EK IS TOT ALLES IN STAAT DEUR CHRISTUS WAT MY DIE KRAG GEE – DEEL 2

EK IS TOT ALLES IN STAAT DEUR CHRISTUS WAT MY KRAG GEE – DEEL 2

Sakkie Parsons

In my eerste skrywe in hierdie kort reeks, het ek ter inleiding jou probeer wys dat ek darem nie oor iets skryf waarvan ek nie ondervinding het nie.

In hierdie skrywe wil ek dan nou met jou deel van hoe ek iemand geantwoord het wat aan my geskryf het en gevra het:

“Skryf tog ook asb iets oor die onkundigheid van mense wat vir God kwalik neem oor Hy dan nou so onregverdig en liefdeloos is.“

Hier is dan hoe ek na die wyse waarop ons Here my lewe bestuur, kyk. Ek wil ook sonder om verwaand te wees, voorstel dat jy ook hierdie resep volg – omdat ek weet dit werk.

Eers net weer; die gesindheid waarmee ek, en so glo ek almal wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, die Woord behoort te lees – en nie net moet ons die Woord só lees nie maar in die praktyk moet ons, so glo ek, Hom ook só volg. Jesus self sit dit vir ons so heerlik eenvoudig uiteen:

MAT 11:25 “Toe het Jesus hierdie gebed gebid:  “Vader, Here van die hemel en die aarde, Ek sê vir U dankie dat U die insig in hierdie dinge van die danige slimmes en intelligentes weerhou het en dit oopgemaak het vir hulle wat soos kinders geword het.

MAT 11:26 Ja, Vader, want U verkies hierdie manier van doen!”

Asook:

MARK 10:15Ek verseker julle, wie God se koninkryk nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.”

Met dit in gedagte, begin ek met ‘n vraag:

Hoe is dit moontlik dat Job kon optree soos wat hy opgetree het, toe satan op hom afkom, soos hulle in Engels sê: “Like a ton of bricks.”?

Onthou jy wat gebeur het die keer toe satan vir ons Here wou wys dat hy dit sou regkry dat Job God vloek?

JOB 1:13-19 

13 “En op ‘n dag, terwyl sy seuns en sy dogters besig was om te eet en wyn te drink in die huis van hul oudste broer,

14  kom ‘n boodskapper na Job en sê: Terwyl die beeste aan ploeë was en die esels aan wei langs hulle,

15  het die Sabeërs ‘n inval gedoen en dit weggeroof, en hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.

16  Terwyl dié een nog spreek, kom daar ‘n ander een en sê: Die vuur van God het van die hemel geval en gebrand onder die kleinvee en onder die dienaars, en dit het hulle verteer; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.

17  Terwyl dié een nog spreek, kom daar ‘n ander een en sê: Die Chaldeërs het drie leërafdelings opgestel en ‘n aanval op die kamele gemaak en dit weggeroof, maar hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.

18  Terwyl dié een nog spreek, kom daar ‘n ander een en sê: U seuns en u dogters was besig om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer,

19  toe daar meteens ‘n groot wind oor die woestyn kom wat die huis aan die vier hoeke gryp; en dit het op die jongmense geval, sodat hulle gesterf het; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.”

Onthou jy wat was Job se reaksie?

JOB 1:20  “Toe staan Job op en skeur sy mantel, en hy het sy hoof geskeer en in aanbidding op die grond geval

JOB 1:21    en gesê: Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!

Dit was nie vir Job lekker nie!  Inteendeel – dit was volgens Job se optrede, soos wat dit ook maar vir jou en my sou gewees het, verskriklik, maar Job het geweet wat ek so seker weet, soos wat jy weet dat jy nou lewe, soos ek altyd vir mense sê as hulle my vra hoe dit met my gaan:

Job het geweet: “God is op die troon.”

Anders gestel. God is in beheer.

Job het nie gehou van alles wat met hom gebeur het nie.

Ek hou nie van alles wat met my gebeur het en nog steeds gebeur nie.

Maar ek het hierdie wonderlike, vredevolle wete:

ROM 8:28En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens Sy doel vir hulle lewe.

ROM 8:29 Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos Sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters.”

