HOE WEET EK DAT GOD SE GEES IN MY IS?

HOE WEET EK DAT GOD SE GEES IN MY IS?

Sakkie Parsons

In ‘n e-pos wat aan my gestuur was, het die vraag voorgekom: Hoe weet ek dat God se Gees in my is?

Ek het gedink om my antwoord met jou te deel.  Miskien weet jy van iemand wat ook hieroor wonder.

Daar kan oor hierdie saak sekerlik baie ingewikkeld geredeneer word maar ek glo dat ons met ‘n kinderlike gesindheid na die Bybel moet kyk.

Die Bybel is, soos ek dit verstaan, vir gewone mense, soos jou en my, geskryf. Jesus sê dan ook:

MAT 18:2-3 “Jesus roep toe ’n klein kindjie om daar by hulle te kom staan. 3Toe sê Hy vir sy dissipels: ‘Luister nou wat Ek vir julle sê: as julle nie in julle harte ’n verandering ondergaan en soos klein kindertjies word nie, sal julle nie in die nuwe ryk van God inkom nie.”

Daar is mense wat beweer dat eers wanneer jy in tale praat, jy die Heilige Gees ontvang het. Soos ek dit verstaan, is die spreek in tale maar een van die gawes wat jy van God kan ontvang.

In Paulus se tyd was daar ook mense wat die spreek in tale as’t ware wou uitlig en ook vandag is daar mense wat beweer dat die spreek in tale die bewys is dat jy die Heilige Gees ontvang het.

Ek sê dat dit ook ‘n bewys is dat jy die Gees van God in jou het, maar nie die enigste bewys is wat toon dat jy God se Gees inwonend in jou het nie. Paulus skryf so daaroor, ek gaan net ‘n gedeelte van wat hy skryf kwoteer en as jy dan wil, kan jy die res gaan lees wanneer dit vir jou geleë is:

1KOR 14 “Liefde moet julle eintlike mikpunt wees, maar vra ook vir die besondere bekwaamhede wat die Heilige Gees gee, veral die vermoë om te profeteer, om ’n boodskap van God vir mens te bring. 2As iemand in tale praat, praat hy met God en nie met mense nie, want hulle verstaan nie wat hy sê nie. Dit is die Gees wat hom lei, maar hy praat onverstaanbare dinge. 3Aan die ander kant, as iemand ’n boodskap van God oordra, praat hy met mense, en dit versterk hulle en gee hulle moed en troos. 4As iemand in ’n taal praat, is dit net tot sy eie voordeel. Maar as iemand ’n boodskap van God bring, bou hy die hele gemeente op.”

Onthou nou, ek sê nie dat die spreek in tale nie meer waarde het nie, geensins!  Ek sê wel dat ek meer mense ken wat God se Gees in hulle het, wat nog nooit in ‘n taal gepraat het nie, as wat ek mense ken wat God se Gees in hulle het, wat wel in ‘n taal praat.

Mense wat wel die gawe van spreek in tale ontvang het, is ook nie meer heilig of bevoorreg as mense wat nie die gawe ontvang het nie.
Ek het, deur God se genade, wel die gawe ontvang, maar ek ken baie mense wat nie die gawe van spreek in tale ontvang het nie, en wat volgens my, om dit so te stel, baie beter hul Christenskap uitlewe as ek.

Volgens my is dit kinderlik eenvoudig om te weet of ek God se Gees in my het.

Ek gaan nou vir jou gedeeltes uit God se Woord kwoteer. Neem die eerste twee en ondersoek jouself en jy sal weet of jy God se Gees in jou het.

Neem dan die volgende skrifgedeeltes en laat God se inwonende Gees toe om ook daardie gedeeltes tot hul volle reg in jou lewe gestalte te laat kry:

HAN 2:37-39 “Toe die mense dit hoor, het dit hulle aangegryp en hulle vra vir Petrus en die ander apostels: “Broers, wat moet ons nou doen?”  38Petrus antwoord toe: “Elkeen van julle moet hom bekeer en hom laat doop in die naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe en julle die Heilige Gees gee. 39Want God se belofte is vir julle en vir julle kinders en almal wat nog ver is.”
Die bekwaamhede wat die Heilige Gees gee:

1KOR 12  “Broers, dan wil ek ook skryf oor die besondere bekwaamhede wat die Heilige Gees vir ons gee, want ek wil hê julle moet dit goed verstaan. 2Julle onthou dat julle op baie maniere na die afgode toe getrek is toe julle nog ongelowig was—en dit dooie beelde wat nie ’n woord kan praat nie. 3As julle nou onseker is oor mense wat sê hulle praat soos die Heilige Gees hulle lei, wil ek dit duidelik sê: iemand wat deur die Gees van God gelei word, kan nie sê: “Mag Jesus vervloek wees” (of Jesus se naam as ‘n vloek, krag of skel woord gebruik) nie. En dit is alleen iemand wat deur die Heilige Gees gelei word wat kan sê dat Jesus die Here is.
4Daar is verskillende soorte geestelike bekwaamhede, maar daar is net een Heilige Gees wat ons hierdie bekwaamhede gee. 5Daar is baie maniere waarop ons die Here kan dien, maar dit is dieselfde Here vir wie ons almal dien. 6Daar is baie maniere waarop God mense in staat stel om te werk, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in ons almal doen.
7Die Heilige Gees werk deur elkeen van ons, sodat Hy vir almal help. 8Want die Gees gee aan een mens die vermoë om verstandige raad te kan gee, en aan ’n ander gee dieselfde Gees die vermoë om kennis oor te dra. 9Vir een mens gee die Gees ’n besondere geloof en vir ’n ander gee Hy die vermoë om siek mense gesond te maak. 10Hy gee vir party die krag om wonderwerke te doen, vir ander weer die vermoë om ’n boodskap van God oor te bring. Vir party gee Hy die vermoë om die verskil te ken tussen die werk van die Heilige Gees en die werk van duiwelse geeste. Vir party gee Hy die vermoë om in allerhande tale te praat en vir ander gee Hy die vermoë om te sê wat die tale beteken. 11Daar is net een Heilige Gees, en dit is Hy wat al hierdie dinge doen. Dit is Hy wat hierdie vermoëns uitdeel en aan elkeen gee soos Hy wil.”

