EK GLO HERE, KOM MY ONGELOOF TOT HULP!
Sakkie Parsons
Ek was besig om in MARKUS te lees, toe ons Here die volgende gedagte vir my gewys
het –
Hier volg die gedeelte:
MARKUS 9:14-27
14 En toe Hy by die dissipels kom, sien Hy ‘n groot menigte om hulle, en skrifgeleerdes wat met hulle redetwis.
15 En dadelik toe die hele skare Hom sien, was hulle baie verbaas en het na Hom gehardloop en Hom gegroet.
16 Daarop vra Hy die skrifgeleerdes: Waarom redetwis julle met hulle?
17 En een uit die skare antwoord en sê: Meester, ek het my seun wat ‘n stomme gees het, na U gebring;
18 en waar hy hom ook aangryp, skeur hy hom; en hy kry skuim in die mond, en hy kners met sy tande en word styf; en ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie.
19 Toe antwoord Hy hom en sê: o Ongelowige geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom na My toe.
20 En hulle bring hom na Hom toe; en toe hy Hom sien, laat die gees hom dadelik stuiptrekkings kry, en hy val op die grond neer en rol rond met skuim in die mond.
21 Daarop vra Hy sy vader: Hoe lank is dit al dat dit hom oorgekom het? En hy sê: Van sy kindsdae af;
22 en dikwels het hy hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.
23 En Jesus sê vir hom: Wat dit betref—as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.
24 En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!
25 En toe Jesus sien dat ‘n skare bymekaar stroom, het Hy die onreine gees bestraf en vir hom gesê: Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.
26 En nadat hy geskreeu en hom baie stuiptrekkings laat kry het, het hy uitgegaan. En die seun het soos ‘n dooie geword, sodat baie gesê het: Hy is dood.
27 Maar Jesus het hom by die hand gegryp en hom opgerig; en hy het opgestaan.
Die eerste ding wat ek hier gesien het, is dit:
Is die nie wonderlik om een van Jesus se Dissipels te wees nie.
Vir Jesus, om dit so te stel, kom Sy kinders altyd eerste.
MRK 9:15 En dadelik toe die hele skare Hom sien, was hulle baie verbaas en het na Hom gehardloop en Hom gegroet.
MRK 9:16 Daarop vra Hy die skrifgeleerdes: Waarom redetwis julle met hulle?
Die skare maak ‘n groot ophef van Hom en groet en ek glo probeer met Hom te gesels. Maar Sy aandag is daar by Sy dissipels waar hulle aangeval word.
MRK 9:16 Daarop vra Hy die skrifgeleerdes: Waarom redetwis julle met hulle?
Vervolgens, kyk nou na die magsvertoon van satan.
MRK 9:20 En hulle bring hom na Hom toe; en toe hy Hom sien, laat die gees hom dadelik stuiptrekkings kry, en hy val op die grond neer en rol rond met skuim in die mond.
Maar satan het Jesus nie beïndruk nie. Om die waarheid te sê, Jesus het Hom nie eens aan satan se magsvertoon gesteur nie. Sy aandag was by die een wat na Hom
om hulp geroep het.
MRK 9:21 Daarop vra Hy sy vader: Hoe lank is dit al dat dit hom oorgekom het?
Dan sê die man vir Jesus:
MRK 9:22… Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.
Volgens my beskeie mening, is dit nie ‘n stelling van geloof nie maar een van hoop en eintlik sonder dat hy dit besef, ‘n om dit lig uit te druk, ‘n aantasting van Jesus se
gesag, want Jesus kan enige iets doen.
Jesus vererg Hom egter nie vir die man soos ek en jy dalk sou gedoen het nie. Nee,
kan jy ook die deernis in Sy stem hoor as hy vol begrip vir die man sê:
MRK 9:23 En Jesus sê vir hom: Wat dit betref—as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.
Die man sê toe vir Jesus dat hy glo maar en ek glo Jesus het dit in sy hart laat opkom, toe kom die man agter dat hy nou so ‘n bietjie deurmekaar praat en dat hy hoop met geloof verwar en daarom verander hy, jy kan maar sê in dieselfde asem sy, wat hy gedink het geloof is, na ongeloof.
MRK 9:24 En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!
