GEREGTIGHEID VIR ‘N KIND VAN GOD IS OM GOD EERSTE TE STEL IN MY LEWE – DEEL 2

GEREGTIGHEID VIR ‘N KIND VAN GOD IS OM GOD EERSTE TE STEL IN MY LEWE -Deel 2.

Sakkie Parsons

In hierdie skrywe gaan ek voort om met jou te deel oor ‘n vraag wat iemand aan my gestuur het naamlik:

Iemand het aan my geskryf en my gevra, of ek MAT 5:20 kan verduidelik.

Wat word byvoorbeeld bedoel met:

“as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, …”

Ek het toe in die vorige skrywe iets gesê oor ons Here se kinders se geregtigheid.

Nou wil ek so ‘n bietjie met jou deel oor “self-geregtigheid”.

Want sien – Dit was hoe die Fariseërs en die skrifgeleerdes geleef het en dit is ook die mense wat Jesus gebruik het om aan ons te wys, dat daardie soort godsdiens jou nie in die Hemel gaan bring nie.

Daardie soort godsdiens is een van satan se perfekte resepte wat hy vir mense voorhou om hulle in die hel te kry.

So, wat bedoel Jesus in MAT 5:20 met:

“julle geregtigheid.”

Vir my wat die Woord soos ‘n kind, Sy kind, lees, is dit heel eenvoudig.

Dit beteken om in my verhouding met ons Here, na die beste van my vermoë “reg” met Hom te leef.

Ek moet met ander woorde in ‘n liefdesverhouding met ons Here volgens Sy wil leef:

MAT 7:21  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

Dit is natuurlik iets wat die Fariseërs en skrifgeleerdes nié gedoen het nie.

Hulle het nie hulle geregtigheid volgens ons Here se wil uitgelewe nie.

Hulle het sélfgeregtig volgens satan se wil gelewe .

Jesus sê van hulle – en ek kwoteer net ‘n klein gedeelte van wat Jesus alles oor hulle sê:

MAT 23:6  En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges

MAT 23:7  en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi!

Kyk net hoe voel ons Here oor mense wat so leef en wat dink Hy van sulke mense:

MAT 23:25  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.

MAT 23:26  Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word.

MAT 23:27  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.

MAT 23:28  So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.

Hierdie mense was vol godsdiens maar dolleeg van God.

Kyk net waarmee vergelyk ons Here godsdienstige mense wat nie werklik God in hulle harte en lewe het nie:

MAT 23:33  Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?

Leef en geniet jou lewe terwyl jy áltyd ons Here eerste in álles stel, omdat jy Jesus se woorde onthou:

MAT 5:20  Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.

Ek sluit dan hierdie skrywe aan jou af met die volgende uit ons Here se kosbare Woord:

MAT 6:33  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

In ‘n nuwer Vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

MAT 6:33  “…, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg.

Groete

Sakkie

E-pos:            bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:     www.sakkieparsons.co.za

Sel:                 083 457 6669

Judas 1:24-25Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,

     aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereelde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.