EIERSEL SKENKING
Sakkie Parsons
Iemand het aan my die volgende geskryf:
“Ek wil net graag jou siening oor iets hê.
Ek oorweeg dit om van my eierselle te skenk aan ‘n ouerpaar wat nie kinders kan kry nie.
Hulle trek ongeveer 10 eierselle van my om dit in die “ontvanger” oor te plant. Ek en my man het dit bespreek en hy is nie heeltemal ten gunste daarvan nie.”
Ek deel graag my siening oor hierdie saak ook met jou.
Om mee te begin, is daar so ver ek weet niks direk in die Woord wat ek kan gebruik wat hierdie saak aanspreek nie maar ek het wonderlike genade van die Heilige Gees om my leiding te gee.
Nou goed.
As ‘n vrou verwagtend raak, of nie raak nie, is dit ons Here wat werk. Daarvan het ons duidelike bewyse in die Woord. Ek gee hier net enkele voorbeelde.
Gen 20:17 Toe het Abraham tot God gebid, en God het Abiméleg gesond gemaak; ook sy vrou en sy slavinne, sodat hulle kon baar.
Gen 20:18 Want die HERE het elke moederskoot van die huis van Abiméleg geheel en al toegesluitter wille van Sara, die vrou van Abraham.
Gen 29:31 En toe die HERE sien dat Lea die nie-geliefde was, het Hy haar skoot geopen;maar Ragel was onvrugbaar.
Gen 30:22 En God het aan Ragel gedink, en God het haar verhoor en haar skoot geopen:
1SAM 1:5 maar aan Hanna het hy ‘n dubbele deel gegee; want hy het Hanna liefgehad; maar die HERE het haar moederskoot toegesluit.
Jes 44:24 So sê die Here, jou Verlosser, en Hy wat jou geformeer het van die moederskoot af: Ek is die HERE wat alles volbring, wat die hemel uitspan, Ek alleen, en wat die aarde uitsprei—wie was met My? —
Jer 1:5 Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; …
Iemand kan nou sê:
“As die eiers bevrug raak, is dit dan mos ons Here se wil.”
Dit is waar maar ons het ook baie voorbeelde in die Woord en ook in ons eie lewens, ten minste, ek het in my lewe, voorbeelde van buite die wil van ons Here gaan en, omdat ons ongehoorsaam is, laat ons Here toe dat ons dan maar ons koppe stamp.
Jy skryf:
“Hulle trek ongeveer 10 eierselle van my om dit in die “ontvanger” oor te plant.”
Wat nou gedoen, as al 10 eiers bevrug raak?
Ek het nie al die kennis van hierdie soort van ding nie maar ek weet, dat as die sogenaamde proefbuismetode in ‘n laboratorium gedoen word, word die oortollige embrio’s, ek bedoel die oortollige babas vernietig, ek bedoel soos ek dit sien, vermoor.
Soms word die embrio’s/babas gevries, om dalk later gebruik te word en indien nie, word hulle vernietig/vermoor.
My slotsom:
Vir my is die risiko van allerlei komplikasies en om by soos ek dit sien, moord betrokke te raak, te ontsettend groot om so iets te oorweeg maar waarom sou ek dit oorweeg as daar ‘n ander wonderlike oplossing is, waarvan ons pragtige voorbeelde in die Woord het.
As iemand my vra, wat ek sou doen, as ons nie kinders kon hê nie, sou ek sonder aarseling gesê het:
‘As ek en my vrou alles probeer het waar net ons Here en ons twee betrokke is, wat ons met die medici se hulp kon doen en my vrou het nie swanger geword nie, sou ons verseker probeer het, om ‘n kind aan te neem.’
Daar is wonderlike voorbeelde in die Woord, waar ons Here, die aanneming van kinders tot Sy eer en verheerliking gebruik het.
Ek dink hier aan Moses wat deur Farao se dogter aangeneem was en toe die redder van Israel uit Egipte geword het.
Dan was daar Ester wat deur haar oom Mórdegai aangeneem was en die redder geword het, wat Israel van algehele uitwissing gered het.
Dan!
Prys die Naam van die Here!
Was daar Josef, wat Jesus as sy Seun aangeneem het.
Jesus, wat toe Golgota toe gestap het.
Jesus, van wie die Woord sê:
JHN 3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Hier waar ek sit en skryf, kan ek nie aan iets beter of meer edel dink, wat ‘n kinderlose egpaar kan doen, as hulle werklik ‘n kindjie wil hê nie, as om ‘n kindjie wat deel is van ons Here se hoogste skepping, aan te neem en tot Sy eer groot te maak nie.
Daar is ook baie gevalle, dat sodra die egpaar ‘n kindjie aanneem, die nuwe moeder dan ook sommer swanger raak .
Ten slotte.
Onthou jy wat Jesus van ‘n kindjie sê, ook van die wees- of aangenome kindjie?
Mat 18:2-6
2 Toe roep Jesus ‘n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan
3 en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!
4 Elkeen dan wat homself verneder soos hierdie kindjie, hy is die grootste in die koninkryk van die hemele.
5 En elkeen wat een van sulke kindertjies in my Naam ontvang, ontvang My;
6 maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.
Ek weet nie hoekom sommige getroude paartjies nie swanger raak nie.
Net soos ek ook nie weet hoekom ek blind is nie – maar ek kyk na hierdie dinge en na
my en na al die ander dinge om my en ek juig dit saam met my groot held Paulus uit:
Rom 11:33 o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!
Want ek, Sy kind wat HY aangeneem het:
Rom 8:15 … julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!
Ek Sy kind weet mos:
Rom 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
Ja!
Hoe wonderlik om te weet!
EFE 1:5 deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil,
EFE 1:6 tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.
Groete,
Sakkie