EK IS TOT ALLES IN STAAT DEUR CHRISTUS WAT MY DIE KRAG GEE – DEEL 1

EK IS TOT ALLES IN STAAT DEUR CHRISTUS WAT MY KRAG GEE – DEEL 1

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende:

“Skryf tog ook asb iets oor die onkundigheid van mense wat vir God kwalik neem oor Hy dan nou so onregverdig en liefdeloos is.”

My vrou wat destyds in Rhodesië, die hedendaagse Zimbabwe, gebore is, het my jare terug aan hierdie gesegde bekend gestel:

“Talk is cheap, but money buys the whisky.”

So, ter inleiding, gaan ek so ‘n bietjie van my groot held Paulus se skryfstyl gebruik maak en in hierdie eerste deel van hierdie skrywe my persoonlike agtergrond met jou deel sodat jy kan verstaan ek praat nie maar sommer net sonder dat ek ook al deur swaarkry moes gaan nie.

By geleentheid wil hy vir die mense wys dat hy darem weet waarvan hy praat, as hy praat, en dan skryf hy:

2KOR 11:18-27

18  “Aangesien daar baie mense is wat op menslike gronde spog, gaan ek ook nou spog.

19 Julle wat só slim is, verdra mos geredelik die dwase.

20 Julle verdra dit as iemand julle op sleeptou neem, as iemand julle uitbuit, as iemand julle inloop, as iemand grootmeneer speel, as iemand julletrompop beledig.

21 Ek sê dit tot my “skande” dat ons te “swak” daarvoor was!  Nou praat ek regtig soos ‘n dwaas: As iemand dit wil waag om te spog, ek kan nog meer spog.

22 Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die saad van Abraham? Ek ook.

23  Is hulle diensknegte van Christus, ek nog meer – nou praat ek regtig asof ek heeltemal van my verstand af is! Wat harde werk betref, uitermate;  wat tronke betref, uitermate; wat katshoue betref, in die oortreffende trap; in doodsgevare dikwels.

24  Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry;

25  drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek ‘n dag en ‘n nag op die oop see oorleef.

26  Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van nie-Jode; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare op see en gevare onder vals medegelowiges.

27  Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees.”

Ek weet dat daar natuurlik miljoene der miljoene mense is wat al ‘n moeiliker pad as ek gestap het en nog steeds stap.

Dit wat ek met jou deel, is nie om op ‘n soort siek wyse te spog met die pad wat ek geloop het nie, maar net om te sê dat as ek oor hierdie onderwerp praat, dat ek darem ook weet wat dit is om ‘n moeilike pad te stap.

Ek moes van baie klein af aanskou en beleef wat dit is om ‘n wreedaardige pa te hê, saam met ‘n ma wat, as my pa nie daar was nie, soms dinge gedoen het waaroor ek, ter wille van my broers en susters, nie eens wil praat nie.

Buiten vir die liefdelose pleegouers waar ek vir ‘n tyd was nadat die welsyn ons van my ouers weggeneem het, en die koshuis van die skool vir blindes in Worcester, waar ek later beland het, asook die mense waarheen ek soms met vakansies toe kon gaan wanneer die ander kinders na hulle ouerhuise gegaan het, weet ek nie hoe om as kind in ‘n huis sonder ‘n dronk pa en ma groot te word nie.

My een sussie is ook sommer as baba weggegee en ‘n paar jaar later het dieselfde lot my een boetie as baba getref.

In ongeveer die middel sewentigs van die vorige eeu, kom ek agter, dat my nou begin agteruit gaan. Ek kon toe nog genoeg sien om met ‘n fiets in ‘n stad te ry. Die skok tref my toe dat ek een van die dae nie meer die gesiggies van my drie kinders sal kan sien nie.

Dit het toe ook gebeur.

Op Maandag 1 Desember 1997, sê my dokter aan my dat ek melanoom kanker het en as hulle dit nie kan keer nie het ek 3 tot 6 maande om te leef en ek word vir 15 maande behandel.

In 2011 word my vrou met Alzheimer gediagnoseer en op my vraag aan die neuroloog, antwoord sy, dat ek nog so ‘n jaar self na my vrou sou kon kyk.  Ek dink sy het dit gesê teen die agtergrond, dat ek blind is.

My vrou het toe so verbeter en toe ons vir ‘n tweede opinie gaan, sê die neuroloog dat my vrou dimensie het.

Agt Jaar later is my vrou na Jesus.

So, al wat ek aan jou wil tuisbring is, dat wanneer ek met jou deel wat ek met jou deel, ek darem nie onkundig is omtrent die swaar van hierdie lewe nie.

As ek met jou deel hoe om daarna te kyk en dit te hanteer, is dit nie van hoorsê nie.  Ek was daar.

Ek deel met jou dit wat werk en nie net werk nie, maar absoluut báie goed werk.

Dit werk nie alleen baie goed nie, dit is ook werklik die énigste wyse van lewe wat werk.

Soos ek daar aan die begin genoem het hierdie is net ter inleiding.

In my volgende skrywe aan jou deel ek met jou hoe ek ons Here se liefdevolle Vaderhand in my eie lewe sien en dan natuurlik, hoe dit in elke persoon se lewe werk, wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, wanneer jy alles met oortuiging in jou hart aan Hom oorlaat.

Vir nou weet ek verseker, en elke mens wat Jesus aangeneem het, kan verseker dit ook weet –

Weer sê ek: Ek praat nie van hoorsê nie:

FIL 4:13Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee.”

In ‘n ouer Vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

FIL 4:13  “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”

Groete,

Sakkie        

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.