GEE UIT LIEFDE EN NIE UIT DWANG
Sakkie Parsons
Na aanlyding van twee dagstukkies wat ek oor tiendes geskryf het, het ‘n pastoor aan my ‘n skrywe gestuur waar hy, soos ek dit tussen die lyne gelees het, my laat verstaan, dat hy nie met my saamstem nie, of dan nie heeltemal met my saamstem nie.
Ek deel graag my antwoord aan hom met jou.
Ek begin dan met my stelling wat ek in my vorige skrywe aan jou ook genoem het.
Nêrens maar nêrens in die Nuwe Testament kom die woord ‘tiende’ voor, of ‘n ander woord, wat soos ek die Woord lees en Afrikaans verstaan, wat naastenby soos ‘tiende’ klink, wat ek verplig word om te gee nie.
Dan ook, nêrens maar nêrens in die Nuwe Testament is daar ‘n opdrag of iets in daardie lyn wat eens amper eerlik gebruik kan word om te sê:
“Hier lees ek dat ‘n Christen verplig word om ‘n tiende van sy/haar geld of enigiets anders te moet gee nie.”
Kom ons kyk gou na die gedeeltes uit die Woord wat die persoon, kom ons noem hom Jan, vir my gestuur het:
1KOR 9:11-15
11 Ons het goeie geestelike saad onder julle gesaai. Is dit dan te veel gevra om op ons beurt stoflike versorging van julle te “oes”?
12 As julle ander ondersteun wat by julle optree, kom dit ons dan nie nog meer toe nie? En tog het ons nie van hierdie reg gebruik gemaak nie! Ons sal ons eerder alles laat welgeval as om die Goeie Nuus oor Christus in enige opsig te benadeel.
13 Weet julle nie dat hulle wat in die tempel werk, te ete kry van die offers wat na die tempel gebring word nie? En dat hulle wat die altaar bedien, ‘n deel kry van die offerandes nie?
14 Net so het die Here opdrag gegee dat hulle wat die Goeie Nuus verkondig, versorg moet word deur dié aan wie hulle die Goeie Nuus verkondig.
15 En tog het ek in geen opsig daarvan gebruik gemaak nie. Ek skryf hierdie dinge ook nie om te suggereer dat dit nou met my moet gebeur nie. Om die waarheid te sê, ek sal eerder sterf as om die onderskeiding prys te gee dat ek die Goeie Nuus kosteloos verkondig.2KOR 12:13 In watter opsig is julle slegter daaraan toe as die ander gemeentes, behalwe dat ek self nie vir julle tot ‘n las was nie? Vergewe my hierdie “onreg”!
Dan verduidelik Jan die gedeeltes wat hy vir my gestuur het onder andere so:
“Paulus vra vergifnis dat hy onreg aan hulle gedoen het, dat hy verkeerd opgetree het om hulle nie te belas met finansiële ondersteuning van hulle aan die kerk nie.”
Ek het nog nooit en sal ook nooit so dwaas wees, as om te sê dat die gemeente nie hulle gemeente en die res van die kerk finansieel moet ondersteun nie.
Wat ek wel sê en wat jou teksgedeeltes eindelik ook ondersteun, is ons moet nie mense op ‘n subtiele wyse eintlik probeer forseer om iets te doen, wat nie in die Woord deur ons Here of een van Sy skrywers van die Nuwe Testament verkondig word nie.
Met ander woorde – moet nie vir jou gemeentelede sê, dat hulle deur ons Here verplig word om ‘n tiende van hulle wat ook al te gee nie, want dit is ‘n leuen en alle leuens het hulle oorsprong uit die hart van satan.
Soos daar geskryf staan:
JHN 8:44 Julle het uit die duiwel as julle pa ontstaan, en julle wil net doen wat hy as pa van julle verwag. Hy was van die heel begin af ‘n mensemoordenaar. En hy staan nie in ‘n verhouding met die waarheid nie omdat die waarheid nie in ‘n verhouding met hom staan nie. Wanneer hy ook al leuens verkoop, praat hy volgens sy innerlike oortuiging omdat hy ‘n leuenaar en ook die vader daarvan is.
Uit jou skrywe aan my wil dit voorkom of daar ook dalk ‘n verwarring kan bestaan tussen offer/offerande en tiende.
Die HAT (Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal,) sê van ‘offer’ onder andere die volgende:
“Offer: Wat as huldebetoon aan God gebring word, offerande. Wat aangebied word. Wat opgeoffer word.”
Van tiende sê die HAT die volgende:
“Tiende: Elkeen van tien gelyke dele waarin iets verdeel is.”
Daar is egter nog ‘n woord in die HAT wat ek met jou wil deel, wat baie denominasies op Jesus se kinders toepas, wat na my mening sommer net boos is, omdat dit nie op Jesus se kinders van toepassing is nie en daarom na my mening ‘n leuenagtige versinsel is en dit is – en ek gee die woord saam met die verduideliking wat die HAT van die woord gee –
“Tiendepligtig”: Verplig om een tiende te betaal.