Sien jy!

Ons Here is besig om aan jou en my te skaaf en te beitel sodat ons eendag, met Jesus as die Oudste, jy en ek voor God ons Vader as een van Sy seuns en dogters vIr ewig kan wees:

ROM 8:29  “Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters.

As jy dit begin verstaan, maak die volgende vir jou ook sin:

1PET 1:6  “Hieroor kan julle baie bly wees, al moet die baie beproewings julle vir ‘n rukkie laat swaarkry.

1PET 1:7 Die doel met die beproewings is om die egtheid van julle geloof duidelik te laat word.  Julle geloof word getoets soos goud met vuur getoets en daardeur gesuiwer word, en onthou:  Julle geloof is vir God baie kosbaarder as goud.  As die toetse die egtheid van julle geloof uitwys, loop dit uit op lof en heerlikheid en eer op die dag wanneer Jesus Christus aan die wêreld geopenbaar word.”

As ek terugdink aan die jare toe ek nog aan maratons en ultra maratons deelgeneem het en ek onthou die pyne en moegheid terwyl ek voortgebeur het net om my medalje te ontvang, kom daardie wonderlike vrede van ons Here oor my as ek aan my reis deur hierdie lewe dink.

Watter vrede praat ek van?

Daardie vrede wat net iemand wat waarlik Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker kan ervaar, al probeer satan soos met Job, jou so ver kry om jou rug op ons Here te draai:

JOH 14:27Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie.”

*Dit is nie die vrede van ‘n groot bankrekening nie.

*Dit is nie die vrede van wonderlike omstandighede soos uit die oë van ‘n                natuurlike mens gesien nie.

Dit is die heerlike vrede van Christus in jou lewe.  Die vrede wat maak dat jy jou skouers terugtrek,  jou kop optel, jou ken uitstoot omdat jy weet waarheen jy op pad is, ten spyte van jou omstandighede, hierdie groot waarheid aan almal wat wil hoor kan uitjubel:

JAK 1:2-4 

2 “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge (beproewinge) val,

3  omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.

4  Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”

Is my God onregverdig en liefdeloos teenoor my?

Nee nooit!!!

Net oor die 2,000 jaar gelede het Hy met Sy Goddelike liefdevolle reddende werk vir my begin:

JOH 3:16God het die mensdom só liefgehad dat Hy Sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

JOH 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.

JOH 3:18  “Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.”

HEB 12:2  “… die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

Was dit die optrede van ‘n onregverdige en liefdelose God?

Luister – Daar het Hy in die Hemel gesit, met al Sy Engele om Hom.

Hy kon gesê het: “Die mens doen alles om hel toe te gaan, so laat hom hel toe gaan” maar Sy liefde vir jou en my het Hom die enigste volmaakte offer wat die mens kon red laat gee om geoffer te word, sodat jy en ek saam met Hom in die Hemel kan wees, naamlik Sy Seun.

So, ek sê met groot heerlike vrede in my hart, al is dit soms baie seer en al huil ek soms baie:

“U het 2,000 jaar gelede begin met U werk met my in gedagte.

Here, moet nie ophou nie.

Doen elke dag wat gedoen moet word, om my reg te skaaf en reg te beitel.”

Want jy sien, my vriend/vriendin, ek weet ook verseker, dat die swaar in my lewe wat ek nou lewe, niks is in vergelyking met die heerlikheid wat daar vir my wag nie:

ROM 8:18Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie.”

Ek weet ook nie hoekom dinge met my so gebeur en met iemand anders weer soos wat dit met daardie persoon gebeur nie en hoekom, uit ‘n menslike oogpunt gesien, daar met sommige mense net die wonderlikste dinge gebeur nie.  Want ek, anders as ons Here, sien dinge soos deur ‘n dowwe spieël:

1KOR 13:12  “Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder wees. Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan.”

Nou kyk ek na die dinge wat met, en om my, gebeur en ek beur vorentoe want ek weet, êrens voor my wag ons Here om my met oop arms te ontvang.

Tot dan weet ek verseker met Sy Heilige Gees in my:

FIL 4:13 “Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.”

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

FIL 4:13  “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

Groete,

Sakkie        

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.