word met hierdie gordyn van die Allerheiligste deel van die tent afgeskort.

Ongelukkig is daar Christene wat nog nie hierdie grootse, heerlike waarheid heeltemal hulle eie kan maak nie omdat hulleself, vanweë allerlei redes, hulleself blind staar teen die wet van Moses, of dan net die gedeeltes daarvan wat hulle vir hulleself uitgesoek het, om te vertroetel.

Van watter heerlike, grootse waarheid praat ek?

JOH 1:16 Uit Sy volheid het ons almal ‘n oorvloed onverdiende goedheid (genade) ontvang.
JOH 1:17 Die wet is deur middel van Moses gegee, die onverdiende goedheid en waarheid het deur Jesus Christus gekom

Die volgende dagstukkies wat ek geskryf het, kan help om hierdie sienswyse van my nog beter te verduidelik en ek stuur dit op aanvraag met die grootste liefde aan jou.  Dit is ook in Engels beskikbaar:

* Hoe heerlik! Jy en ek is vry Kom ons Wandel met hierdie vryheid in die weë
   van ons Here
* Wie volop saai, sal ook volop maai
* Die liefde, die vervulling van die wet

Groete,
Sakkie