HOE MOET EK DIE GEMORS WAARIN EK IS HANTEER?

HOE MOET EK DIE GEMORS WAARIN EK IS HANTEER ?

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en met my die groot gemors, soos die persoon dit noem, waarin die persoon se lewe is gedeel en my gevra:
“Hoe hanteer ek hierdie gemors waarin ek is?”

Ek wil begin deur te sê, dat as jy biddend bly en ons Here eerlik laat verstaan, dat jy wil hê, dat Hy dinge vir jou uitwerk, moet jy begin deur die volgende te doen:
Hou op om bekommerd te wees oor dinge wat jy niks aan kan doen nie.  Ek meen, wat het jou bekommernis en paniek aanvalle jou tot nou toe in die sak gebring, buiten om jou gesondheid op te mors en jou vrede weg te neem. Hou op om jou energie op so ‘n nuttelose optrede te verspil.
Verander in jou situasie wat jy kan verander en los die bekommernis, wat jou tog niks positiefs in die sak bring nie, vir ons Here.

MAT 6:26  Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?
MAT 6:27  Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?

Wat Jesus hier sê is dit:
As ons Here so mooi na die voëls kyk, hoeveel te meer sal Hy nie na ons kyk, vir wie Jesus aan die kruis Sy lewe gegee het nie.
So, wat ek en jy moet doen, is die volgende:

1PET 5:7  Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.

Kan jy nog onthou hoe lyk die agterkant van ‘n tapisserie?  As jy na die agterkant kyk, lyk al die knope van en die stukkies tou of wol na om dit lig uit te druk na chaos maar eintlik kom die woord gemors in jou gedagte op.
Draai nou die tapisserie om en jy sien die lieflikste handewerk.
Jy sien, ons Here wat nie kan lieg nie, het in Sy Woord vir ons laat skryf.

1KOR 13:12  Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.

Uiteindelik, wat ook al met ons hier op aarde gebeur, het ons hierdie heerlike wete:

1JHN 3:2  Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.

Om dan net weer op te som wat ek nou aan jou geskryf het:
Hou op om jou te bekommer, dit bring jou in elk geval niks in die sak nie.
 

Doen biddend wat jy onder leiding van ons Here se Heilige Gees van jou kant af kan doen en los dit wat jy nie kan doen nie, by ons Here en ek meen – los.  Met ander woorde moet nie kort-kort dit weer by ons Here gaan haal en daaroor top en dan weer vir Hom gee nie.  Volg hierdie raad.  Doen dit in die geloof en beleef dan die heerlikheid, wanneer ons Here Sy handewerk van die tapisserie van jou lewe, vir jou omdraai.

Groete,
Sakkie