HOE KAN EK NET DIE SONDE HAAT, MAAR EK MOET VIR DIE SONDAAR LIEF WEES? – DEEL 1

HOE KAN EK NET DIE SONDE HAAT, MAAR EK MOET VIR DIE SONDAAR LIEF WEES? – DEEL 1

Daar is meer soorte liefde

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra:

“Verduidelik vir my hierdie:

‘Haat die sonde maar wees lief vir die sondaar.’”

Toe sien ek dadelik waarmee die persoon in haar hart gekonfronteer word.

Van baba verkragters tot vroue wat op die wreedste wyses verkrag word en mense wat by mense inbreek en die inwoners op die wreedste wyses martel, baie keer tot die dood toe en ek kan nog aan en aan en aangaan.

So, hoor ek die persoon dan in my verbeelding met ‘n kwaad maar ook hartseer stem vir my vra:

Verduidelik jy nou vir my, hoe kan ek net die sonde haat maar ek moet vir die sondaar lief wees?

Laat ek dan nou so begin:

Eerstens is daar iets omtrent liefde wat ek moet verstaan.

Liefde is nie ‘n emosie nie.

Jy sal natuurlik liefde saam met emosie ervaar maar liefde is nie ‘n emosie nie.

Liefde is ‘n aksie.  Iets wat ek  gedurig aan moet werk en as Christen gedurig , baie, baie hard aan moet werk.

Op talle plekke in die Woord sê ons Here vir ons, dat ons Hom en ons naaste moet liefhê. 

Eintlik stel ek dit heeltemal verkeerd.  Want ons Here gee ons ‘n opdrag.  Ons moet Hom en ons naaste liefhê.

Die beste voorbeeld in die Woord wat ons van hierdie opdrag het, sien ons in Jesus se liefdes-wet aan ons, Sy kinders:

MAT 22:36-40 

36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?

37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. (ons Here gee ons hier ‘n opdrag, nie ‘n keuse nie)

38  Dit is die eerste en groot gebod.

39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: (dit is die twee, om dit so te stel, loop hand aan hand) Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. (weereens, ons word as kinders van God, nie ‘n keuse gegee nie, ons word ‘n opdrag gegee.)

40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.  (alle ander wette, opdragte, of wat jy dit ook al wil noem, is ondergeskik aan dit wat jy nou gelees het.)

So, as ons verstaan, dat liefde nie ‘n emosie is nie maar ‘n aksie, iets wat ek moet doen en as ek dit nie kan doen nie, ek moet werk daaraan om dit te kan doen, is die volgende wat ek moet verstaan, dat daar meer as een soort liefde is. Ek gaan om aan te toon dat daar meer as een soort liefde is met jou as voorbeeld 3 soorte liefde deel net om te bewys wat ek bedoel, want daar is baie meer soorte liefde. 

Die 3 soort liefde is dan die liefde wat gaan oor die liefde vir my naaste wat ook die antwoord insluit oor die vraag hierbo aan my.

Nou goed.

Eerstens het ek my ma en pa en broers en susters lief.  Dit is een soort liefde.

Dan –

My liefde vir my vrou is ‘n heel ander soort liefde.  Om dit so te stel, in ‘n klas van sy eie.

Kyk hoe sê ons Here hoe moet my liefde vir my vrou lyk en wees.

Eerstens lees ons in Genesis waar ons Here Eva geskape het maar ek kwoteer vir jou Jesus, God wie mens geword het, se woorde uit Genesis:

MRK 10:6-8 

6  maar van die begin van die skepping af het God hulle man en vrou gemaak.

7  Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef,

8  en hulle twee sal een vlees word, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees.

Kyk nou hoe sit ons Here hierdie liefde wat ek vir my vrou moet hê uiteen en as ek dit nie so in my huwelik het nie, moet ek daaraan werk, totdat ek dit regkry. Sodat my God tevrede en trots op my kan wees:

EFE 5:25-28 

25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, (daar is mans wat graag sou wou hê, dat hierdie bevel net daar moet stop, want dan is dit nie moeilik nie maar dit stop nie daar nie.  Ons Here sit uiteen wat hierdie liefde vir my vrou behels..) soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het

26  om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,

27  sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.

28  So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief;

Wanneer ‘n man in die kerk, of waar ookal voor ons Here en medegelowiges op die vrae van die pastoor, dominee of wie ook al in ‘n huwelikseremonie “Ja” antwoord, hoor ons Here:

Ek sal my lewe aflê vir hierdie vrou, want ek het haar net so lief en selfs liewer as my eie liggaam.

EFE 5:25-28 

25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het

26  om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,

27  sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.

28  So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame.

Ek het nou ‘n bietjie afgedwaal om te demonstreer dat daar meer as een soort liefde is in die tweede gebod van ons Here aan ons.

Nou wil ek graag met jou deel oor die liefde in die tweede gebod teenoor my naaste, dit  is in die meeste gevalle van die mense wie ek daagliks teëkom, wat buite my, om dit so te stel, my binne-kring val maar wat ons Here in my lewe stuur.

Ek het nou vir jou gewys, hoe lyk byvoorbeeld my liefde vir my vrou.

Nou hoe lyk hierdie liefde vir my naaste?

Ek noem hierdie liefde “compassion” liefde

Die woordeboek sê van “compassion” die volgende en dit bevat vir my ‘n pragtige lys van beskrywende woorde van hoe my liefde vir my naaste moet lyk.

Ons lees.

compassion, medelye, simpatie, empatie, erbarming, barmhartigheid

Ons Here verwag nie van my, om al die mense wie Hy my padlangs stuur, dieselfde liefde te gee as wat ek vir Hom het nie.  Dit is net vir Hom.

