HOE KAN EK NET DIE SONDE HAAT, MAAR EK MOET VIR DIE SONDAAR LIEF WEES? – DEEL 2

HOE KAN EK NET DIE SONDE HAAT MAAR EK MOET VIR DIE SONDAAR LIEF WEES? – DEEL 2

Jou Maatstaf moet altyd JESUS wees

Hierdie is ‘n opvolg op my antwoord op die vraag wat aan my gestuur was naamlik: “Verduidelik vir my hierdie:

‘Haat die sonde maar wees lief vir die sondaar.’”

In my vorige skrywe het ek die verskillende soorte liefde, soos byvoorbeeld liefde vir my vrou, liefde vir my gesin, en dan liefde vir my naaste behandel, en hoe ons HERE wil hê met watter tipe liefde ek my naaste moet liefhê.

In hierdie opvolg skrywe wil ek graag ons mense se aandag op twee uiters belangrike sake vestig omdat dit die begeerte van ons HERE se hart is dat nie een van ons sal verlore gaan nie. 

Die eerste is – dat ons nie sondaar die maatstaf moet maak waarmee ons meet nie, maar ons maatstaf is Jesus Christus en Sy opdrag aan ons – Sy kinders. 

Die tweede belangrike waarskuwing is die bose verleiding van die vyand wat my eendag uit die Hemel kan hou weens rassehaat in my hart.

As ek net uit ons Here se Woord vir die mense, en ook hier in Suid-Afrika – wat aste ware met die Bybel in die hand vir almal wil vertel watter groot Christene hulle is, maar terselfdertyd verkondig, ‘ons is apart van julle’, ook sover dit by geloof in Christus kom en as jy diegene op die teendeel vir die Christen uit die Woord wil wys, word hulle woedend en skreeu dan soms selfs vir jou:

“Kyk wat doen die … aan ons mense!

Dan kry jy selfs soms nie eens die geleentheid om vir hulle te sê, dat ons nie die sogenaamde ‘hulle’ as maatstaf moet gebruik van hoe ek as Christen moet lewe en die evangelie verkondig nie –  maar dat my maatstaf altyd Jesus moet wees.

Dit is hoekom ons so klaaglik misluk het in die verlede in die verkondiging van Jesus se liefdes-evangelie omdat daar, verkeerdelik natuurlik, deur sommige ‘n valse evangelie van Jesus verkondig word.  Daar vir ons gesê word, dat Jesus se evangelie is ‘n witmens evangelie wat vir die witmense saamgestel is en ons wie nie wit is nie, uitsluit.

Terwyl ons, wie die ware suiwer evangelie van Jesus Christus verkondig verstaan en weet, om maar net een van die voorbeelde uit ons Here se kosbare Woord te kwoteer:

OPB 5:9 Toe sing hulle ‘n nuwe lied (aan die Lam, Jesus) met dié woorde:

U is waardig genoeg om die boekrol te neem en sy seëls te breek omdat U geslag is en met U bloed mense vir God vrygekoop het, uit elke geslag en taalgroep, volk en nasie.

Ongelukkig kry satan dit reg, dat mense soms ‘n bose evangelie verkondig en dat hulle werklik in hulle harte glo, (omdat dit is hoe dit weer aan hulle verkondig was), dit is hoe hulle die evangelie moet verkondig en satan gebruik in hulle gevalle met groot sukses by daardie groot swakheid in die natuurlike mens van: “Ons is ‘n bietjie hoër en beter kwaliteit mens as hulle.” 

Wat hierdie denkwyse selfs, as dit moontlik was, nog erger en boser maak as die eerste wat ek genoem het, is as ek glo, dat ék en net almal soos ek, die uitverkorenes van ons Here is.

Ek moet die tweede deel in Jesus se liefdesgebod aan my, baie, baie ernstig opneem en met alles in my daaraan werk om dit uit te lewe, soos wat Jesus wil dat ek dit uit moet lewe.

