HELP, EK HAAT MYSELF

HELP, EK HAAT MYSELF

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

Ek het hulp nodig met selfhaat. 
Dit eet my op en weet nie hoe om dit te hanteer nie.
Kan jul my help asb.  Die probleem is by my. 
Kortliks ek was in kinderhuis. En ek sukkel om vrede te maak.
En dan as ek vriende maak voel ek die vriendin is beter as ek en dan draai ek my rug op haar. Dit doen ek ook met baie hartseer .

Voordat ek jou antwoord, wil ek net eers noem, dat ek baie deernis met jou het.

Ekself was ook op ‘n jong ouderdom, nie so jonk soos jy nie, van my ouers weggeneem. 
Ek was, as ek dit nog reg onthou, 7 jaar oud maar daar is, om dit so te stel, sekere nadele daaraan verbonde om op daardie ouderdom en nie baie vroeër van jou ouers af weggeneem te word nie.  Jy het ‘n geheue.

Dit gesê, wil ek nou reg aan die begin aan jou noem, dat jy nie jouself moet haat nie. 
Meer – Jy mág dit nie doen nie. 

Want jy is deur ons Here self geskep en Hy het jou so lief en dink so baie van jou, dat Hy Sy eniggebore Seun geoffer het, om as jy wil, eendag vir altyd by Hom te wees:

1KOR 6:20  want julle is teen ’n duur prys gekoop. Daarom moet julle God met julle liggaam verheerlik.

1PET 1:18-20
18 Julle weet mos dat God betaal het om julle los te koop van die sinlose leefstyl wat julle van julle voorouers oorgeërf het. En dié losprys was nie dinge wat vergaan, soos goud of silwer nie.
19 Inteendeel, dit was die kosbare bloed van Christus, soos dié van ’n lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.
20 God het Hom lank voor die skepping al hiervoor bestem. God het Hom egter eers in hierdie eindtyd vir almal sigbaar gemaak. En Hy het dit vir júlle gedoen.

Onthou nou, dat ek nie ‘n sielkundige is nie.
Ek kan mense probeer help deur met hulle te deel wat ek in die Woord vind en selfs dit kry ek nie altyd reg nie, gewoon omdat ek eenvoudig nie al die antwoorde het nie maar dan ek het in my lewe nog nie een ware kind van God gevind wat gedink het, dat hy/sy al die antwoorde het nie.

Wat ek met die Woord tot my beskikking met jou wil deel  is – en ek het jou nou ook uit die Woord gewys:

Jy is baie kosbaar vir ons Here.  Jy is Sy handewerk.  Daar is in die hele heelal – nie net op ons klein aarde nie, nie nog een soos jy nie.

Jy mag jouself nie haat nie en geen mens op hierdie aarde is voor ons Here meer kosbaar vir ons Here as jy nie.

Dan net nog iets:
Soos ons Here vir ons dokters en onderwysers gegee het en ook allerlei medikasie, byvoorbeeld, as ek net voel ‘n kopseer kom aan, dan neem ek pille daarvoor.
Wel, net so het ons Here ook vir ons wonderlike mense soos sielkundiges gegee en die medikasie wat hulle voorskryf en ek wil vra, of jy nie asseblief ‘n Christelike sielkundige wil soek en dan ook die medikasie wat hy/sy mag voorstel, wil gebruik nie?

So met ‘n glimlag – Ek gebruik pille vir hoë bloeddruk en as dit nie daarvoor gewees het nie, sou ek een teen tien nie hierdie brief vanaand aan jou geskryf het nie.

Moet nou nie meer na satan luister as hy jou wil vertel, dat jy min of niks werd is nie.  Want glo my, dit is regtig hy wat jou dit vertel om jou te vernietig. 

Want soos ek jou uit ons Here se Woord gewys het, jy is so oneindig kosbaar vir ons Here.

In die wete dat Hy jou vergewe en jou liefhet, sal jy al meer op Hom en Sy Woord fokus as waarheid en lig – en minder op jou gevoelens of leuens van die vyand. 

As jy nog nie Jesus Christus as jou persoonlike Redder en Verlosser aangeneem het nie – bid dan nou saam met my:

“HERE JESUS, Dankie dat U vir my so ‘n geweldige groot versoeningsoffer gebring het om my verhouding met ons GOD te herstel en dat ek U vandag kan aanneem as my HERE, my Redder en my Verlosser.  Ek gee nou my lewe aan U.”  

JOH 3:16 God het die mensewêreld (vir jou) so liefgehad…  (hoor nou…)
dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

In hierdie liefdesverhouding met Hom, met Sy Woord (die Bybel) in jou hart, sal jy groei en verander en meer en meer aan Jesus gelykvormig word.  So ‘n liefdesverhouding met Jesus gaan gepaard met ‘n diepe dankbaarheid asook ‘n innerlike vreugde en vrede.
 

2 KOR 3:18 Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem.  Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee.

Verdere “Gedagtes uit die Woord” wat hieroor handel en wat ek vir jou met groot liefde kan aanstuur of wat jy op die webtuiste kan lees is:

Ons God is nie net ‘n God van liefde nie maar – Hy is liefde self
Wat God berei het vir die wat hom liefhet
Jesus se goedheid en troue liefde duur vir altyd
Hoe lieflik is jy woning van ons Here
Omdat Hy ons eerste liefgehad het

Groete,
Sakkie