GOD, ONS VADER

GOD, ONS VADER

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Ek wil hoor of jy iets het oor of God manlik of vroulik is.
Ons was Sondag by ‘n Hervormde kerk toe sing hulle ‘n lied waarin die woorde Moeder God voorkom, ons het agterna vir die prediker gevra hoekom? 
Sy eerste reaksie was ons moet dit maar vir die liedjieskrywer vra toe ons hom meedeel dat dit tog nie korrek is nie het hy gesê maar God kan ook vroulik wees.”

Ek wil dan begin deur te sê, dat ek nie dink daar was al ‘n tyd vandat die Evangelie van Jesus Christus verkondig word, dat daar al so ‘n velle en na my mening so in die oortreffende trap, boos aanslae op die Woord gemaak was soos vandag nie.

Die een sal iets uit die Woord neem en met groot oortuiging verkondig, dat dit nie meer wat ons aanbetref van toepassing is nie want:
“Tye het verander.  Ons leef nou in ‘n ander tyd waar dit nie meer op ons van toepassing is nie.”

‘n Ander een sal kom en iets weer byvoeg, soos in die geval; “Moeder God.”
Want hulle het nou hierdie nuwe openbaring ontvang; “dat ons nou ook van moeder God kan praat.”

Al is dit so geweldig hartseer om hierdie vir my, sommer boosheid, te aanskou, maak dit my ook baie opgewonde omdat dit nog maar net een van die baie booshede is wat vir my sê dat ons in die laaste dae leef en ek weet nie hoe lank hierdie tydperk gaan aanhou voor Jesus kom nie maar ons leef verseker, soos ek dit sien, in die laaste dae.

Terug by die vraag aan my:

Eerstens en ek bly net by die Nuwe Testament, want dit is wanneer ons Here ‘n Nuwe Testament  vir Sy volgelinge opgestel het.  Nie dat ek nie waarde heg aan die Ou Testament nie, maar ek het genoeg voorbeelde van “Vader God” in die Nuwe Testament.

Eerstens byvoorbeeld, het Jesus in wie se elke Woord ek glo, altyd van “Sy Vader” gepraat en nooit, nie eens een keer na God die Vader, as Sy moeder verwys nie en wat nog meer is, het Hy ons geleer om na God as ons Vader te verwys:

MAT 6:9  Bid dan soos volg:
ONS VADER in die hemel,
laat u Naam geheilig word. …

En Jesus en Sy Woord het nog nooit verander nie:

HEB 13:8  Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!

Dan, so met die “moeder God” in gedagte saam met al die ander verdraaiings, uithaal  en byvoeg wat die mens in sy bose gehoorsaamheid aan satan in die Woord verander in gedagte, lees ons net in die volgende vers na HEB 13:8 die volgende:

HEB 13:9  Pas op dat julle nie meegesleur word deur die bekoring van allerlei vreemde idees nie. …

Ons moet ook onthou dat ons Here nie ‘n mens is nie en dus in die menslike liggaamlike sin ‘n manlike of vroulike liggaam het nie.
God is Gees.

JOH 4:23-24
23  Daar kom egter ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, wanneer die egte aanbidders DIE VADER vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid sal aanbid, want die VADER verkies dat die mense Hom só aanbid.
24 GOD IS GEES, en dié wat Hom aanbid, moet Hom vanuit ’n hegte verhouding met die Gees en in waarheid aanbid.”

As God dan Gees is, waarom moet ons dan na Hom (nie ‘Haar’ nie) As Vader’ en dan in alle gevalle in die manlike term verwys?

Wel vir my is die antwoord eenvoudig:

Omdat Hy so na Homself deurgaans in die Woord verwys.

