HERE LAAT MY HOOR EN VERSTAAN EN LAAT MY KYK EN SIEN

HERE LAAT MY HOOR EN VERSTAAN EN LAAT MY KYK EN SIEN

Sakkie Parsons

In wat ek nou gaan skryf sê ek nie dat ons nie mag lief wees vir dit wat ons, ons eie noem nie maar verseker behoort al my begeertes, gevoelens, tradisies en watter ideologie ek ook vertroetel, ondergeskik te wees aan die volgende:

MAT 22:36-40 
36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Ek luister nou die ander dag weer na ‘n gesprek tussen mense wat hulleself belydende Christene noem en dit tref my weer hoe maklik satan soms godsdiens kan gebruik om mense te laat dink, omdat hulle baie godsdienstig is, hulle ook naby ons Here lewe maar soos ek al vantevore gesê het sê ek nou maar weer –

Ek het in my lewe al gesien, soos nou ook weer in hierdie geval, dat ‘n mens baie godsdienstig kan wees en terselfdertyd ook baie, baie vêr van ons Here af kan wees.

Hierdie spesifieke mense het baie vroom godsdienstig oor die omstandighede in Suid-Afrika gesels en dan soms neerhalend en soms, met wat ek maar net veragting gemeng met haat kan noem, van die, volgens hulle, volksvreemdes gepraat.

Om vir jou te wys wat ek bedoel met “baie godsdienstig maar baie, baie vêr van God af.”
Hierdie spesifieke “godsdienstige” mense, sal saam met jou en my sing:

OPG 5:9  Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,

Dan nog verder saam met jou stem oor:

OPG 5:10  en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

Solank die sogenaamde volksvreemdes  wat êrens in die toekoms saam met hulle “konings en priesters” gaan wees en dit nogal in dieselfde Hemel, net nie langs hulle in ‘n erediens hoef te sit, of deel van hulle vriendekring hoef te wees nie.
Dit is verstommend as jy dink dat hierdie mense in sommige gevalle selfs deur  teoloë gelei, eintlik “mislei” en aangespoor word.  Teoloë, wat al hierdie dinge wat ek nou genoem het al gelees en selfs daaroor gepreek het.
Hierdie godsdienstige mense vertroetel die veragting, bitterheid en haat in hulle harte, terwyl hulle in die Woord lees dat al hierdie soort gevoelens en dade wat soms daarmee gepaard gaan, uiteindelik soos hulle in Engels sê “back fire.”

GAL 6:7  Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.
GAL 6:8  Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; …

Maar hoe heerlik om te weet:

GAL 6:8  … maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.
GAL 6:9  En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.

Ek het gesê, dit is verstommend dat mense wat op hulle godsdienstigheid roem, so ‘n lewensuitkyk kan hê maar dan onthou ek ook dat Jesus by geleentheid juis vir sulke groot godsdienstige mense, wat ook op hulle godsdienstigheid geroem het, gesê het en ek dink dit geld ook vir hierdie godsdienstige mense van wie ek hier skryf omdat volgens wat hulle in die Woord lees en wat hulle lewe, presies dieselfde geld:

MAT 13:14  En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.
MAT 13:15  Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Hierdie mense wat hulleself Christene noem, na wie se gesprek ek geluister het, word so deur ‘n ideologie vol veragting, gemeng met bitterheid en haat verblind, dat so lyk dit vir my, hulle na baie gedeeltes in die Woord, soos byvoorbeeld die volgende kyk en kyk en tog nie sien nie en lees en lees en tog nie verstaan nie.

KOL 3:9-14 
9   Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het
10  en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,
11  waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Skith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.
12  Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
13  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
14  En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.

Jy en ek is mos met Christus beklee.  Ons is kinders van God.
Omdat dit so is, behoort die mense, dit is nou al die mense om ons, die  familie- ooreenkoms tussen ons en Jesus te sien.

ROM 8:16  Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;
ROM 8:17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Ek dink ook dit is goed om te onthou, dat om negatiewe gevoelens soos byvoorbeeld bitterheid, veragting en haat te vertroetel, is soos om gif te drink met die hoop dat iemand anders moet doodgaan.  Dit vernietig uiteindelik egter net jouself.
Terwyl ek dit nou genoem het, is daar ook iets anders, wat elke mens wat haar/homself ‘n Christen noem en met slegte gevoelens teenoor iemand anders in haar/ sy hart rond loop, wel deeglik in gedagte moet hou:

MRK 11:25  En wanneer julle staan en bid, vergeef as julle iets teen iemand het, sodat julle Vader wat in die hemele is, ook julle jul oortredinge mag vergewe.

Want onthou en dit is niemand anders as Jesus self wat dit sê nie:

MRK 11:26  Maar as julle nie vergewe nie, sal julle Vader wat in die hemele is, ook julle oortredinge nie vergewe nie.

Natuurlik is dinge in Suid-Afrika nie ideaal nie maar waar op aarde is dit ideaal?
Ek mag egter nooit Christen wees, soos wat dit vir my in my mensheid lekker en gerieflik is om Christen te wees nie.  Ek moet altyd daarna strewe om Christen te wees soos wat Jesus dit in Sy Woord vir my uiteengesit het.  Met ander woorde ek moet Hom volg soos wat Hy vir my die voorbeeld gestel het.

JHN 10:27-30 
27 My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
28  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
29  My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.
30  Ek en die Vader is een.

Hoe volg ek Jesus?

Ek volg Hom wat hierdie saak aanbetref met die heerlike wete, dat ek tot dieselfde volk behoort as elke ander mens wat ek teëkom, wat Jesus aangeneem het as haar/sy Verlosser en Saligmaker, ongeag van sy/haar kleur of taal.

1PET 2:9  Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,
1PET 2:10  julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.

Ten slotte wil ek net hierdie uit my eie lewe met jou deel:

Vandat ek my hart se deur oopgemaak het vir Jesus en Hom – wat vir alle mense in die wêreld aan die kruis gaan hang het – die beheer van my lewe gegee het, het ek nog nie een volksvreemde in my lewe ontmoet nie maar hoe heerlik!  Elke dag is daar om my, hierdie menigte mense, my naaste met wie ek deur my lewe en soms ook my woorde die liefde van Jesus kan deel en as die geleentheid hom voordoen, ook Sy Evangelie kan verkondig.

ROM 13:8-10 
8 … hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.
9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
10  Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.

Met Mat 22:36-40 aan die begin van hierdie skrywe ingedagte, is dit die moeite werd om weer na ons lewensuitkyk te kyk as ons die volgende uit ons Here se Woord gelees het:

1JHN 2:2-4 
2 En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
3  En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar.
4  Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie.

My gebed vir jou en my terwyl jy hier lees is die volgende:

Here Jesus help ons, dat ons altyd, as ‘n ander mens in ons lewens verskyn, ons sal
kyk en sien en sal verstaan, dat ons ‘n mens sien vir wie U op Golgota aan ‘n kruis
gaan hang het, totdat U gesê het:

JHN 19:30  … Dit is volbring!  En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.

Groete,
Sakkie