HOE TREE JY OP WANNEER IEMAND NIE VAN JOU HOU NIE?

HOE TREE JY OP WANNEER IEMAND NIE VAN JOU HOU NIE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“Daar is mense in my lewe, wat vanweë die een of ander rede net nie van my hou nie en dan druk ek dit lig uit.  Ek het tot die slotsom gekom, dat die persoon altyd slegte gevoelens teenoor my sal koester, selfs as ek dood sou wees.”

Ai, ek wens ek het vir jou ‘n kitsoplossing gehad.

Weet jy –
Jy ondervind maar net wat Jesus ook ondervind het.
Daar was ook mense wat, omdat hulle, hulleself oopgemaak het vir satan, net eenvoudig nóóit iets goed in Jesus kon sien nie;
Jesus maak siekes gesond.
Jesus laat blindes sien en dowes hoor.
Jesus gee met amper niks in Sy hande vir duisende kos.
Jesus wek selfs dooies op.
Tog, kon hulle Hom net nooit verdra nie.  Want in hulle het satan gewerk en Jesus was nie eens ‘n gewone mens soos jy en ek nie, Hy was God wat mens geword het.

JOH 1:1 Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan. 
      Die Woord was by God,
      en die Woord was self God.

JOH 1:14 En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, 'n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

Jy sien –
Dit is gewoon net nie moontlik, dat mense wat deur satan gelei word, aanklank by ‘n ware Geesvervulde mens sal vind nie.

Ook in Jesus se geval het dit nie gebeur nie.  So wat is jou en my kanse met sulke mense dat dit sal gebeur?

Wat jy en ek teenoor sulke mense moet doen, is ons moet sorg dra, dat daardie mense áltyd Jesus in ons sal sien.

Dit is ook presies wat Jesus altyd gedoen het, ten spyte van hulle optrede teenoor Hom.
Onthou dat jy en ek is mense en kan nie in die toekoms in sien nie, maar wie weet wat ons Here dalk deur ons in daardie mens se lewe wil doen, al lyk dit vir ons hoe onmoontlik.
Ons lees mos in die Woord:

JER 32:17 “Ag, oppermagtige Here, U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is vir U te moeilik om te doen nie!

In die 1953 lees hierdie gedeelte soos volg:

JER 32:17  Ag, Here HERE, kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur u grote krag en deur u uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie.

Wat jy en ek verseker kan en moet doen wat hierdie mense aanbetref, is om gereeld vir hulle te bid en soos ek reeds genoem het, só te lewe, dat hulle Jesus in ons sal sien.

Dan bedoel ek nie dat ons noodwendig vir hulle moet probeer preek nie.  By mense wat jou nie kan verdra nie, dit allermins.

Iemand het eendag gesê:
“Preek tydig en ontydig vir almal om jou en as jy moet, gebruik woorde ook.”

Ek deel met jou baie goeie raad in hierdie verband wat my groot held Paulus ons gee en wat ek maar altyd probeer toepas:

ROM 12:20 Doen eerder wat die Skrif sê:
     "As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors. (As hulle ‘n behoefte aan iets het, help as jy kan.)
     Deur dit te doen, sal julle hulle bloedrooi van skaamte maak."

ROM 12:21 Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte te bowe kom.

Die 1953 Vertaling stel hierdie gedeelte so:

ROM 12:20  As jou vyand dan honger het, gee hom iets om te eet; as hy dors het, gee hom iets om te drink, want sodoende sal jy op sy hoof vurige kole ophoop.
ROM 12:21  Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.

Wat ek verseker nie moet doen nie, is om negatief teenoor die persoon se optrede te reageer. 
Want, jy sien, dan laat ek satan toe, om deur daardie persoon my, my Christelike standaarde verlaag. 
So dan is satan besig om deur daardie persoon teen my te wen.

Jy kan dit ook so stel:
Die satan laat daardie persoon die kitaar slaan en laat my dan volgens daardie deuntjie dans.
Vir satan is dit dan, om dit so te stel, twee vlieë met een slag.
Ek moet na daardie persoon kyk en onthou:

EFE 6:12 Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose hemelse regeerders en maghebbers, teen die geeste wat mag in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes.