Ek het jou reeds gewys hoe Jesus sê ons na Hom moet verwys so ek deel dan net nog een van die so baie voorbeelde uit die Woord wat ek met jou kon gedeel het:

1THS 1:1  Paulus en sy kollegas skryf aan die gemeente in Tessalonika en stuur ’n seëngroet.
Hierdie brief kom van Paulus, Silvanus en Timoteus.
Ons skryf aan die gemeente in Tessalonika wat aan GOD DIE VADER en die Here Jesus Christus behoort.
Genade en vrede vir julle.

Daarom:
Dit is gewoon net onbybels om na God ons Vader as ‘God ons moeder’, of byvoorbeeld na God ons Koning as ‘God ons Koningin’ te verwys.

As jy gewoonlik met mense ‘n indiepte gesprek voer wat God onse Vader verander na byvoorbeeld ‘God ons moeder’, of God ons Koning na ‘God ons Koningin’, sal jy agterkom dat hulle ook nie die Bybel in sy geheel aanvaar as die onfeilbare enigste waaragtige Woord van God nie.
Hulle sal of in die geheel die Bybel beskou as ‘n Boek wat deur mense opgestel is, of hulle sal jou laat verstaan, dat die Bybel in ‘n tyd geskryf is, toe die man alles en die vrou niks was nie en ons nou in ‘n ander tyd leef en ons, (dit is nou hulle natuurlik) hier kan verander en daar kan verander en hier uithaal en daar bysit, soos hulle met hulle beter insig en of openbarings dit nou kan doen.
Hulle tree op so, asof God nie kon sien dat die tye gaan verander, soos hulle dit noem nie.
Baie van hierdie mense, amper skryf ek die meeste van hierdie mense, se eintlike probleem is die feit dat die man in die huis en ook op baie afdelings in die gemeente deur ons Here die verantwoordelikheid gegee het, om dit so te stel, voor te loop.
Dit weer het ons Here gedoen, so glo ek om te sorg dat daar orde is.
Byvoorbeeld in die huisgesin, moet iemand die leiding neem, want as albei die leiding neem, sal daar altyd die een of ander tyd indien nie gedurig nie, altyd konflik wees.
Om ‘n Engelse uitdrukking te gebruik:
“Too many cooks spoil the broth”
So met ‘n glimlag, om maar net een voorbeeld te gebruik terwyl ek tog nou die Engelse uitdrukking, waar kos betrokke is  gebruik het; In baie huise sou daar chaos en groot rusie omtrent elke aand as dit by kosmaak kom, gewees het en nou het ek nog nie eens by die meer ernstige afdelings van die huwelik en huisgesin gekom nie.

Laat ons egter baie duidelik hierdie groot waarheid uit die Woord verstaan en uitlewe:

God ons Vader het die vrou verseker as mens nie ondergeskik aan die man geskep nie.  Voor God is die vrou en die man gelyk.  Die een is nie ondergeskik of minder mens as die ander nie.
God het die man en die vrou na Sy beeld geskape:

GEN 1:27 God het die mens in ooreenstemming met Homself geskep;
volgens sy eie beeld het God hulle geskep;
manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

Manlik, na Sy beeld en vroulik, na Sy beeld, nie die een ondergeskik aan die ander een nie, het Hy hulle geskape.

Ten slotte:

Kom jy en ek dien en leef vir ons Here volgens sy Woord wat Hy ons gegee het in die wete:

HEB 13:8  Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!

Jesus Christus het nie verander nie en dan natuurlik vanselfsprekend ook nie Sy Woord nie.  Hoe heerlik om elke keer as ek die Woord van ons Here oopmaak, hierdie grootse waarheid te besef, wat vir baie verborge is.  Van die onveranderlikheid, en onlosmakendheid van Jesus Christus en Sy Woord van mekaar:
Ek lees en prys die Naam van ons Here, ons God, ons Verlosser en Saligmaker:

JOH 1:1  Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.
Die Woord was by God,
en die Woord was self God.

Terwyl ek ook onthou, dat die Woord is God se Woord – 
 

Sy liefdesbrief aan my –
 

Om my te help om by Hom in die Hemel te kom, om daar vir ewig by Hom te wees!

Groete,
Sakkie