EN VERGEEF ONS, ONS SKULDE, SOOS ONS OOK ONS SKULDENAARS VERGEWE – DEEL 2

EN VERGEEF ONS, ONS SKULDE, SOOS ONS OOK ONS SKULDENAARS VERGEWE. – DEEL 2

Sakkie Parsons

Ek het so ‘n dag of wat gelede vir jou die eerste van hierdie reeks van twee skrywe gestuur, wat ek geskryf het oor ‘n vraag wat iemand aan my gestuur het wat eintlik soos ek dit gesien het, twee vrae in een gewees het.
Hier is net weer die vraag/vrae waaroor hierdie reeks gaan:

“Daar waar Jesus die mense geleer het dat jy jou broer 7 x 70 keer moet vergewe – my vraag is:
Wanneer vergewe jy iemand? Wanneer hy jou om vergifnis vra vir dit wat hy jou aangedoen het of vergewe jy hom sonder dat hy enige berou toon oor wat hy gedoen het? Vader God vergewe ons nie as ons nie berou het en Sy vergifnis aanvaar nie – is ek reg? Dis eers wanneer ons roep: Vader vergewe my sondige mens dat ons Sy genade ons eie kan noem?”

Omdat ek in die eerste skrywe van hierdie kort reeks aan jou my siening met jou gedeel het oor ons Here se vergifnis vir ons en ons belydenis van ons sonde teenoor Hom, wil ek nou in hierdie skrywe aan jou uitsluitlik met die genade en leiding van die Heilige Gees van ons Here met jou deel oor:

“Wanneer vergewe jy iemand? Wanneer hy jou om vergifnis vra vir dit wat hy jou aangedoen het of vergewe jy hom sonder dat hy enige berou toon oor wat hy gedoen het? “

Hier is dan hoe ek die Woord in hierdie verband verstaan en na die beste van my vermoë in my eie lewe probeer uitlewe:

Om mee te begin mag ek nooit maar nooit my laat lei volgens van hoe mense teenoor my optree, of wat hulle teen my sê nie.
Ek moet my altyd laat lei deur Jesus se voorbeeld en hoe Hy my geleer het.
Jesus sê dan ook in hierdie verband.

JHN 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
JHN 10:28  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

‘n Christen behoort, nee eintlik moet ek sê, ‘n Christen/volgeling/dissipel van Jesus moet altyd vergifnis vra vir die mens teenoor wie sy/hy iets verkeerd / gesondig het.

EFE 4:30-32 
30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.
31  Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid.
32  Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.

KOL 3:13  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.

Ek moet ook nie met slegte gedagtes en gevoelens in my hart rondloop omdat iemand iets teen my verkeerd gedoen, gesê ens het nie, ek moet met die persoon daaroor gaan praat en as die persoon my om vergifnis vra, moet ek haar/hom vergewe, al doen die persoon dit meer as een keer en vra weer om verskoning.

LUK 17:3  Pas op vir julleself. En as jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom.
LUK 17:4  En as hy sewe maal op ‘n dag teen jou sondig en sewe maal op ‘n dag na jou terugkom en sê: Ek het berou—moet jy hom vergewe.

Ja, ek weet menslik gesproke is dit nie ‘n maklike ding om van ‘n mens te verwag nie maar dit is moontlik, want Jesus sal nooit vir Sy volgelinge iets vra wat onmoontlik is nie.
Die dissipels het ook gedink dat dit ‘n moeilike ding is wat Jesus van hulle vra, daarom was hulle eerste reaksie nadat Jesus dit gesê het, iets soos:
“Sjoe!  Ons het meer geloof nodig om dit te kan doen.”

LUK 17:4  En as hy sewe maal op ‘n dag teen jou sondig en sewe maal op ‘n dag na jou terugkom en sê: Ek het berou—moet jy hom vergewe.
LUK 17:5  Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof.

Kan jy dit nog nie doen nie?
Daar is ‘n heerlike manier om dit reg te kry.
Ek het in my lewe gevind, dat; hoe nader ek aan ons Here lewe, hoe makliker word dit om te doen wat ons Here Jesus van my verlang.

Iemand sal nou probeer wegkom met die volgende redenasie:
“Dit wat jy sê is waar maar hierdie optrede word net van my verwag teenoor Christene, my broers en susters in die geloof.”

