ÉÉN HERE, ÉÉN GELOOF, ÉÉN DOOP – DEEL 2

ÉÉN HERE, ÉÉN GELOOF, ÉÉN DOOP – DEEL 2

Sakkie Parsons

In my vorige skrywe in hierdie kort reeks van twee gedagtes uit die Woord het ek met jou gedeel oor wanneer ons die Heilige Gees ontvang en dat daar dan wanneer ek die Heilige Gees ontvang het, ‘n verandering in my lewe kom.

In hierdie die tweede gedeelte, deel ek met jou wat die kenmerke van daardie verandering in my lewe sal wees, waardeur ekself en die mens om my sal weet, dat ek die Heilige Gees inwonend in my het.

Jesus sê – en hier praat Hy met Sy dissipels, met ander woorde, jou en my, wie bely dat ons Hom aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker en ons laat doop het met die een en enigste doop, die Christen doop wat die inwoning in ons van die Heilige Gees insluit, soos wat ons dit in die Woord sien:
Ons lees:

MAT 5:13  “Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. Maar as die sout verslaan het, kry jy dit op geen manier weer sout nie. Dit is totaal onbruikbaar.

Al waarvoor dit goed is, is om buite op die straat uitgegooi en deur die mense platgetrap te word.

MAT 5:14-16 
14 Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!
15  ’n Mens steek ook nie ’n lamp op en maak dit onder ’n emmer toe nie. Inteendeel! Jy sit dit bo-op ’n lampstaander. Dan maak dit lig vir almal in die huis.
16  Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

Jy sien –
Waar ek leef, moet ek poog om só te leef, dat dit vir die mense, om dit so te stel, sommer lekker smaak om daar te leef.

MAT 5:13  “Julle is die sout wat die aarde ’n beter plek moet maak. …

As mense met my te doen kry, moet hulle, nie noodwendig deur my woorde nie maar  verseker deur my lewe die helder lig van Jesus Christus en Sy Evangelie ervaar:

MAT 5:14  Julle is die lig wat die wêreld moet verlig. ’n Stad wat bo-op ’n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!

Met ander woorde:

MAT 5:16  Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys!”
As ek my werklik bekeer het toe ek my laat doop het, sal die Heilige Gees in my woon en ek sal die vrugte dra wat by die bekering pas:

MAT 7:16-18 
16 Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ’n mens ’n boom aan sy vrugte kan uitken. ’n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse, of vye van dissels nie.
17  ’n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ’n siek boom slegte vrugte.
18  ’n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra nie en ’n siek boom nie goeie vrugte nie.

Hoe lyk hierdie vrugte wat ek sal dra as ek myself werklik bekeer het en my volgens die Bybelse wyse laat doop het en nou die Heilige Gees inwonend in my het?

Ons Here het vir ons in die Woord laat skryf:

GAL 5:22  Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,
GAL 5:23  sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie.

Nou is dit so, dat soos ‘n boom moet groei en al hoe beter vrugte dra.
So groei ons ook en dra al hoe beter vrugte maar verseker, vrugte van die Heilige Gees sal elke ware Christen dra.

Dan ten slotte nog net dit:

Nie jy of ek sal ooit hier op aarde die volmaakte Christen wees nie en ons sal ook nie dieselfde hoogte van Christen wees bereik nie, maar ons almal behoort altyd daaraan te werk, om so na aan volmaakte kind van God te kom as wat dit vir ons menslik moontlik is.
Laat ons altyd vir onsself sê en dan ook so probeer lewe:

FIL 3:12-15
12 Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!
13  Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê.
14  Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.
15  Almal van ons wat geestelik volwasse is, behoort hierdie doel te hê.  …

Groete,
Sakkie