Dan, uiteindelik en hoe heerlik gerusstellend is dit nie vir die kind van ons Here nie en dit het ek werklik baie in my eie lewe gesien –
Jy en ek is gewone mense en ons kan daarom tog in elk geval nie werklik reg laat geskied teenoor die verkeerd wat ons aangedoen word nie.
So los wat gedoen moet word, as daar iets gedoen moet word vir ons Here. 
Hy kan wat gedoen moet word tog uiteindelik ook die beste doen –
Ook wat vergelding aanbetref, wat namens my gedoen moet word.

ROM 12:19 Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif:
"Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here."

Wat ek moet doen is, wat ek in die Woord lees, hóé ek moet lewe, ook teenoor hulle wat my te na kom:

MAT 5:16 Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal laat uitstraal.  Dan sal die mense dit sien, en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

Natuurlik sal daar onder jou, kom ons noem hulle maar teenstanders, mense wees wat selfs ook met hiérdie optrede fout sal vind en jou dalk nog daaroor sal spot ook – maar onthou dan wat hulle aan Jesus gedoen het.

Onthou jy wat ek vroeër in hierdie skrywe gesê het?
“Dit is gewoon net nie moontlik, dat mense wat deur satan gelei word aanklank by ‘n ware Geesvervulde mens sal vind nie.”
Wel, daarom sê Jesus self:

LUK 23:31 "As hulle hierdie dinge aan 'n groen boom (Jesus) doen, wat sal dan met die droë (ons Sy volgelinge) gebeur?"

Gelukkig het ek en jy hierdie heerlike versekering hoekom sekere dinge soms met ons gebeur en hoekom mense sekere dinge aan ons doen, en waarop dit uiteindelik en hoe wonderlik, vir ons uitloop.

JAK 1:2 My broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees.
JAK 1:3 Julle weet mos: Wanneer 'n mens se geloof 'n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard.
JAK 1:4 Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle, julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie.

So, ek probeer maar in my mensheid so na as moontlik aan die volgende instruksies van ons Here te leef:

LUK 6:31-35
31 Doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen.
32 "Dink julle, julle is verdienstelik as julle net dié liefhet wat vir julle lief is? Selfs die sondaars doen dit!
33 En as julle net goeddoen aan dié wat aan julle goeddoen, is dit dan so wonderlik? Die sondaars doen dit tog ook.
34 En as julle geld leen (ook iemand in ‘n probleem situasie help) net aan dié wat julle kan terugbetaal, is dit iets besonders? Selfs sondaars leen aan sondaars om die volle bedrag terug te kry.
35 "Nee, julle moet ook julle výande liefhê! Doen goed aan hulle! Leen aan hulle! (byvoorbeeld help hulle in daardie probleem situasie waarin hulle mag wees, as jy kan) En moenie bekommerd wees dat hulle julle dalk nie kan terugbetaal nie.
Dan sal julle beloning in die hemel baie groot wees, en julle sal werklik optree as kinders van die Allerhoogste, want Hy is goed vir die ondankbares en die slegtes.

LUK 6:36 Julle moet barmhartig wees soos julle Vader barmhartig is."

Natuurlik vaal jy en ek baie wat hierdie saak aanbetref maar dit moet ons net aanspoor om volgende keer nog harder te probeer.
Want soos my Groot held Paulus, sê ek vir myself en ek wil jou aanmoedig om dit ook te doen:.

FIL 3:12 Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie.  Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!

Laat jou en my groot begeerte in hierdie lewe wees om ten spyte van wat ook al nou met ons gebeur, eendag te kan sê:

2TIM 4:7 Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly.
2TIM 4:8 En nou wag die prys vir my: die lourierkrans vir 'n lewe in gehoorsaamheid wat die Here, die regverdige Beoordelaar, my sal gee op die groot dag van sy terugkeer.
En dié prys is nie net vir my nie, maar vir almal wat gretig uitsien na Sy heerlike verskyning.

Groete,
Sakkie