HULLE IS DUS NIE MEER TWEE NIE, MAAR EEN LIGGAAM
Sakkie Parsons
Iemand skryf aan my en vra die volgende: “Wat beteken dit, dat wat God saamgevoeg het, geen mens mag skei nie?”
Ek neem aan die persoon verwys byvoorbeeld na MAT 19:6, maar jy kan dit ook gaan lees in MRK 10:9.
Sommer vir die interessantheid daarvan, so ‘n bietjie agtergrond. Johannes die doper het in die tronk beland en is toe ook onthoof oor sy uitlatings oor die huwelik en dinge rondom die huwelik wat verkeerd is volgens ons Here se siening van die huwelik. Hierdie, soos ek dit sien, was ‘n poging van Jesus se teenstanders/vyande, naamlik die Fariseërs en hulle “cronies,” om Jesus dieselfde pad te laat loop as Johannes die doper.
‘n Mens voel om uit te roep: Hoe boos en blind kan ‘n mens word as jy jou deur satan laat lei! Want, voor hulle staan God wat mens geword het, en hulle probeer Hom in die tronk kry, met die hoop dat Hy doodgemaak gaan word.
Nou goed. Vir Jesus gaan dit ten eerste in Sy antwoord aan hierdie mense, nie oor wat hulle aan Hom oor egskeiding vra nie, maar wat eintlik die belangrikste is om te onthou wanneer jy oor enige aspek van die huwelik praat, en dit is hoe ons Here dit waaroor jy redeneer, sowel as die huwelik, in die algemeen sien. Lees gou hier:
MAT 19:3 “Daar het toe Fariseërs na Hom toe gekom in ‘n poging om Hom in ‘n strik te laat trap. Hulle vra Hom toe: “Mag ‘n man sommer oor enige onbenulligheid van sy vrou skei?”
Hulle vra Jesus oor “egskeiding” maar kyk waaroor praat Hy. Anders gestel, kyk wat is bo aan Jesus, ons Here, God wat mens geword het, se prioriteitslys wanneer Hy hulle oor die huwelik antwoord:
MAT 19:4 “Hy antwoord hulle: “Het julle nie in die Skrif gelees dat die Skepper (in die huwelik) die mens van die begin af man en vrou gemaak het nie?
MAT 19:5 En die Skrif sê verder: ‘Daarom sal ‘n man sy pa en ma agterlaat en hom by sy vrou voeg. So sal hulle tot een liggaam verenig word.’”
Jesus verwys hier na GEN 1:27:
GEN 1:27 “God het die mens in ooreenstemming met Homself geskep; volgens Sy eie beeld het God hulle geskep; manlik en vroulik het Hy hulle geskep.”
Asook:
GEN 2:24 “Dit verklaar waarom ‘n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een mens word.”
Terug by die vraag wat aan my gevra was naamlik: “Wat beteken dit, dat wat God saam gevoeg het geen mens mag skei nie?”
Ek kwoteer in my antwoord MAT 19:6 en dit is Jesus, God wat mens geword het, self wat dit sê:
MAT 19:6 ”Hulle is dus nie meer twee nie, maar (soos God hulle in die huwelik sien) een liggaam. Wat God so saamgevoeg het, mag ‘n mens nie uitmekaarskeur nie.”
Die eerste wat ons natuurlik hier moet verstaan is dit – As Jesus sê:
MAT 19:6 “… Wat God so saamgevoeg het, mag ‘n mens nie uitmekaarskeur nie.”
Dan praat Jesus hier spesifiek van die huwelik. ‘n Seremonie, as jy dit so wil noem, waar ‘n man en vrou wat lief is vir mekaar, in die teenwoordigheid van ons Here vir mekaar sê, en ek stel dit in ‘n neutedop, dat die een vir die ander ‘n getroue lewensmaat tot die dood toe sal wees.
Met dit in gedagte – Kom ons kyk net eers gou hoe het ons Here bedoel, wie mag met wie ‘n huwelik sluit. Ek stel dit so omdat daar deur meer as een denominasie deesdae, na my mening, soveel boosheid verkondig word, oor wie mag met wie ‘n huwelik sluit.
Nou lees ons in die Woord:
GEN 2:21-24
21 Toe het die HERE God die mens baie diep laat slaap. Hy gebruik een van die mens se ribbebene en vul die plek weer op met vleis.
22 Van die ribbebeen maak die HERE God ‘n vrou en bring haar na die mens toe.
23 “Uiteindelik is dit die regte metgesel!” sê die mens. “Sy is regtig deel van my. Sy sal ‘vrou’ genoem word, want sy is uit die man geneem.”
24 Dit verklaar waarom ‘n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een mens word.”
Vir my is dit hier baie duidelik, buiten vir al die ander getuienis wat duidelik sigbaar is, dat ons Here se bedoeling met ‘n huwelik is dat ‘n huwelik kan net ‘n huwelik wees wanneer daar éen mán en éen vróu betrokke is.
Enige ander kombinasie, om dit so te stel, is nie volgens wat ons Here dit wil hê nie. Anders gestel, enige ander kombinasie wat ‘n huwelik genoem word, is soos ek dit sien, nie Bybels nie. Met ander woorde, nie vólgens die Woord van ons Here nie en dus na my mening ook onchristelik.
Hoe heerlik om te weet die huwelik tussen ‘n man en vrou, soos ek dit verstaan, is ‘n gedagte uit ons Here se hart uit. Hierdie een entiteit liggaam tussen ‘n man en vrou wat ons Here in ‘n huwelik sien, kom pragtig sigbaar vir die mens na vore as jy na die huwelikspaar se kinders kyk. Die helfte van die pa en die helfte van die ma is in hulle kind. So – vir my is dit duidelik. Ons Here kyk na ‘n man en ‘n vrou in ‘n huwelik en sien, om dit so te stel, een entiteit/liggaam. Daarom lees ons:
MAT 19:6 “Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. Wat God so saamgevoeg het, mag ‘n mens nie uitmekaarskeur nie.”
So, wat beteken dit:
MAT 19:6 ”… Wat God so saamgevoeg het, mag ‘n mens nie uitmekaarskeur nie.”
Wel, dit beteken heel eenvoudig dat ek nie die oorsaak mag wees dat ‘n huwelik ontbind word nie.
Want die persoon wat die oorsaak is dat die huwelik tussen ‘n man en vrou ontbind, neem iets wat God Almagtig tot stand gebring het, as’t ware in haar/sy twee hande en skeur dit voor God Almagtig flenters.
Want luister weer hoe sien ons Here ‘n man en vrou wat in ‘n huwelik bevestig is:
MAT 19:6 “ Hulle is dus nie meer twee nie, maar een liggaam. …”
So, laat ons weer deeglik kennis neem:
MAT 19:6 “… Wat God so saamgevoeg het, mag ‘n mens nie uitmekaarskeur nie.”
Ek kan egter nie hier ophou nie, want dan gaan daar baie, veral dames wees, soos ek dit in my bediening optel, wat met skuldgevoelens gaan rondloop omdat hulle net nie meer in hulle huwelik kon bly nie.
Daar is vir seker gevalle waar, na my mening, iemand wat uit ‘n huwelik stap, nie die een is wat die huwelik uitmekaar skeur nie, maar waar dit hulle lewensmaat is wat die huwelik uitmekaar skeur en as hulle in die huwelik gebly het, hulle uiteindelik selfs of in ‘n gestig, of in ‘n graf sou kon beland het.
Groete,
Sakkie