GEBEDSVERHORING

GEBEDSVERHORING

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra dat as jy al baie gebid het en God jou nie antwoord nie, of jy nog moet aanhou om te bid. 

Is dit nie dalk dat God nie eens meer na jou luister nie?

Ek stuur die antwoord wat ons Here op my hart gelê het om vir die persoon te stuur ook vir jou.  Miskien weet jy van iemand wat met dieselfde vrae worstel.

Ek wil begin om te sê, dat ek my nie uitgee as ‘n groot teoloog nie.  Ek weet egter dat ek ‘n kind van God is en dat ek in alles waaroor ek met mense deel, God deur Sy  Woord as my hoogste gesag het.  So ek wil dan sommer dadelik vir jou sê dat ek definitief nie al die antwoorde het nie maar ek kan met jou deel dit wat ek het en die eerste ding wat ek vir jou moet sê, is dat ‘n mens verseker moet aanhou om te bid.

Luk 18:1-8  

1 Jesus het vir hulle ‘n voorbeeld gegee om aan te toon dat hulle altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.

2  Hy het gesê:  “In ‘n bepaalde stad was daar ‘n sekere regter wat God nie geëer en sy medemens nie gerespekteer het nie.

3  Daar was ook ‘n weduwee in daardie stad wat aangehou het om hom te kom vra:  ‘Laat aan my reg geskied in my saak teen my opponent.’

4  “Vir ‘n tyd lank was hy onwillig, maar hy het naderhand vir homself gesê:  ‘Al eer ek God nie en respekteer ek ook nie my medemens nie –

5  omdat hierdie weduwee my so onophoudelik teister, sal ek haar saak behartig, anders sal sy my nog heeltemal gedaan maak.’”

6  Toe sê die Here: “Luister net wat sê die onregverdige regter.

7  Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes nie – hulle wat dag en nag na Hom roep?  Sal Hy aanhou om hulle geduld te toets?

8  Ek sê vir julle:  Hy sal aan hulle reg laat geskied, en baie gou ook!  Nietemin, sal die Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?”

Ek persoonlik vra ook nou al lank vir ons Here om my in ‘n sekere saak te help en Hy het nou nog niks vir my gedoen wat ek kon sien nie, maar dit gaan my nie laat ophou nie.

Jy sien, vir my is die feit dat Hy my nie geantwoord het nie, nié ‘n bewys dat hy my nie hoor nie maar ‘n bewys dat Hy weet dat dit nie vir my nou die regte ding is om te ontvang nie, of dat dit nie die regte tyd is om dit te ontvang nie.

Paulus was ‘n man wat so na aan ons Here gelewe het, dat al was hy nie eens teenwoordig  nie en hulle het klere wat hy gedra het op siekes gelê, het die mense gesond geword.

Handelinge 19:11-12

11 God het deur Paulus se optrede wonderbaarlike dinge gedoen 12sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy vel geraak het, op siekes gesit is, hulle siektes verdwyn het.  Selfs bose geeste het uit mense uitgegaan.

Hierdie magtige werktuig in die hand van ons Here getuig van ‘n probleem in sy eie lewe, as volg:

2 Korintiërs 12:8-9

8 Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat.  9Hy het egter vir my gesê:  “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.”

Soos ek gesê het, daar is baie dinge wat ek nie verstaan nie.  Ek verstaan byvoorbeeld nie hoekom ons Here die duiwel nie sommer daar aan die begin tot niet gemaak het nie.  Hy kan mos enigiets doen.

Ek verstaan ook nie hoekom in Daniël se geval God die volgende toegelaat het terwyl Daniël so lank gebid het nie:

Daniël 10:10-14

10’n Hand het my op my hande en knieë gehelp.  Ek het staan en bewe.  11Hy het vir my gesê:  “Daniël, liewe man, luister aandagtig na wat ek vir jou sê.  Staan op jou voete!  Ek is na jou toe gestuur.”  Toe hy dit vir my sê, het ek al bewend regop gaan staan.  12Hy sê toe vir my:  “Moenie bang wees nie, Daniël.  Jou gebed is alreeds verhoor toe jy begin soek het na antwoorde en tot jou God begin bid het daaroor.  Ek het gekom in antwoord op jou gebed.  13Die aanvoerder van die Persiese koninkryk het my 21 dae lank teengestaan.  Migael, een van die belangrikste leiers, het my te hulp gesnel.  Ek het hom daar gelos by die aanvoerders van die Perse.  14Ek het gekom om vir jou te verduidelik wat in die laaste dae met jou volk sal gebeur.  Die visioen het met daardie laaste dae te doen.”