Hier vra iemand dalk die vraag:
“Ek het geglo; maar dit wat ek so voluit geglo het, het nie gebeur nie.”
In hierdie kort sin kom een word twee keer voor en dalk is daar meriete vir die eerste een en dit is die woord “ek.”
Omdat ons mense maar is wie ons is, is dit selfs vir ons Christene die meeste van die tyd moeilik en soms net te moeilik en soms, selfs onmoontlik om onsself in die regte lig te sien wat ons geloof aanbetref.
Ek kyk, ja, ek kyk selfs in die geloof maar ek kyk met ‘n “ek” kyk. Want my geloof word nie beantwoord soos wat ek wil dat my geloof beantwoord word nie – maar my geloof gaan nie in die eerste plek om my nie. Want wie is ek?
Ek is ‘n skepping van die lewende God. ‘n Skepping tot Sy verheerliking en vry vertaal:
Wie is ek, die skepsel, om selfs te wonder hoekom daar so op my geloof geantwoord word?
Of dan soos ek dit dalk sien, nie geantwoord word nie?
Kom ons haal nou gou die “ek” uit die kyk van my voluit geloof en ons sien ons Here in my voluit geloof en ons lees weer Jesus se woorde:
MARK 9:23 “As Ek kan, sê jy,” het Jesus hom geantwoord. “As ’n mens glo, is álles moontlik!” (want daar is niks wat God nie kan doen nie)
MARK 10:27 Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Menslik gesproke is dit onmoontlik, maar tog nie by God nie. Alles is by God moontlik!”
Hier egter is hoe ek “Alles is moontlik vir die een wat glo?” in my voluit geloof moet uitleef, as dit werklik in alle opsigte “voluit geloof” is:
1JOH 5:14 Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister.
O!
Hoe absoluut wonderlik, is ook, vir my die volmaakte voorbeeld wat ons in die Woord vind, van hoe voluit geloof, voluit volmaak in vervulling gaan, as dit werklik “voluit geloof” is!
MAT 26:39 Hy het toe ’n entjie verder neergeval en met sy gesig plat teen die grond gebid: “O my Vader! As dit moontlik is, neem tog hierdie lydensbeker van My weg. Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil.”
Toe, wat was toe die grootse vervulling van hierdie voluit geloof daar in die tuin ook vir jou en vir my – al het dit nie toe so gelyk nie?
Vra maar vir Petrus wat in daardie selfde nag – nie baie weke nadat hy op die water geloop het – in daardie selfde koue nag sy hande by die vuur warm gemaak het en so na die mense en gebeure om hom gekyk het nie.
Ja, hoe groots!
Hoe wonderlik!
JOH 3:17-18
17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.
18 “Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie. (Wat in Sy mensheid voluit op Sy Vader vertrou het al het wat ook al met hom gebeur).
In my lewe het dit baie meer gebeur, dat dit wat ek ons Here vra, nie gebeur soos wat ek wil dat dit gebeur nie maar hoe absoluut wonderlik! – Ek weet ek is Sy kind en Hy wat nie lieg nie, sê – as jy alles wat in die verband geskryf is opsom:
“Vertrou My.”
Ten slotte:
Toe ek die gedeelte klaar gelees het, was die oorkoepelende gedagte wat my bygebly het – dat midde in die aanval van die skrifgeleerdes op Sy dissipels, ten spyte van die magsvertoon van satan, ten spyte van die man wat hoop met geloof verwar en in die proses in sy onkunde nog beledigend ook is –
Ja, ten spyte van hierdie hele deurmekaarspul, is Jesus Christus van begin tot einde alleen ten volle in beheer en dit is ‘n Goddelike in beheer.
Dit is ‘n Goddelike liefde, in beheer.
Dit is ‘n Goddelike deernis, in beheer.
Met daardie selfde Goddelike liefde en met daardie selfde Goddelike deernis kyk Jesus vandag na jou en na my en weet jy wat vir my so wonderlik is?
Al is my geloof so klein, dat dit eintlik ongeloof is, hoef ek net eerlik dit vir Hom te sê – en soos ook met die man wat ons hier van gelees het, sal Hy my ongeloof te hulp
kom.
Groete,
Sakkie