Die naaste wat ek aan ‘tiendepligtig’ kom in die Woord en dit is omtrent so vêr soos die ooste verwyderd is van die weste en ek het dit ook in een van my dagstukkies oor die ‘tiende’ genoem, is die volgende:
2KOR 9:7 Elkeen moet gee soos hy in sy hart besluit het, nie uit spyt of dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.
Met die ”jy moet jou tiende gee” wat sommige denominasies van Jesus se kinders verwag en die redenasies wat hulle gebruik om hulle lede as te ware te dwing om dit te doen, natuurlik net die geld gedeelte, kry jy gewoonlik onder andere een van die volgende scenarios:
Baie, baie min mense wat hulle tiendes vir ons Here gee, gee wérklik ‘n tiende,met ander woorde hulle gee iets waaroor hulle lieg.
Wat ‘n verskriklike belediging teenoor ons Here.
Nog voorbeelde van hoe sommige mense oor tiendes redeneer is byvoorbeeld:
Sommige mense gee wat hulle werklik as ‘n tiende beskou maar ná aftrekkings en weer wetend of onwetend na my mening lieg hulle as hulle dit ‘n tiende noem.
Ander gee wat hulle ‘n tiende noem, vóór aftrekkings maar met die gedagte, nou gaan ons Here hulle seën. Met ander woorde as jy dit afsny tot op die been, nou het ek ons Here se guns gekoop.
Nog ‘n ander groep gee wat hulle ‘n tiende noem, sodat ons Here hulle tog net in vrede moet los en nie straf omdat hulle dalk nie tiende gee nie.
Hoe absoluut tragies, dat hulle almal die ‘tiende’ gee dan ook net ‘n’ tiende’ waar dit om geld gaan natuurlik . Met ander woord, die tiende wat om die god mammon draai.
MAT 6:24 “Niemand kan tegelyk twee base dien nie. Hy sal óf ‘n renons in die een hê en van die ander een hou; óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een geringskat. Om god én die geldgod (Mammon) saam te dien, is absoluut onmoontlik.
Hoe absoluut tragies, dat daar leiers/herders is, wat hamer op die ‘tiende’ en dan natuurlik ook net op die geld gedeelte daarvan en terwyl hulle, hulle kudde onder die Mosaïese wet plaas, eintlik moedswillig vergeet:
JAK 2:10 Julle weet mos: iemand wat al die gebooie onderhou behalwe één, is net so skuldig as iemand wat ál die gebooie oortree.
Wat ‘n hartseer toedrag van sake, as jy mense wil verplig om ‘n tiende te gee, natuurlik net die geld gedeelte. Te meer nog, omdat ‘tiende’ nie werklik deel van ‘n Christen se godsdiens is nie.
Baie denominasies, laat jou nie toe om op die kerkraad te dien, as jy nie jou tiende gee nie. Dit is nou die tiende van jou geld natuurlik.
Jy mag dalk twee of meer tiendes van jou kennis, gewilligheid en tyd gee maar as jy die amp van ouderling of diaken wil hê, moet jy ‘n tiende van jou geld gee, al lieg jy so ‘n bietjie oor die presiese bedrag waaruit jou tiende bestaan.
Hoe absoluut tragies is dit nie.
Gelukkig egter is daar darem nog ‘n groep, wat met ons Here gaan gesels en met opregte liefde oop kaarte met ons Here speel waar dit by hulle geld, of wat ook al kom en vir Hom sê:
“Here dit is wat ek het en dit is wat ek met liefde graag vir U wil gee, omdat ek vir U lief is en nie omdat ek deur ‘n mens of die een of die ander wet of menslike instelling gedwing word nie. Al wat my dwing om hierdie bedrag/dit wat ek nou vir U genoem het vir U te gee, is my Liefde vir U.”
Die 1953 Vertaling stel dit so:
2KOR 9:7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.
Dit moet nie onder dwang, met ander woorde, nie om dit so te stel, ‘n ‘tiende’ ook net van my geld, uit my geforseer word nie.
Nee o nee!
Dit behoort ‘n heerlike offer, of dan dankoffer, waaroor ek in my hart met liefde besluit het, te wees.
2KOR 9:5 Daarom beskou ek dit as noodsaaklik om die broers aan te spoor om vooruit na julle toe te gaan. Hulle moet die dankoffer gereedmaak wat julle vroeër reeds beloof het. Dan sal dit gereed wees as ‘n vrywillige dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie.
So, as jy vir ons Here wil gee, gee wat jy in opregte liefde vir Hom wil gee.
Miskien is dit geld.
Miskien is dit jou tyd.
Miskien is dit waarin jy opgelei is.
Dit kan ‘n tiende daarvan wees maar dit mag minder of meer ook daarvan wees.
Wat dit ook al is, doen of gee daarvan, soveel soos wat jy in opregte liefde in jou hart besluit het. Omdat jy weet en daarvolgens lewe.
2KOR 9:7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.
Asook:
2KOR 9:6 Dus staan die saak só: Wie suinig saai, sal karig oes; wie ruimhartig saai, sal volop oes.
Groete,
Sakkie