HOE WEET EK SY OF HY IS DIE REGTE EEN?

HOE WEET EK SY OF HY IS DIE REGTE EEN?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:
“Hoe weet ‘n mens sy is die regte een?“

Natuurlik kan ‘n mens ook vra:
“Hoe weet ‘n mens hy is die regte een?“

Die heel eerste wat jy moet doen, is om heerlik jou hart uit te praat by ons Here en Hom vir Sy leiding te vra en dit gereeld te doen.
Dan –
Die volgende wat jy baie seker van moet maak is, of die persoon haar/hom werklik tot Jesus bekeer het.
 

Ek is van mening dat een van die grootste redes waarom so baie verhoudings en Christen-huwelike misluk, is omdat ons die eerste beginsel van ‘n Christen se lewe en natuurlik ook sy huwelik, gewoonlik nie in ag neem nie, en as ons dit nog doen, is dit baie laag op ons prioriteitslys en word sommer maklik van die tafel gevee as dit bots met ons, kom ons noem dit maar, liefde of verliefdheid. En dit is:

MAT 6:33 “Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit, dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg.”

Met ander woorde, die meeste Christene sal heel laaste of as ‘n nagedagte, wonder of hulle lewensmaat darem ‘n Christen is, en as dit nie so is nie, wel, dit is dan maar net een van daardie dinge.
Terwyl die Woord ons ten strengste verbied om met iemand te trou wat nié ‘n Christen is nie:

2KOR 6:15 “Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial? Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen 'n gelowige en 'n ongelowige?
2KOR 6:16 Watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode? Ons is mos die tempel van die lewende God. Dit is soos God gesê het:  "Ek sal onder hulle woon en rondbeweeg, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees."

Ek stel dit altyd so:
Moet nooit eens aan ‘n huwelik met iemand dink, as jy nie eers vasgestel het dat sy/hy ‘n belydende Christen is nie.
 

Anders gestel:
Moet nooit jou hart aan iemand gee as jy nie heeltemal seker is, dat daardie persoon reeds haar/sy hart aan Jesus gegee het nie.

Ongelukkig is dit gewoonlik die laaste iets waarna die meeste Christene deesdae kyk en dit is ook die grootste rede waarom die Christene se egskeidingsyfer nie ‘n millimeter agteruit staan vir die ongelowiges se egskeidingsyfer nie.

Dit is die eerste vereiste wat ons Here van ‘n Christen se lewensmaat verlang, dat die persoon ‘n wáre volgeling van Jesus moet wees.

Om dan hierdie, die eerste vereiste op te som soos ek dit altyd stel en ek herhaal myself:
Moet nooit jou hart vir iemand gee, as jy nie seker is dat sy/hy reeds haar/sy hart aan Jesus gegee het nie.
 

As julle tot op hierdie punt volgens die Woord is in julle verhouding, volg die volgende soos ek dit uit die Woord sien hoe ‘n Christen na haar/sy toekomstige maat kyk en aanhou op daardie wyse na hulle verhouding kyk tot die einde toe.

Ons lees:

EFE 5:22  Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.

‘n Man mag nooit van sy vrou iets verwag, wat ons Here nie van haar sou verwag nie en dit geld van die slaapkamer af tot waar ook al.

Want en lees weer:

EFE 5:22-24 
22 Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.
23  Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam.
24  Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.

Hier wil ek ook net noem, dat ons Here nie dink dat die man, om dit so te stel, ‘n beter spesie is as die vrou nie maar terwille van orde moet iemand in die verhouding voorstap en God het besluit dit moet die man wees.

EFE 5:25-33 
25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het
26  om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,
27  sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.
28  So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief;
29  want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.
30  Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene.
31  Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word.
32  Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.
33  In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.

Vanaf EFE 5:25, waar jy dit die eerste keer lees tot by EFE 5:33, loop hierdie goue lyn:

“Man, jy moet jou vrou liefhê.”

Dan dink ek ook al sê die persoon sy/hy het haar/sy hart aan Jesus gegee, moet jy nie oorhaastig wees nie. 
Leer eers die persoon ken en kyk of  sy/hy die vrugte dra wat by die bekering pas met ook dit ingedagte dat niemand volmaak is nie en ons almal sondig en so struikel,  soos die Woord ons leer.  Maar nie jy of jou lewensmaat mag moedswillig sondig nie.  Dit is lewensgevaarlik.  Ewige lewensgevaarlik.
Dan moet jy vir jouself uitmaak, of jy saam met hierdie persoon se foute kan lewe.
As waarskuwing:  As die persoon bombasties is en jou wil beheer, bly weg.  As die persoon abnormaal jaloers is, bly weg.  As die persoon haarself of homself verafgood of iets anders, bly weg.  As jy agterkom hierdie persoon is net in die verhouding net om selfsugtige redes, bly weg.  As die persoon ‘n lelike humeur het, bly weg. 

1KOR 13:4-10
4 Die liefde is geduldig en vriendelik,
die liefde is nie jaloers nie,
die liefde blaas nie sy eie beuel nie,
is nie vol van homself nie.
5 Dit tree nie onwaardig op nie,
stel nie sy eie belange voorop nie,
is nie kort van draad nie,
hou nie boek van die kwaad
wat hom aangedoen word nie.
6 Dit treur oor die onreg
wat plaasvind,
en juig as die waarheid seëvier.
7 Die liefde bly stil oor ander se foute,
dit bly steeds vertrou,
dit hou aan met hoop,
dit verduur alles.
8 Die liefde sal nooit vergaan nie.
Maar profesieë sal tot niet gaan,
die spreek in tale sal ophou,
en kennis sal verouder raak.
9 Ons ken maar net ten dele
en ons profeteer maar net ten dele.
10 Wanneer die volmaakte
egter gekom het,
sal al die onvolmaakte
uitgedien wees.

‘n Huwelik is ‘n groot stap wat jy in die HERE vat om jouself vir ‘n ander te gee.  Maak baie seker, dat jy bereid is om jouself vir daardie persoon te gee.

Dan en hiermee sluit ek hierdie skrywe af:

Ek moet nie verwag dat my lewensmaat, of my toekomstige lewensmaat die beste lewensmaat vir my moet wees nie.
Ék moet daaraan werk om die beste lewensmaat vir my lewensmaat, of my toekomstige lewensmaat te wees.
Kom ek stel dit ‘n bietjie anders:

Die wêreld sê die huwelik is gee en neem maar ek sê dit is heeltemal verkeerd.  Dit is die wêreld se kyk na die huwelik.
Volgens wat ek uit die Woord leer hoe ‘n Christen se kyk na die huwelik moet wees, verander die wêreld se kyk na die huwelik en hoe ek na my maat moet kyk na:

Die huwelik is gee en wees dankbaar vir wat jy kry.

Nou, as albei in die huwelik werklik volgelinge van Jesus is en albei soos ware Christene onselfsugtig gee, is albei ook al die tyd dánkbaar vir wat hulle ontvang en so het jy deur al die storms wat daar mag wees ‘n paartjie wat vir mekaar gee en altyd dankbaar is vir wat hulle ontvang.

Groete,
Sakkie