GOD SE GEES BOKANT ELKE ANDER GEES – DEEL 1

GOD SE GEES BOKANT ELKE ANDER GEES – DEEL 1

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende:
 

“Kan jy my help om iets te verstaan asseblief. Ek lees in 1Sameul 16:14 “maar die Gees van die Here het van Saul gewyk, en n  bose gees, deur die Here gestuur, het hom verskrik. Wat is die mening daarvan, ek bedoel, die Here maak tog sekerlik nie gebruik van geeste onder die mag van satan nie?”

Hier dan hoe ek dinge in en om hierdie gedeelte verstaan:

Ons Here is soewerein, alwetend, almagtig en alomteenwoordig.  Daarom, kan níks in die heelal gebeur waarvan Hy nie weet nie en uiteindelik ook moet toelaat, anders kan dit nie gebeur nie.

Daarom kan jy ook van die veronderstelling uitgaan, soos wat hier in 1SAM 16:14 gedoen word, dat die bose gees van God uitgegaan het maar die bose gees het net van God uitgegaan in so ver as wat God in Sy alwetendheid daarvan geweet het en dit nie in Sy almag verhoed het nie.

1SAM 16:14  Maar die Gees van die Here het Saul verlaat. ’n Bose gees wat die Here gestuur het, het hom geteister.

Ons lees ook op ander plekke soortgelyke mededelings.
Hoekom ons Here dit in hierdie geval nie verhoed het dat ‘n bose gees  van Saul besit geneem het nie, kom ek later by.

Ek glo, dat dit wat ek nou met jou gaan deel ook gaan help dat jy dit wat ek reeds gesê het jy nog beter gaan verstaan.
Ek wil dan met die volgende gedeelte uit die Woord begin:
Jesus sê:

MAT 12:30  “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En elkeen wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar.

Jy sien –
‘n Mens kan nooit neutraal wees as dit by ons Here kom nie en daar kan ook nooit ‘n leemte in jou wees nie.
Jy het óf Jesus se Gees in jou, óf jy het, om dit so te stel, die gees van hierdie wêreld in jou.
Jy kan nooit albei in jou teenwoordig hê nie maar elke mens het of die een of die ander in haar/hom:

MAT 6:24  “Niemand kan tegelyk twee base dien nie. Hy sal óf ’n renons in die een hê en van die ander een hou; óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een geringskat. …

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

MAT 6:24  Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. …

Dit maak nie saak hoe mooi iemand se geaardheid is en hoeveel wonderlike dinge die persoon doen nie maar as die persoon nié vir Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker nie, het daardie persoon nie Jesus se Gees teenwoordig in haar of hom nie, maar het die persoon die gees van hierdie wêreld in haar of hom.

Onthou ook dat die god van hierdie wêreld se geeste nie almal ewe boos of sleg is nie.
Ek lees:

MAT12:43-45 
43 “Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens gaan, swerf hy deur dor plekke op soek na ’n rusplek, maar hy kry dit nie.
44 Dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my vorige blyplek.’ Wanneer hy gaan, kry hy dit onbewoon, uitgevee en netjies aan die kant.
45 Daarna gaan neem hy sewe ander geeste, slegter as hyself, saam met hom en trek in daardie persoon in. Uiteindelik sal dit met daardie mens baie slegter gaan as aan die begin. …

Sien jy?
Die gees was sleg maar toe gaan haal hy geeste slegter as hyself.
Jesus sê van Sy volgelinge die volgende:

JOH 14:16  En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees;
JOH 14:17  dit is die Gees van die waarheid. Die wêreld is nie in staat om Hom te ontvang nie omdat hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter, omdat
Hy by julle gaan bly en in julle sal woon.

In Saul se geval, het die Gees van God hom verlaat

1SAM 16:14  Maar die Gees van die Here het Saul verlaat. …

Toe is daar ‘n leemte wat satan se geeste dadelik sal inneem.
Want sien:

MAT 12:30  “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En elkeen wat nie saam met My bymekaarmaak nie, jaag mense uitmekaar.

Daarom vind ons toe in Saul se geval:

1SAM 16:14  Maar die Gees van die Here het Saul verlaat. ’n Bose gees wat die Here gestuur het, het hom geteister.

Dit bring my dadelik by iets anders wat die skrywer in die vraag aan my geskryf het naamlik:
“…, ek bedoel, die Here  maak tog sekerlik nie gebruik van geeste onder die mag van satan nie?”

Hiéroor deel ek egter met jou in deel 2 van hierdie gedagte uit die Woord.

Vir nou laat ek jou met die volgende werklikheid uit die Woord in ons menslike bestaan hier op aarde en dit is, dat uiteindelik is jou en my stryd nie teen daardie sogenaamde bose mens nie maar die bose wat daardie mens misbruik:

EFE 6:12  Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes.

Groete,
Sakkie