GOD SE GENADE IS VERNIET, MAAR NIE GOEDKOOP NIE

GOD SE GENADE IS VERNIET, MAAR NIE GOEDKOOP NIE

Sakkie Parsons

Ek het nou die anderdag iets gehoor wat my weer laat dink het aan iets wat gebeur het wat ek graag met jou deel.
‘n Dame vertel my eendag die volgende:

Ek moet net noem dat ek haar goed geken het en ook die persoon van wie sy my vertel het.  Die persoon van wie sy gepraat het, was ‘n toonaangewende leier in hulle gemeente.
Sy was, na wat ek verneem het, ‘n baie aantreklike dame met, en daarvan kan ek getuig, ‘n pragtige geaardheid.
Sy vertel my dat die getroude man haar gekontak het en vir haar gesê het dat hy verlief op haar is en of hulle nie mekaar êrens kon ontmoet nie.
Toe sy hom vra wat ons Here van so ‘n verhouding sou dink, het hy vir haar gesê dat, as hulle vir God om verskoning vra vir die verkeerd daarvan, Hy hulle sal vergewe en dan is dit reg.

Ek weet dat hierdie voorbeeld ‘n ekstreem voorbeeld is maar ek sien ook daagliks hoe dat mense, jy kan maar sê, met God se genade mors.

Hierdie voorbeeld wat ek nou met jou gedeel het, was ook vir my ‘n baie groot skok, omdat ek die man, ‘n pastoor, baie goed geken het.
God se genade is verniet – dit is waar maar: God se genade is nie goedkoop nie.
Dit is nie iets wat ek aste ware mee kan mors nie.
Nee, dit is nie sommer hierjy se genade nie, want jy sien:

GAL 4:4  Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet.

JHN 1:1  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

JHN 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

JHN 1:16  En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.
JHN 1:17  Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

Weer sê ek.
God se genade is verniet, maar nie goedkoop nie.

1KOR 6:20  Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

Nog verder staan daar.

1KOR 7:23  Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie.

Weereens sê ek:
God se genade is verniet – maar nie goedkoop om mee gemors te word nie.

ROM 6:1-4 
1 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?
2  Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?
3  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

Na my mening:
As ek na God se genade kyk met so ‘n “easy come, easy go” houding, maak ek myself eintlik, of ek dit wil weet of nie, ‘n dienaar/volgeling van satan.

ROM 6:15  Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie!
ROM 6:16  Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?

Onthou ek praat nie van mense wat werklik verslaaf aan een of ander iets is en wérklik probeer om van die verslawing ontslae te raak nie.
Ek praat van iemand, soos my voorbeeld hier bo:  Mense wat willens en wetens, moedswillig die verkeerde doen, sonder om werklik berou te hê.

Vir jou wat ‘n verslawing het en werklik probeer en nie maar net aste ware vrede daarmee gemaak het nie maar bly stry daarteen, wil ek bemoedig met hierdie woorde uit die Woord:

HEB 4:14-16 
14 Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou.
15  Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.
16  Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.

Moet ook nie dat satan daardie swakheid/verslawing gebruik om jou selfbeeld af te takel nie.

Elke keer as jy veg teen wat dit ook al is en jy dan soms die geveg verloor, onthou dan dat jy nou dalk die geveg verloor het maar die oorlog gaan voort en dan onthou jy ook:

1PET 2:9  Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.

Gaan dan in die Gees net daar waar jy is op jou knieë en prys en dank jou God, vir Sy baie duur verniet genade en stry voort maar moet nooit met God se verniet genade mors nie.

EFE 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.

Die NLV stel dit as volg:

EFE 4:30 Ja, moenie God se Heilige Gees hartseer maak nie.  In die regte verhouding met die Heilige Gees lê julle waarborg dat julle God se verlossingsdag sal belewe.

Groete,
Sakkie