ÉÉN HERE, ÉÉN GELOOF, ÉÉN DOOP – DEEL 1

ÉÉN HERE, ÉÉN GELOOF, ÉÉN DOOP  – DEEL 1

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra of ek ‘n bietjie sal gesels oor die doop met die Heilige Gees.”

So tussen die lyne lees ek  dat die persoon byvoorbeeld wonder oor wanneer, na jou bekering,  ontvang ‘n mens die Heilige Gees en hoe kan jy sien dat jy die Heilige Gees inwonend in jou hart het.

Hier dan is hoe ek hierdie saak uit die Woord verstaan:

Onthou ook dat as ek nou van Christene praat, praat ek van mense wat werklik vir Jesus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker.
Want ongelukkig is dit so, dat in die wêreld waar die Christen geloof in die meerderheid is, is die meerderheid van die Christene net in naam Christene.

Om maar net een voorbeeld te noem wat die meeste van my lesers goed ken, omdat hulle soos ek, Suid-Afrikaners is, maar dit is in ‘n meerdere of mindere mate die geval in al die lande oor die wêreld.
Ons sê dat 80% mense in Suid-Afrika Christene is maar ons weet, dat ‘n groot persentasie van hierdie 80% Christene dit net in naam is, bloot om byvoorbeeld net na die misdaad om ons te kyk.

Hier dan is hoe ek dit uit  die Woord verstaan.

Ons Lees:

EFE 4:4  Daar is net één Gees, net soos julle net één toekomsverwagting het op grond van julle roeping –
EFE 4:5  één Here, één geloof, één doop,

Ek verstaan dit so:

• één Here, (en dit is Sy Gees wat in ons woon)
• één Here, één geloof, (daar is net hierdie een ware geloof wat ons van die hel kan red, die geloof in Jesus Christus)
• één Here, één geloof, één doop, (en daar is net hierdie een Christelike doop volgens soos ons dit in die Woord vind, en in hierdie doop het ek alles ontvang wat ons Here wou hê dat ek moet ontvang om deur hierdie lewe te gaan).

Ek het in my bekering en my doop die vergifnis en afwassing van my sonde ontvang
en ek het Sy Heilige Gees ontvang.
Ek is gedoop met die een doop waarvan EFE 4:5  praat.
Ek is nou, wat my innerlike aanbetref ‘n nuwe skepping:

2KOR 5:17 Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is ’n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!

‘n Pragtige voorbeeld van hoe EFE 4:5 werk vind ons in HAN 2:38:

HAN 2:38  Petrus antwoord hulle: “Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop (dit is die een deel van die enigste ware doop) sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. (dit is die ander deel van die enigste ware doop)

Met ander woorde samevattend:
Wanneer EFE 4:5 in my lewe gestalte gekry het, het ek die Heilige Gees inwonend
in my:

EFE 4:5  één Here, één geloof, één doop,

Nou vra iemand:
Is daar iets in my lewe waaraan mense en ook ekself kan sien, dat die Heilige Gees in my woon en deel van my lewe is?

Ja, daar is verseker en nee – dit is nie uitsluitlik die spreek in vreemde tale soos sommige denominasies verkondig nie.

Ek skryf breedvoerig oor die “spreek in tale in ‘n gedagte uit die Woord met die naam:
Die spreek in tale
Asook:
Daar is gawes wat nuttiger is, as om in tale te praat.

Ek wil net voor ek verder gaan net hier noem:
Ekself het die genadegawe ontvang om in ‘n vreemde taal te praat en bid maar ek weet van baie Christene wie volgens my, baie beter as ek hulle Christen wees uitlewe, wat nog nooit in ‘n vreemde taal gepraat het nie.

Ek deel met jou in my volgende skrywe oor wat volgens wat ek die Woord verstaan die uitstaande kenmerke is van iemand wat ons Here se Heilige Gees inwonend in haar of hom het.
Vir nou laat ek jou met die volgende:
*Ek moet nou nie vir een oomblik dink, dat ek nooit weer sonde sal doen, as ek my bekeer en laat doop het en so die Heilige Gees van ons Here inwonend in my het nie.
Ekself kan saam met my groot held Paulus getuig:

ROM 7:15  Ek verstaan my eie doen en late glad nie. Wat ek graag wil doen, laat ek na, maar wat ek verafsku, juis dit doen ek.

Soms, in die hitte van die oomblik, soos wanneer ‘n motorbestuurder ‘n dom ding voor my doen, of as ek my maermerrie stamp, doen of sê ek iets wat ek nie normaalweg sal doen of sê nie, maar omdat die Heilige Gees in my woon en ek Sy stem hoor, is ek onmiddellik spyt oor die afskuwelike sonde wat ek gedoen het wat ek eintlik nie wou doen nie.

ROM 7:15  … wat ek verafsku, juis dit doen ek.

Wat iemand wat die Heilige Gees in haar of hom inwonend het, egter nooit sal doen nie, is om sonde in haar of sy lewe te vertroetel.

Met ons Here se Heilige Gees in my, sal ek byvoorbeeld nooit redeneer, dat dit nou maar is soos wat ek is en ek maak maar vrede daarmee nie.
Ek sal altyd teen daardie sonde in my lewe veg omdat dit vir my iets afskuwelik is.
As ek daardie sonde /afskuwelike, in my lewe bly vertroetel, kry die volgende uit die Woord in my lewe gestalte:

2PET 2:22  Van hulle is dié spreekwoorde waar:
“’n Hond gaan terug na sy braaksel toe.”
en:
“’n Vark word gewas, net om weer in die modder te rol.”

Wat ‘n wáre Christen nooit in haar sy/haar lewe sal doen nie, is om dit wat volgens die Woord van ons Here sonde is, as die norm in sy/haar lewe te aanvaar nie.
As jy jou bekeer en laat doop het en jou manier van lewe hinder jou –
Prys die Naam van ons Here!
Jy hoor nog Sy Heilige Gees wat by jou pleit om jou lewe met Hom reg te maak en Hy sê weer vandag vir jou:

1JOH 1:9  As ons egter (in opregtheid) ons sondes bely, Hy is betroubaar en  regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wat verkeerd is.

Paulus skryf onder die leiding van die Heilige Gees as volg oor dit wat ek nou net met jou gedeel het:

ROM 6:1-4  

1 Beteken dit nou dat ons in die sonde moet voortlewe sodat die genade steeds oorvloediger kan word?

2 Hoegenaamd nie! Ons is immers dood vir die sonde. Dis tog onmoontlik dat ons nog langer daarin kan voortlewe!

3  Of het julle vergeet dat ons met ons doop een geword het met Christus Jesus en so saam met Hom gesterf het?

4  Deur die doop is ons saam met Hom begrawe as mense wat deel in sy dood. En nou kan ons, net soos Christus wat deur ’n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ’n totaal nuwe lewe leef.

 

Groete
Sakkie