Let veral op na die volgende vers in die gedeelte wat jy nou net gelees het:

1KOR 12:3 “As julle nou onseker is oor mense wat sê hulle praat soos die Heilige Gees hulle lei, wil ek dit duidelik sê: iemand wat deur die Gees van God gelei word, kan nie sê: “Mag Jesus vervloek wees” nie. En dit is alleen iemand wat deur die Heilige Gees gelei word wat kan sê dat Jesus die Here is.”

Ek kan net hier byvoeg dat niemand wat God se Heilige Gees in hom of haar het, Jesus se naam as ‘n vloekwoord of ‘n kreet van woede sal gebruik nie. Die Gees van God wat in jou is, sal jou net toelaat om daardie Naam met die hoogste respek en liefde te gebruik.

Ook, as jy dalk nog twyfel oor die feit dat jy nie in tale praat nie, lees dan net weer hier:

1KOR 2:10-11 ”  Hy gee vir party die krag om wonderwerke te doen, vir ander weer die vermoë om ’n boodskap van God oor te bring. Vir party gee Hy die vermoë om die verskil te ken tussen die werk van die Heilige Gees en die werk van duiwelse geeste. Vir party gee Hy die vermoë om in allerhande tale te praat en vir ander gee Hy die vermoë om te sê wat die tale beteken. 11Daar is net een Heilige Gees, en dit is Hy wat al hierdie dinge doen. Dit is Hy wat hierdie vermoëns uitdeel en aan elkeen gee soos Hy wil.”

EFE 5:1-11  ”  Julle moet God se voorbeeld volg, want julle is Sy kinders wat Hy liefhet. 2Alles wat julle doen, moet deur liefde gekenmerk word—die soort liefde wat Christus vir ons gehad het toe Hy Sy lewe gegee het om die offer te wees wat vir God aanvaarbaar sou wees en ons skuld by God kon betaal. 3Julle behoort nou aan God, en daar mag by julle geen onsedelikheid van watter aard ook al of sug na rykdom wees nie. Die moontlikheid van so iets mag nie eers onder julle bespreek word nie. 4Lelike of lawwe praatjies en skurwe grappe hoort nie by julle nie, maar liewer dankbaarheid teenoor God.
5Een ding moet julle goed verstaan. In die nuwe ryk van Christus en van God is daar geen plek vir iemand wat onsedelik is of ’n vuil lewe lei of so graag wil ryk word dat hy van geld ’n afgod maak nie. 6Moenie julle laat ompraat deur die waardelose argumente van mense wat hierdie dinge probeer goedpraat nie. Mense wat sulke dinge doen, bring die straf van God op hulleself want hulle weier om Hom te gehoorsaam. 7Sorg dat julle niks met hulle te doen het nie.
8Julle lewe was ook eers donker, maar noudat julle aan die Here behoort, is julle in die lig. Maar hierdie lig moet gesien word in alles wat julle doen. 9Want die lig in julle bring goedheid en eerlikheid en waarheid in julle lewe in. 10Maak seker dat julle altyd doen wat die Here wil hê. 11Moenie iets te doen hê met die dinge van die donker nie want dit beteken vir ’n mens niks. Julle moet liewer vir ander daarteen waarsku.”

GAL 5:22-26  “Maar as dit die Heilige Gees is wat ons lewe oorheers, bewerk Hy die goeie dinge in ons soos die vrugte wat aan ’n boom gedra word. Hy gee liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, vrygewigheid, betroubaarheid, nederigheid en selfbeheersing. 23Dit is juis dinge wat nie deur die wet verbied word nie. 24’n Mens wat aan Christus behoort, het die sondige menslike natuur met al sy drange en begeertes teen die kruis vasgespyker om daar te sterf. 25Die Heilige Gees het ons ’n nuwe lewe gegee. Ons moet Hom dan ook toelaat om ons te lei in alles wat ons doen. 26Dan sal ons loskom van die nuttelose kompetisie met ander, waar die een mens nie vir ’n ander mens iets gun nie en elkeen net probeer om vir homself ’n reputasie te verkry wat beter is as ander s’n.”

LUK 6:43-45 “’n Gesonde boom dra nie slegte vrugte nie, en ’n siek boom dra nie gesonde vrugte nie. 44Dit is die vrugte wat vir ’n mens wys watse boom dit is. Aan ’n doringbos kry ’n mens nooit vye nie en ook nie druiwe aan ’n doringbos nie. 45’n Goeie mens doen wat goed is, want dit kom uit sy hart waar daar ’n voorraad van sulke goeie dinge is. ’n Slegte mens doen verkeerde dinge, want dit kom ook uit sy hart waar daar ’n voorraad verkeerde dinge is. Wat in ’n mens se hart is, sal in jou praat ook uitkom.” 

Uiteindelik, as jy dit afsny tot op die been is die maklike maatstaf, kan jy sê, omdat jy dit werklik glo – Jesus is die Here en nie net die Here nie, maar ook Here van en in my lewe.

Kan jy dit in alle eerlikheid sê?

Want sien – “Wat in ’n mens se hart is, sal in jou praat ook uitkom.”

Groete,
Sakkie