DRUIWESAP OF WYN BY DIE NAGMAAL?

DRUIWESAP OF WYN BY DIE NAGMAAL?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“… Ek wil jou weer iets vra. Ek is in ‘n bediening maar hulle gebruik soetwyn vir nagmaal – is daar fout en sommige kerke gebruik Monis. Wat is die verskil – is daar fout om soetwyn te gebruik vir nagmaal?”

Hier is dan hoe ek dit graag stel as iemand met my oor hierdie saak gesels. Neewat, ek dink nie een van die twee maak ‘n fout nie.

Al wat ek wel verseker weet is: In Jesus se tyd was daar soetwyn maar daar was nie Monis nie en moet tog nie dat mense vir jou die bog vertel van dat die wyn wat hulle in Jesus se tyd gebruik het, nie alkohol in gehad het nie! As dit so sou wees, sou my groot held Paulus byvoorbeeld by geleentheid nie kon skryf – en dit is maar een van die talle voorbeelde wat ek kan noem waar die Woord oor dronkenskap in die een of ander vorm praat –

EFE 5:18  “Moenie dronk word van wyn nie — daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul”.

Dan sou Jesus ook nie soos volg gewaarsku het nie:

Luk 21:34  “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.”

Jy kan siek word van te veel druiwesap, maar jy kan nie daarvan dronk word nie.

Daar is egter iets te sê ten opsigte van die gebruik van druiwesap by die Nagmaal –

Jy maak dit byvoorbeeld dan nie, om dit so te stel, moeilik vir ‘n alkoholis nie en ons lees mos wat ons gedrag moet wees as iemand kan struikel:

Rom 14:20  “Moenie ter wille van voedsel die werk van God afbreek nie. Alles is wel rein, maar dit is verkeerd vir ‘n mens om te eet as dit tot aanstoot is.

Rom 14:21  Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie.”

Alhoewel ek terwille van bogenoemde self druiwesap by die Nagmaal sou wou gebruik, geniet ek andersins ‘n glasie wyn.

Jy kan te veel wyn drink en dit is verkeerd, maar dan – jy kan te veel druiwe op een slag eet en dit is brassery.

Uiteindelik geld die volgende reël te heerlik vir die kind van God, ook wat die drank by die Nagmaal aanbetref:

1KOR 10:31  Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.

1KOR 10:32  Wees geen oorsaak van struikeling vir Jode of Grieke of vir die gemeente van God nie;…”

Om dan op te som soos ek dit uit die Woord verstaan:

Nie wyn of druiwesap is verkeerd om Nagmaal mee te gebruik nie  – maar ekself is, soos wat ek verduidelik het – meer gemaklik met druiwesap.

Groete,

Sakkie