EN VERGEEF ONS, ONS SKULDE, SOOS ONS OOK ONS SKULDENAARS VERGEWE – DEEL 1 VAN 2

EN VERGEEF ONS, ONS SKULDE, SOOS ONS OOK ONS SKULDENAARS VERGEWE – DEEL 1 VAN 2

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my die volgende:

“Daar waar Jesus die mense geleer het dat jy jou broer 7 x 70 keer moet vergewe –
My vraag is: Wanneer vergewe jy iemand? Wanneer hy jou om vergifnis vra vir dit wat hy jou aangedoen het of vergewe jy hom sonder dat hy enige berou toon oor wat hy gedoen het? Vader God vergewe ons nie as ons nie berou het en Sy vergifnis aanvaar nie – is ek reg? Dis eers wanneer ons roep: ‘Vader vergewe my sondige mens’ dat ons Sy genade ons eie kan noem?”

Hier is dan hoe ek die Woord in hierdie verband verstaan en na die beste van my vermoë in my eie lewe probeer uitlewe:
In hierdie eerste van twee skrywe aan jou, deel ek eers met die vergifnis van die ooglopende sonde teen ons Here.  Ek sê “ooglopende,” want uiteindelik is alle sonde tog maar teen ons Here.

Om dan mee te begin:
Soos ek die Woord verstaan, is almal wat Jesus Christus aangeneem het as hul persoonlike Verlosser en Saligmaker, van al die verkeerd in hulle lewens vergewe.

Ek weet daar is nou iemand wat hier lees wat sy/haar kop heen en weer skud maar verdra my en lees verder.

Hou die volgende voorbeeld wat ek jou voorhou al die tyd as jy lees in gedagte:
Ek het my kinders baie lief en as my dogter byvoorbeeld iets in my oë teen my verkeerd doen, vertroebel dit wat sy gedoen het, van haar kant af die verhouding tussen ons en as sy my om verskoning vra is ek heerlik bly dat die verhouding nou tussen ons herstel is en sal ek haar sommer uit pure blydskap ‘n drukkie gee maar as sy my nie om verskoning vra nie, gaan daar ‘n sekere mate van vertroebeling in ons verhouding as gevolg van haar optrede wees maar dit gaan my nie minder lief vir haar laat word nie en sy bly nog steeds my kind met alles wat dit behels.

‘n Goeie voorbeeld uit die Woord wat onderskryf wat ek nou gesê het aangaande die verhouding tussen my en my dogter, kan jy gaan lees in Lukas vanaf Lukas 15:11.

Ek het gesê, dat ons Here Sy kinders klaar vergewe het.

As gevolg van wat Jesus op Golgota toegelaat het om met hom te gebeur, het jy en ek as mede-erfgename saam met Jesus, na ons uittrede hier op aarde, dieselfde toegang as ons Here tot die Hemel.

ROM 8:17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Van ons vergifnis lees ek in die Woord:

JHN 3:18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

JHN 5:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.

Ons het reeds die Ewige Lewe. 

Ons wat Jesus Christus aangeneem het as ons Here en Redder het reeds vergifnis vanweë die offer van Jesus.  As ons hier uittree, tree ons as mede-erfgename van Christus die Hemel in!

JHN 5:24  (Die Lewende Bybel)
“Hoor nou wat Ek vir julle sê:  ‘n Mens wat na My luister en glo in God wat My gestuur het, het die ewige lewe en hy sal nie in die oordeel skuldig bevind word nie.  So iemand het reeds uit die dood uitgegaan en in die lewe ingegaan.

Die ‘Hy’ en die ‘Hom’ wat in hierdie volgende gedeelte van gepraat word is Jesus:

HAN 10:42  En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode.
HAN 10:43  Aangaande Hom getuig al die profete dat elkeen wat in Hom glo, vergifnis van sondes deur sy Naam ontvang.

KOL 1:13  Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde,
KOL 1:14  in wie ons die verlossing het deur sy bloed, naamlik die vergifnis van die sondes.

Die slotsom waartoe ek kom:
As ek ‘n wedergebore kind van ons Here is, deurdat ek Jesus Christus aangeneem het as my persoonlike Verlosser en Saligmaker, het my Liefdevolle Vader al my sondes vergewe en wil Hy nie dat daar iets tussen Hom en my moet wees wat ons verhouding vertroebel nie.  Daarom leer Jesus ons om altyd, natuurlik in opregtheid, as ons bid, ook te bid:

MAT 6:12  en vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

Daar is natuurlik ‘n hele paar redes waarom ons Here baie Christene se gebede nie verhoor nie maar na my mening is twee van die vernaamste redes waarom baie Christene nie verhoor word nie, juis omdat hulle nie gereeld, soos in daagliks, bid en dit natuurlik werklik bedoel.

MAT 6:12  en vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

Sodoende is die verhouding tussen hulle en hulle liefdevolle Vader feitlik deurgaans vertroebel maar dit maak nie dat ons liefdevolle Vader minder lief vir hulle sal word
nie.
Van ons Here se kant af sal Hy nooit ‘n vertroebeling van ons verhouding tussen Hom en my toelaat nie.
Omdat ek nie wil dat daar enige vertroebeling in my verhouding van my kant af met my Vader moet wees nie in my, om dit so te stel; dag tot dag verhouding met Hom nie, bid ek in opregtheid daagliks:

MAT 6:12  en vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

Om dan op te som soos ek hierdie gedeelte van die vraag aan my sien:

Omdat ek ‘n feilbare mens is wat daagliks struikel en sodoende my Vader teleurstel, bid ek in my stiltetyd, nie noodwendig altyd met dieselfde woorde nie maar altyd met
dieselfde strekking:
“Vergeef my, my skulde, soos ek ook my skuldenaars vergewe”

Ek moet net nog iets noem van die gedeelte in Lukas 15:11-32 as jy dit gaan lees, wat jy in gedagte moet hou:
Die seun wat teruggekom het, het soos ek en jy ‘n eie wil gehad.
Hy kon besluit het om nie terug na sy vader te gaan nie en daar in die vreemde uiteindelik gesterf het  en nooit weer ‘n liefdesverhouding met sy vader gehad het nie.

Niemand kan my uit die hand van My Vader neem nie maar ek kan deur my eie wil te gebruik in sonde sonder vergifnis so ver van my Vader af beweeg, dat ek later nie meer wil terugkom nie en daarom, om dit so te stel, nie meer kan, eintlik moet ek sê, nie meer sal terugkom nie.  Soos Judas byvoorbeeld.

HEB 6:4-6 
4 Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het,
5  en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld,
6  en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

Ek het gesê, dat twee van die vernaamste redes waarom baie Christene se verhouding met ons Here so vertroebel is, dat ons gebede nie verhoor word nie, kry ons in
Matteus 6:12 en ek het in hierdie skrywe met die eerste gedeel soos ek dit sien naamlik.
 
MAT 6:12  en vergeef ons, ons skulde, …

Oor ‘n dag of wat stuur ek vir jou my antwoord van hoe ek die tweede van een van die vernaamste redes sien, van waarom sommige van ons se verhouding met ons Here
so vertroebel is, dat selfs ons gebede nie altyd verhoor word nie.
                  
Vir my persoonlik is dit geheel en al ondenkbaar, dat iemand wat Jesus werklik persoonlik aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, nie die behoefte sal voel om gereeld vir ons Here vergifnis te vra vir die verkeerd wat hulle gedoen het en daarom sodoende van hulle kant af ’n, soos ek dit noem, ‘n vertroebeling van hulle verhouding met ons Here in hulle dag tot dag verhouding veroorsaak het nie.

Groete,
Sakkie