HOE LIEFLIK IS JY WONING VAN ONS HERE

HOE LIEFLIK IS JY WONING VAN ONS HERE

Sakkie Parsons

Eendag het ‘n persoon wat van ‘n rystoel moes gebruik maak met my oor haar omstandighede gepraat en toe met ‘n bietjie minagting van haar gebroke liggaam soos sy haar liggaam genoem het, gepraat.
Die afsku in haar stem het my geruk en toe ek nou weer iets gehoor het waaroor iemand gepraat het, het ek besluit om jou iets te wys, soos ek dit sien.
Ek glo dat dit êrens vir iemand iets sal beteken.

In die ou Testamentiese tyd  het ons Here die mense ‘n tempel laat bou en die mense het dit ook God se huis genoem.  In hierdie “huis” was daar dan ook ‘n allerheiligste plek waar net die Hoëpriester kon in gaan.

EXO 26:33  En jy moet die voorhangsel onder die hakies ophang; en bring die ark van die Getuienis daar, binnekant die voorhangsel. En die voorhangsel moet vir julle ‘n skeiding maak tussen die Heilige en die Allerheiligste.

Nou weet ons dat God nie regtig in ‘n woning woon wat met hande gemaak is nie.

JES 66:1  So sê die HERE: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees?

Die Woord van God verwys egter na jou en my liggaam as wonings.

2KOR 5:1  Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.

2PET 1:13  En ek beskou dit as reg, so lank as ek in hierdie tentwoning is, om julle deur herinnering op te wek,
2PET 1:14  omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning op hande is, soos onse Here Jesus Christus dit ook aan my bekend gemaak het.

Weet jy wat maak my so opgewonde?
Die Almagtige Skepper van die heelal het by my kom intrek en dit is Sy groot begeerte om by elke mens Sy intrek te neem.

Onthou jy daardie gedeelte waarvoor ek so lief is?:

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Toe, nadat Jesus kruis toe gestap het en toegelaat het dat hulle als aan Hom doen wat
hulle aan Hom gedoen het, stap hy na jou en my tentwoning toe en Hy klop en klop.

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

Jy sien, Jesus kyk nie hoe die woning buitekant lyk nie.
Ja, natuurlik is ek veronderstel om my woning op te pas maar Jesus kyk nie hoe gespierd of hoe mooi my “makeup” aangesit is nie.
Nee, Hy sê:

JHN 14:23  Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.

Op ‘n kol het Jesus na ‘n paar mense gekyk wat baie mooi aangetrek ensovoorts was en vir hulle gesê:

MAT 23:27  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.

As jy jou bekeer het en jy het Jesus Christus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker, dan weet jy, dat jy die deur vir Jesus oopgemaak het.

Dan kan jy na die spieël toe gaan en met groot sekerheid dit uit juig, al gaan jy na daardie spieël toe in ‘n rystoel, of met ‘n kierie, of soos ek, sonder om te kan sien wat die spieël terug weerkaats:

PSM 84:2  Hoe lieflik is u woninge, o HERE van die leërskare!

PSM 139:5  U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.
PSM 139:6  Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.

Groete
Sakkie