GEBED – ‘N GESPREK

GEBED – ‘N GESPREK

Sakkie Parsons

Ek wil begin om vir jou te sê, dat na my mening soos met baie, baie ander dinge in ons Christelike wandel maak mense ook om te bid, iets baie ingewikkeld – terwyl dit eintlik net kommunikasie tussen my en my Vader behoort te wees.

Wanneer ek bid, gesels ek met my Vader en as my verhouding met Hom reg is, is dit presies dit – ‘n gesprek.

Ongelukkig is dit in baie mense se geval, ‘n alleenspraak.  Hulle doen al die praatwerk en ons Here moet net luister.

Dan ook, die meeste mense bid meer as daar probleme is, as wanneer dit goed gaan.
Persoonlik dink ek dit moet net andersom wees. 

Iemand wat ‘n goeie verhouding met ons Here het, sal juis deur sy liefde en dankbaarheid teenoor ons Here, meer met sy Liefdevolle Vader kommunikeer as dit goed gaan, want dan het jy nie nog die probleemsituasie waarin jy is om jou aandag van ons Here af weg te lei nie.  Inteendeel, wanneer dit goed gaan, kan jy lekker met Hom gesels oor al die lekker in die lewe wat jy geniet en Hom vertel hoe dankbaar jy daaroor is.

Verder is ek van mening dat jy nie net daagliks met ons Here moet kommunikeer nie maar daagliks dwarsdeur die dag.
Werk daaraan om op ‘n punt in jou lewe te kom, waar jy dwarsdeur die hele dag, kort-kort in alles wat met jou gebeur met ons Here te gesels.

Dan sal jy nie byvoorbeeld, tekens wys vir die ou in die motor voor jou wat iets “stupid” doen nie, om maar net een voorbeeld te noem. 
Jy kan tog nie met ons Here praat oor wat nou net hier voor jou in die pad gebeur het en
terselfdertyd ook tekens wys nie.

Verder het baie van ons se gebede, of dan gesprekke met ons Here niks betekenis nie, omdat ons nie werklik glo dat ons Here na ons luister nie.

Daarom sê Paulus dat ons oor niks bekommerd moet wees nie maar die saak met ons Here moet bespreek en Hom daarvoor moet dank en dit dan in heerlike vrede by Hom moet los.

FIL 4:6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 
FIL 4:7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. 

Als wat ek nou gesê het, kan egter net plaasvind as jy werklik ‘n liefdesverhouding met ons Here het, sodat jy werklik verseker weet, dat dit wat jy nou vir Hom sê, Sy volle aandag, vir jou Sy liefling het.

Dit in ‘n neutedop is hoe ek na gebed, of dan gesprek met ons Here kyk.
Ek het vir jou gesê dat mense gebed soos baie ander dinge in ons Here se Woord partykeer baie meer ingewikkeld maak as wat dit werklik is.
Ek kyk kinderlik na die Woord en so is dinge soos gebed in die Woord vir my nie so gekompliseerd soos wat baie mense dit maak nie.

MAT 18:2 Toe roep Jesus ‘n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan
MAT 18:3 en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!

MAT 11:25 In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. 

MRK 10:15 Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

Groete,
Sakkie