Ek kyk na die dinge wat ek nie verstaan nie, soos my groot held Paulus daarna kyk:

1 Korintiërs 13:12

Nou sien ons dinge nog net vaagweg soos in ‘n dowwe spieël, maar eendag sal alles vir ons glashelder duidelik wees.  Nou verstaan ek net ten dele, maar eendag sal ek ten volle verstaan, net soos God my nou ten volle verstaan

Al verstaan ek dit nie, gaan ek elke keer met my probleme en met my behoeftes en my begeertes na ons Here toe, met my gedagtes as volg ingestel:

Filippense 4:6-7

6Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles.  Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen.  7As julle só bid, sal julle God se vrede beleef.  Hierdie vrede is wonderliker as wat ‘n mens ooit kan dink.  Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas.

Wat ook al met my gebed gebeur, of my gebed beantwoord word of nie, ek kyk so daarna en ek glo ons moet so na ons gebede kyk:

Habakuk 3:17-19

17Selfs al sal die vyebome nie bot nie en die wingerd sonder druiwe staan, al het die olyfoes misluk, en lewer die landerye niks op nie, al vergaan die kleinvee in die veld en is die beeskrale leeg,  18tog, ten spyte van alles, sal ek my verbly in die HERE!  Ek sal juig oor God wat my verlos!  19Die HERE, die Oppermagtige, is my krag!  Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok;  op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Ek weet nie hoekom Hy my nie altyd antwoord soos ek geantwoord wil word nie. 

Ek weet egter hierdie een ding verseker:

Hy is die wonderlikste Vader wat in die heelal is en Hy weet wat vir my die beste is.

Daarom kan ek saam met Dawid opgewonde uitroep:

Psalm 38:10

U weet wat ek begeer, HERE. 

U hoor elke versugting van my.

As ek dit dan so kan opsom:

Jesus sê ons moet aanhou bid.

Jesus sê dat ons ‘n antwoord sal kry.

Dit mag dalk nie die antwoord wees wat ek verwag, of voor gevra het nie maar God sal my antwoord.

Jesus het ook in Getsemane drie maal gebid en gevra dat as dit moontlik is, dit wat vir Hom voorlê, moet verbygaan as dit ons Vader se wil is, en Hy het die antwoord wat Hy gekry het aanvaar, al was dit nie wat Hy gevra het nie.

Dit was egter die beste wat ooit in die ganse skepping kon gebeur het:

MAT 26:36-44 

Jesus se gebedsworsteling in Getsemane

36      Jesus kom toe saam met hulle by ‘n olyftuin met die naam Getsemane en Hy sê:  “Sit julle hier, terwyl Ek daar anderkant gaan bid.”

37   Hy neem toe vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom.  Daarop oorval ‘n groot ontsetting en benoudheid Hom.

38   Hy sê toe vir hulle:  “Ek is benoud tot sterwens toe.  Bly julle hier, en waak saam met My.” 

39      Hy het toe ‘n entjie verder neergeval en met sy gesig plat teen die grond gebid:  “O my Vader!  As dit moontlik is, neem tog hierdie lydensbeker van My weg.  Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil.”

40      Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap.  Hy sê vir Petrus:  “So, kon julle dan nie eers een uur saam met My wakker bly nie?

41      Wees waaksaam en bidAnders sal die versoeking vir julle te sterk word.  ‘n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”

42   Weer het Hy van hulle af weggegaan en gebid:  “My Vader!  As hierdie beker nie van My kan weggaan sonder dat Ek dit moet drink nie, laat U wil dan uitgevoer word.”

43   Hy het toe teruggegaan en kry hulle weer aan die slaap.  Hulle was so vaak dat hulle hulle oë net eenvoudig nie kon oophou nie. 

44   Hy het hulle toe daar gelos en weer weggegaan en dieselfde gebed vir die derde keer gebid. 

Wat ookal gebeur as ons in die geloof bid, dit wat gebeur, is die beste wat in die ganse skepping met ons kan gebeur.

Ek sluit af met hierdie heerlike gedagte van my groot held Paulus:

Romeine 8:25-28

25   Maar as jy dit nog nie het nie, sien jy gretig en volhardend daarna uit.

26   Die Gees van God help ons ook nog boonop in ons onbeholpenheid.  Ons weet immers nie mooi wat en hoe ons moet bid nie.  Maar die Gees self neem ons gebedsbehoeftes voor God op met versugtinge wat nie in menslike taal verwoord kan word nie. 

27      Dié God wat die dieptes van elke hart deurgrond, weet wat die Gees in die oog het – dat Hy in harmonie met God se wil vir die gelowiges intree. 

Oorwinning onder alle omstandighede

28   En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Groete,

Sakkie