EN NOU WAG DIE PRYS VIR MY

EN NOU WAG DIE PRYS VIR MY

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en vir my vertel van die geweldige aanslae wat sy in die lewe moet trotseer maar hoe sy net haar oë op ons Here hou en op Hom vertrou.

Ek deel met jou wat ek graag vir mense soos hierdie dame en natuurlik myself ook aan herinner as die aanslae van satan vir my erg raak en glo my, soms voel ek in my mensheid, dat die aanslae van satan nou baie erg raak.

Ek wil begin met die volgende:

GEN 3:15  “Van nou af sal jy en die vrou vyande wees.  Dit geld ook vir jou nageslag en haar nageslag.  Haar nageslag sal jou noodlottig tref teen die kop en jy sal hom noodlottig wond aan die hakskeen.”

Onthou jy wat Jesus op Golgota gesê het toe Hy die volle prys vir ons betaal het en so die slang se kop vermorsel het?

JOH 19:30  Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê:  “Dit is nou afgehandel!”  Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.

Met hierdie woorde van Jesus in gedagte, lees ons op ‘n ander plek:

KOL 2:15  So het Hy die hemelse en aardse magte ontwapen.  Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer.

Nog verder op ‘n ander plek lees ons:

HEB 12:1-2  …Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, 2ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun.  Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur.  Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie.  En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!

Jesus het klaar die slang op Golgota, om dit so te stel, se kop afgekap.

JOH 19:30 ..Dit is nou afgehandel!…

1953 Vertaling: … Dit is volbring! …

Soos ‘n slang wat se kop afgekap is nog vir ‘n tydjie mag wriemel, so is die optrede van satan nog in ons, God se kinders se lewens aan die werk, om ons te probeer wys, dat hy sterker as ons Here is maar hoe heerlik! –

Die satan is reeds op Golgota oorwin en ons moet nou net ons oë op ons Here Jesus Christus hou en ons nie laat intimideer deur die slang se wriemelende kronkelende koplose lyf se optrede nie.

Onthou, dat satan nie in die toekoms kan sien nie.

Hy weet nie hoeveel tyd hy nog het om op aarde te doen wat hy wil doen nie en hy weet ook natuurlik nie hoe lank hy nog op hierdie aarde het om byvoorbeeld jou en vir my van ons Here af weg te kry nie – maar hy weet verseker, dat as ons Here jou, of vir my, wie ons Here werklik volg, nou kom haal, ons vir hom verlore gaan wees.

Daarom dat hy ons met soveel siedende woede met mag en mening aanval maar sy aanvalle op ons, is en hoe heerlik, ook vir ons ‘n bewys, dat hy verseker nie ingenome is oor wat hy sien as hy na ons kyk nie.

Daarom dan ook, dat ons byvoorbeeld lees:

OPB 12:12  “Daarom, hemel en dié wat daarin ‘n woonplek het, juig daaroor!  Hoe vreeslik tog, vir die land en die see, omdat die duiwel na julle afgekom het met fel woede en met die besef dat hy net ‘n kort tydjie het.”

Vir die meeste van ons Here se ware kinders, soos in Job se geval, val hy met alle mag en mening aan, met allerhande beproewings, om as dit moontlik was, ook ons, die uitverkorenes, van ons Here af weg te kry – maar dit is natuurlik nie sy enigste modus operandi nie.

Van ons, wie hy nie in ons persoonlike lewe met allerlei aanvalle by kom nie, val hy weer aan met ‘n magdom valse prediking, profesieë en sogenaamde nuwe openbaringe.

Jesus self sê in hierdie verband van satan die volgende:

MAT 24:24  Want daar sal baie valse messiasse en profete na vore kom.  Hulle sal indrukwekkende tekens en wonders doen om, as dit moontlik sou wees, selfs God se uitverkorenes te probeer mislei.

MAT 24:25  Let goed op, Ek het julle vooraf gewaarsku.

Sien jy dat dit nou al baie erg is maar en ek weet daar is mense wat nie baie ingenome gaan wees met wat ek nou gaan sê nie en dit is ook vir myself in my mensheid nie lekker om dit te weet nie maar totdat Jesus ons kom haal, is die realiteit – Dinge gaan net erger raak.

So, laat ons midde in die stryd doen wat ons aan die begin van OPB 12:12 lees:  (1953 Vertaling)

OPB 12:12  Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon;  (ons wie vir Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker en Sy Woord glo) …

Hoe nader ons aan ons Here leef, hoe harder gaan satan probeer om ons van sienswyse te laat verander.

Omdat Jesus van hierdie optrede van satan geweet het, vra Hy dan ook by geleentheid hierdie vraag:

LUK 18:8  “…. sal die Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?”

Daarom, soos die dame wat aan my geskryf het doen, probeer ek ook lewe midde-in die geweldige aanslae op my en wil ek jou aanmoedig om ook so deur hierdie lewe te reis op jou pad na die ewigheid: (1953 Vertaling)

HEB 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

So geliefdes in ons Here –  Laat ons as die aanvalle kom, altyd die uitnodiging van ons Here deur Sy Woord aan ons onthou en laat ons altyd daarvan gebruik maak:

HEB 4:16  Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God.  Hy sal aan ons Sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word.

Om dan aan die einde van ons lewe hier op aarde dit ook te kan getuig:

2TIM 4:7  Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.

2TIM 4:8  En nou wag die prys vir my:  die lourierkrans van geregtigheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, my sal gee op die groot dag van Sy wederkoms.  En dié prys is nie net vir my nie, maar vir almal wat gretig uitsien na Sy heerlike verskyning.

Groete,

Sakkie