Want naasteliefde is deel van heiligmaking en sonder heiligmaking, gaan ek ‘n probleem na die graf hê:

HEB 12:14  Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie;

As ek na die graf nie vir God gaan sien nie, meen dit, dat ek sonder Jesus aan die anderkant van die graf gearriveer het!

Dan, soos ek die Woord verstaan, gaan die Hemel se poorte vir my, met al my godsdiens, toebly:

MAT 25:11  Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, meneer, maak vir ons oop!

MAT 25:12  Maar hy antwoord en sê: Voorwaar (al het julle wit klere aan en al is julle lampe vol olie, ja, met al julle mooi godsdiens) ek sê vir julle, ek ken julle nie.

As ek nie Jesus se evangelie, nadat ek dit aanvaar het en Jesus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker, met Jesus se naasteliefde verkondig nie, gaan ek aan die anderkant van die graf my oë sonder Jesus oopmaak en oor die afgrond die hel in tuimel:

MAT 7:21-23 

21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

22  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?

23  En dan sal Ek aan hulle sê: (julle, met al hierdie mooi godsdiens van julle) Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

Want jy sien:

Rom 13:8  Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê.  As jy  jou naaste liefhet, vervul jy die wet.

ROM 13:9  “Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgesom in hierdie een groot opdrag: “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.”

So, in my menslike swakheid moet ek verstaan:

ROM 6:19  Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking.

ROM 6:22  Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe.

Nou moet ek gedurig waak en bid, want ek onthou:

1PET 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

Ek moet waak, dat ek nie deur satan verslind word en daar van my in my selfvergenoegde godsdiens, van my vanweë my haat en veragting in my hart, getuig kan word nie:

2PET 2:20-22 

20  Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste.

21  Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is.

22  Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.

Daarom moet ons deurentyd waaksaam en op ons hoede wees en sorg, dat ons die volle wapenrusting van ons Here aan het:

EFE 6:14-18 

14  Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,

15  en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.

16  Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.

17  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God— (nie my verdraaiing en hierdie by sit en daardie uithaal woord) nie

18  terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges

Hoe vollediger ons hierdie wapenrusting van ons Here aan het, hoe beter sal ons in staat wees om uit te voer wat Jesus vir ons in Sy Woord laat skryf het:

1PET 5:9-11 

Hom (dit is satan wat rond gaan soos ‘n brullende leeu) moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.

10  En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!

11  Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

2 PETRUS 3:9-11

9 Die Here stel nie die vervulling van Sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie.

Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle. 

Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie,

En daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom.

 Daarom, hoe meer van ons help om Jesus se liefdes-evangelie by soveel mense as moontlik uit te bring, hoe gouer gaan die teenswoordige wêreld gereed wees, dat Jesus ons kom haal.

10 Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ‘n dief. 

Dan sal die hemele met n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame in vuur opgaan en die aarde met alles wat daarop is, vergaan.

11 Aangesien alles om ons só gaan wegbrand, moet julle leefstyl soveel meer aan God toegewy wees en moet julle naby aan Hom lewe!

Verdra my en laat my toe om net weer met jou ons Here Jesus Christus se liefdes-gebooie met jou te deel:

MAT 22:36-40 

36  Meester, wat is die groot gebod in die wet?

37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. (ons Here gee ons hier ‘n opdrag, nie ‘n keuse nie)

38  Dit is die eerste en groot gebod.

39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: (dit is die twee, om dit so te stel, loop hand aan hand) Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. (weereens, ons word as kinders van God, nie ‘n keuse gegee nie, dit is ‘n opdrag)

40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.  (alle ander wette, opdragte, of wat jy dit ook al wil noem, is ondergeskik aan dit wat jy nou gelees het.)

Luister – en dit is nog steeds Jesus wat oor Sy liefde tussen jou en my vir Hom praat:

JHN 15:10  As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.