Dit sou seker vir baie mense wonderlik gewees het as dit so was maar dit is nie die waarheid nie, want ek lees:

MAT 5:43  Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat.
MAT 5:44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;

Asook:

MAT 6:14  Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.

MAT 6:15  Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.

Ek verstaan uit Mat 6:14-15, dat iemand wat met ‘n wrok, haat, verbitterdheid, of wat jy dit ook al wil noem rondloop en nie daaraan werk om daarvan ontslae te raak nie, nie werklik ‘n liefdesverhouding met ons Here kan hê nie.

Anders gestel:  Soos ek dit sien sê Mat 6:14-15 vir my, dat die beste wat ek ‘n persoon se verhouding met ons Here kan beskryf, wat met slegte gevoelens teenoor ander mense rondloop en niks daaraan doen nie, omdat dit nie vir die persoon ‘n probleem is nie, is dat dit eintlik geen verhouding is nie.

Dit is vir my heeltemal ondenkbaar, dat ‘n mens, wat Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker en daarom min of meer besef wat Jesus vir hom/haar en sy/haar medemens op Golgota gedoen het, plus wat ons Here vir ons in Sy Woord sê, wat Hy van ons verwag, dat so ‘n persoon met ‘n wrok, haat, bitterheid of watter ander slegte gevoelens in haar/sy hart kan rondloop en niks doen om op ‘n Christelike wyse van daardie gevoelens ontslae te raak nie.

Jy loop dalk rond met allerlei negatiewe gevoelens oor wat iemand jou aangedoen het en jy dink dit is verskriklik wat jou aangedoen was.

Luister my vriend/vriendin:
Na my mening, die grootste sonde/verkeerd wat iemand al ooit in hierdie wêreld gedoen het, het die mense gedoen, toe hulle  God wat Mens geword het, aan ‘n kruis vasgespyker het en lees wat was Sy reaksie teenoor hulle.
Onthou ook as jy dit lees, dat hy dit nie in die eerste plek aan Sy Vader vir Sy broers en vriende gevra het nie maar juis vir hulle wat Hom aan die kruis vas gespyker het.  Ja, Hy kyk na Sy moordenaars en Hy sê, terwyl Hy as gevolg van hulle optrede in die verskriklikste pyn verkeer.

LUK 23:33  En toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter— en een aan die linkerkant.
LUK 23:34  En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp.

Het jy opgelet?
Jesus sê.

LUK 23:34  En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.

Jesus vergewe hulle en nie een van hulle het eens berou gehad oor wat hulle aan Hom gedoen het nie.

Moet nooit dat ander mense jou verhouding met ons Here en jou heerlike vrede deur hulle optrede in jou hart besoedel nie.
Iemand wat werklik ‘n liefdesverhouding met Jesus het, het nie slegte gevoelens teenoor ander mense nie en sou sulke gevoelens by haar/hom oor hierdie of daardie rede opkom, sal sy/hy dadelik op ‘n Christelike wyse werk maak daarvan om van daardie gevoelens ontslae te raak.
Luister –

MAT 22:36-40 
36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Lees wat sê die Woord, hoe sien ons Here iemand in wie Jesus se gebooie nie gestalte kry nie:

1JHN 2:2-4 
2 En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
3  En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar.
4  Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie.

So, wat behoort die mens van sy kant af te doen om te sorg dat sy verhouding met ons Here ‘n mooi liefdesverhouding bly:

Ek deel graag met jou wat nog altyd heerlik vir my werk.
Eerstens, daagliks in my stiltetyd met ons Here, by al die ander dinge waaroor ek met ons Here gesels, onthou ek om in een of ander variasie te vra:

MAT 6:12  en vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

Dan, wat al die mense om my aanbetref, doen ek my uiterste bes om na die beste van my vermoë te doen wat ons Here in Sy Woord vir ons laat skryf het en hier kwoteer
ek: Die Bybel Die Nuwe Lewende Vertaling.

ROM 12:17  Moenie vir enige iemand kwaad met kwaad terug betaal nie; wees positief teenoor alle mense.
ROM 12:18  sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense.

Groete,
Sakkie