HOEKOM IS SOMMIGE MENSE KINDERLOOS?

HOEKOM IS SOMMIGE MENSE KINDERLOOS?

Mag ons God kritiseer?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:
Help asseblief.  Hoekom sal daar dan vrouens wees wat nie kan kinders kry nie? – “WEES VRUGBAAR EN VERMEERDER EN VUL DIE AARDE”

Die gedeelte uit die Woord waarna die persoon verwys is:

GEN 1:28  God het hulle geseën deur te sê: "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Onderwerp die aarde en heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en oor al die diere op die aarde."

Ek wil graag jou as volg begin antwoord en as ek met hierdie voorbeeld begin, is dit maar net omdat ek persoonlik, as gevolg daarvan dat ek blind is, soveel, om dit so te stel, in diepte kennis daarvan het.

Ekself weet persoonlik nie hoekom daar so baie blinde mense in die wêreld is nie, want ons Here het die mens tog met twee oë geskape.  Met ander woorde dit is, jy kan maar sê, dubbeld seker, dat ons Here se bloudruk vir ‘n mens se lewe is, dat hy/sy moet sien.

Ook was daar verseker volgens logika, of dan my logika, duisende blinde mense in Jesus se tyd maar Jesus wie ook God gewees het, genees net ‘n paar.
Ek weet nie hoekom dit so was nie.

Die meeste wat ek op die oomblik weet, is dat dit so was en dat dit nog vandag so is en nie net is dit so nie maar met al die getuienis tot my beskikking, is dit so tot eer van ons Here en vir al Sy kinders, is dit alles ten goede vir hulle wat Hom liefhet.  Dit is hulle wie Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Wat jou vraag spesifiek aanbetref, wil ek so begin:

Iets wat dadelik opval, as ‘n mens oor hierdie onderwerp wonder is die volgende:

Soos jyself kwoteer:

GEN 1:28  God het hulle geseën deur te sê: "Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Onderwerp die aarde en heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en oor al die diere op die aarde."

Dan vind jy hierdie – vir sommige mense verstommende feit – dat die drie aardsvaders van Israel se vroue al drie onvrugbaar gewees het vir so lank dit ons Here behaag het.

Dan is daar natuurlik ook Samuel se ma, Hanna.
Al drie die vroue van die aardsvaders is toe almal uiteindelik vroue wat geboorte aan kinders geskenk het, wat deel was, ‘n mens sou ook kon sê, besondere deel was van Jesus Christus se voorgeslagte.  Terwyl Hanna die moeder van een van die groot profete van die Ou Testament geword het.

Dus, om my antwoord op te som:
Nee, ek weet nie hoekom sommige vroue nie ‘n kindjie kan kry nie maar die feitelike getuienis uit die Woord wys my onteenseglik dat ons Here ook daar in beheer is en nie net in beheer is nie – maar dat ROM 8:28 … alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe en terwyl ek vol van Sy vrede in my omstandighede na die wenpaal hardloop:

1KOR 9:26  Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. …

Kom jy en ek onthou, terwyl ons ook onthou, as ons na ons omstandighede kyk:

ROM 9:20  “Pas op!  ‘n Mens mag nie met God so praat nie.  ‘n Kleipot mag nie vir die een wat hom gemaak het vra:  “Hoekom het jy my so gemaak?” nie.
ROM 9:21  Het ‘n pottebakker nie die reg om met die klei te maak soos hy wil nie?  Van een stuk klei kan hy ‘n deel vat om ‘n heel besondere vaas te vorm en van die ander deel kan hy ‘n doodgewone kleibak maak. 

Weet jy sommige mense moet baie lank wag vir God om hulle te antwoord.
Abram moes 99 jaar en sy vrou 90 jaar oud word voor Sara verwag het.

Ekself, en weer gebruik ek myself as voorbeeld omdat dit die beste voorbeeld is wat ek in hierdie lewe ken:
Ek het nie my sig teruggekry nie.  Inteendeel, ek het ook dit wat ek gehad het verloor.

So met ROM 9:21 in gedagte –
Ek is nie uit ‘n menslike oogpunt gesien eens ‘n doodgewone kleipot nie.

Nee, daar is mense wat my en mense in my omstandighede selfs as ‘n minderwaardige kleipot sal sien maar prys die Naam van ons Here!  Dit is wat ons Here ten minste vir nou vir my in gedagte het en dit is vir nou wonderlik so.

Wat ons omstandighede ook al is – Selfs as dit is dat ons dalk nie so aantreklik soos die persoon langs ons is nie, soos in Jakob se vrou Lea se geval –  Kom ons doen wat Jesus by geleentheid gesê het:

JOH 14:1  “Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God te vertrou en hou ook aan om op My te vertrou.

Ek het ook nog meer hieroor geskryf wat ek op aanvraag met graagte aan jou sal stuur naamlik:

“My antwoord vir iemand wat nie kan swanger raak nie”
“Eierselskenking”
“Mag ‘n Christen ‘n kindjie aanneem?”

Groete,
Sakkie