Ons Here verwag nie van my om vir al die mense wie hy my padlangs stuur, dieselfde liefde te gee as wat ek vir my vrou het nie.  Dit is net vir haar.

Ons Here verwag nie van my om vir al die mense wie Hy daagliks my pad langs stuur, dieselfde liefde te gee wat ek vir my ma of pa, of broers en susters gee nie.

Die liefde wat ek wel in die Woord sien wat ek wel vir my medemens behoort te gee met wie ek daagliks te doen kry is soos ek reeds genoem het, wat ek in my hart “compassion liefde” noem.

Ek noem ook net weer:

Hoe lyk hierdie “compassion liefde” wat ek vir my naaste moet voel en hoe ervaar ek hierdie liefde vir my naaste?

Soos ek ook reeds genoem het:

Die rede waarom ek die Engelse woord “compassion “ gebruik is die volgende:

Lees net watter wonderlike Afrikaanse woorde, wat so absoluut deel behoort te wees van ‘n ware Christen se lewenswyse, gebruik die woordeboek alles onder andere vir “compassion.”

“Compassion:” Barmhartigheid, bejammer, deelnemend, erbarming, empatie, medelye, simpatie,

Weet jy, soos ek die Woord verstaan –

As jy en ek met hierdie “medelye, simpatie, empatie, erbarming, barmhartigheid” liefde na die mens kyk en waar nodig, soos die barmhartige Samaritaan, met hierdie “medelye, simpatie, empatie, erbarming, barmhartigheid” liefde teenoor die mens wat nou my naaste geword het, omdat ons Here daardie persoon my pad langs gestuur het, optree – dán my vriend/vriendin, sê die Woord, het ons die wet, Jesus se liefdeswet, vervul.

Rom 13:8  Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê.  As jy  jou naaste liefhet, vervul jy die wet.

ROM 13:9  “Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.”

Nou, net voor ek jou antwoord op, of dit reg is:

“Haat die sonde maar wees lief vir die sondaar.”

Kom ons kyk net gou hoe het Jesus hierdie siening hanteer.

Sy vyande het hom gespot.

Sy vyande het hom verneder.

Sy vyande het Hom mishandel.

Sy vyande het Hom aan ‘n kruis vasgespyker.

Hy het geweet hulle is nou besig om Hom te vermoor.

Wat doen Hy toe?

Ons lees:

LUK 23:33  En toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter— en een aan die linkerkant.

LUK 23:34  En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp.

Hoe oneindig geseënd was Sy spotters, mense wat hom, verneder het en mishandel het en uiteindelik menslik gesproke, Hom vermoor het.

Ek het in my meer as 50 jaar wat ek vir ons Here op die een of ander wyse werk, nog nooit iemand teëgekom wat soos hulle kon sê:

Ek het God die Almagtige al fisies gesien en Sy stem fisies gehoor, terwyl Hy vir my bid.

Dan.

Ek persoonlik weet nie of ek dit Christelik sal kan hanteer, as ek byvoorbeeld in die teenwoordigheid van ‘n baba-verkragter moet wees nie maar ek weet hierdie een ding verseker:

1KOR 10:13    Geen versoeking het julle aangegryp behalwe n menslike nie; maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.

So, wees van hierdie een ding baie seker, as dit by jou optrede kom, teenoor wie ookal jy in jou daaglikse lewe in aanraking kom.

Jy, as kind van ons Here, sal – as jy jou kindskap van God wil uitlewe – die krag en alles wat jy nodig moet hê, tot jou beskikking hê om die sonde te haat maar die sondaar lief te hê met compassion liefde.

Dit is die liefde van:

medelye, simpatie, empatie, erbarming en barmhartigheid.

Ten slotte net die volgende:

Baie mense sê baie maklik:

“Ek is lief vir Jesus.”

Wel, Jesus sê, as ek Hom liefhet, sal ek Sy gebooie bewaar:

So, as ek nie met daardie “medelye, simpatie, empatie, erbarming, barmhartigheid liefde” na my medemens kan kyk nie, behoort dit vir my ‘n rooi lig te wees, wat vir my wys, dat ek nog nie werklik vir Jesus lief is nie – en dat daarom, ek nog nie met Jesus die liefdesverhouding het, wat Hy wil dat daar tussen Hom en myself moet wees nie.

Want Jesus sê:

JHN 14:15  As julle My liefhet, bewaar my gebooie.

JHN 14:21  Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.

JHN 14:23  Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.

JHN 14:24  Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.

Dan kom Jesus en wys ons, dat dit baie eenvoudig vir my is om te weet, of ek werklik ‘n liefdesverhouding met Hom het:

JHN 14:24  Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.

Lees net gou weer Jesus se volledige opsomming van Sy twee liefdes-gebooie aan ons, wat ons as maatstaf kan gebruik van waar ons van ons kant af staan in ons liefdesverhouding met Hom:

MAT 22:36-40 

36  Meester, wat is die groot gebod in die wet?

37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. (ons Here gee ons hier ‘n opdrag, nie ‘n keuse nie)

38  Dit is die eerste en groot gebod.

39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: (dit is die twee, om dit so te stel, loop hand aan hand) Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. (weereens, ons word as kinders van God, nie ‘n keuse gegee nie, dit is ‘n opdrag)

40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.  (alle ander wette, opdragte, of wat jy dit ook al wil noem, is ondergeskik aan dit wat jy nou gelees het.)

Luister en dit is nog steeds Jesus wat oor Sy liefde tussen jou en my vir Hom praat:

JHN 15:10  As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.