IS DIT BELANGRIK VIR MY SALIGHEID OM AAN ‘N KERKGROEP TE BEHOORT?

IS DIT BELANGRIK VIR MY SALIGHEID OM AAN ‘N KERKGROEP TE BEHOORT?

Sakkie Parsons

Ek deel met jou hierdie vraag wat iemand aan my gestuur het en my antwoord daarop uit die Woord soos ons HERE my gelei het:

“Is dit belangrik om aan ‘n kerkgroep te behoort? Sal dit jou saligheid bepaal?”

Ek gaan nou al die tyd met jou persoonlik praat, of jy hier voor my aan die anderkant van my lessenaar sit en met my gesels.

Daar is niks, absoluut níks wat jy en wat dit aanbetref, of ek of enige ander persoon kan doen om, soos jy dit stel, “die Saligheid” te verkry nie.

Jesus Christus het reeds alles gedoen wat gedoen moet word, om dit vir jou en my moontlik te maak om die ewige lewe in die Hemel saam met Hom deur te bring.

TITUS 3:3-6 

3  Want ons was ook vroeër onverstandig, ongehoorsaam, op ‘n dwaalweg, verslaaf aan allerhande begeerlikhede en singenot; ons het in boosheid en afguns gelewe; ons was haatlik en het mekaar gehaat.

4  Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het—

5  nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees

6  wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser;

Jy en ek moet net die wonderlike groot geskenk van die ewige lewe uit Sy hand neem en dit ons eie maak.

(Ek het ‘n ‘Gedagte uit die Woord’ hieroor geskryf en stuur dit met groot Jesus-liefde aan jou as jy my vra.)

As dit wat ek nou gesê het die waarheid is, wat dan van die opdragte in Sy Nuwe Testament, wat Hy vir ons laat opteken het, wat Hy verwag, dat ons sal doen, soos byvoorbeeld:

HEB 10:25  en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.

Ek het in my eie lewe en in die meer as 51 jaar dat ek hierdie Evangelie verkondig, belewe en gesien; dat hoe nader jy aan die Woord leef, soos wat ons Here Jesus Christus dit vir ons in Sy Nuwe Testament vir Sy volgelinge laat opteken het, hoe beter is en hoe meer verbeter jou verhouding met ons Here en hoe beter gaan jou loon in die hiernamaals wees.

Alhoewel mense dit sê en ek het dit al gekry, dat selfs ‘n pastoor dit vir my sê.

“Ek gee nie om hoe groot, of hoe klein my loon gaan wees nie, solank ek net by Jesus kan wees.”

Dit klink nou wonderlik vroom maar dit Is ‘n verdraaiing van Jesus se Evangelie en kan jy sê, dat dit deel is van een van daardie 29,999 valse evangelies van die 30,000 evangelies van Jesus wat verkondig word.

Dit is juis bogenoemde soort verkondiging van die Evangelie van Jesus, wat maak dat Christene redeneer:

“Ek gaan soms Sondae kerk toe.

Ek lees my Bybel en ek bid ook taamlik gereeld.

Nou, so lank ek net in die Hemel beland is dit goed genoeg vir my.”

Ek kon nou baie voorbeelde uit ons Jesus Christus se Evangelie kwoteer het om te staaf wat ek nou vir jou gesê het, maar ek volstaan met die volgende twee, (omdat my skrywe aan jou al klaar lank is), sodat jy kan sien, dat ons Here wil dat ons hard werk vir Hom, om soveel mense as moontlik by Jesus uit te kry, voor hulle oor die afgrond die ewige hel in stort, waar hulle verewig die verskriklikste dood gaan sterf en tog nooit sterf nie.

Dit is my groot held Paulus,(aan wie ons Here die meeste in die Nuwe Testament toevertrou het), – om ons te leer wat Jesus van ons, Sy kinders in dié verband verwag – wat hier praat in dit wat nou volg:

1KOR 3:10-15 

10  Volgens die genade van God wat aan my gegee is, het ek soos n bekwame boumeester die fondament gelê, en n ander bou daarop; maar elkeen moet oppas hoe hy daarop bou.

11  Want niemand kan n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.

12  En as iemand op dié fondament bou goud, (wat nie deur vuur verbrand nie) silwer, (wat nie deur vuur verbrand nie) kosbare stene, (wat nie deur vuur verbrand nie) hout, (wat deur vuur verbrand) hooi, (wat deur vuur verbrand) stoppels, (wat deur vuur verbrand)

 13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.

14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;

15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.

OPG 22:12-14  

12  En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.

13  Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.

14  Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.

Een van die redes waarom ons nie die onderlinge byeenkomste behoort na te laat nie, is die volgende:

Jou en my stryd is uiteindelik nie teen mense nie.  Mense is maar net instrumente wat deur satan misbruik word om jou en my te laat struikel en soms te laat val. 

EFE 6:11-18 

11  Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.

12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

13  Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.

14  Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,

15  en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.

16  Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.

17  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Geesdit is die woord van God

18  terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges

Uiteindelik is satan se doel om jou nie net te laat val nie maar om jou oor die afgrond, tot in die hel te laat val.

Ek hoor aan jou skrywe aan my, dat jy al meer as een keer deur mense in die kerk seergemaak is, en dan stel ek dit seker lig, maar onthou dat die kerk is ook ‘n hospitaal waar daar baie siekes is wat ook genesing soek.

Ek het al so baie gehoor mense sê vir my:

“Ja maar kyk net wat doen hulle en as Christene so optree, dan wil ek liewer nie ‘n Christen wees nie.”

Wanneer jy so sê, het jy klaar van daardie siek mense in die kerk se kieme opgetel en moet jy dadelik geestelike anti-oksidant van Jesus inkry.

Wat is hierdie Jesus anti-oksidant en hoe neem jy dit in?

Ek gee jou nou die antwoord en ek hoop tog so, dat jy dit sal neem en onthou, as jy dit neem –  Dit is ongelukkig nie ‘n 3 of 5 dae kursus nie.  Jy sal dit elke dag moet doen en inkry, sodat jy immuun teen die kieme van satan binne en buite die kerk van Christus sal wees en immuun sal kan bly.

Hier dan is my antwoord vir jou wat nog altyd vir my gewerk het:

Moet nie kyk wat die mense aan jou doen, of hoe bespotlik sommige van hulle Jesus se Evangelie maak nie.

Lees en bestudeer Jesus se Evangelie, soos wat Hy dit vir ons laat opskryf het – en volg Sy voorbeeld wat Hy vir ons gestel het en bid daagliks.

Ek sluit hierdie skrywe van my aan jou af met enkele voorbeelde uit Sy kosbare Woord om te onderskryf wat ek nou met jou gedeel het:

JHN 14:15-17 

15  As julle My liefhet, bewaar my gebooie.

16  En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid:

17  die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

JHN 14:21  Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.

JHN 15:10  As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.

MAT 5:14  Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;

MAT 5:15  en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.

MAT 5:16  Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.

Ek glo, omdat ek dit so in my eie lewe ervaar:

Iemand wie Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker en ‘n liefdesverhouding met Jesus het waar sy/hy gedurig aan werk, (soos ‘n mens aan enige liefdesverhouding moet werk)  kan net eenvoudig nie ‘n passiewe Christen wees nie

Lees hierdie volgende twee gedeeltes.  Oordink dit en jy sal self sien dat daar nie so iets is as ‘n ware Christen wat passief, wat die evangelie van Jesus aanbetref, kan wees nie.

Ek begin met Jesus se laaste opdrag aan ons na Sy kruisiging, waar Hy die prys betaal het en jou en my van die hel gered het – ás ons Hom werklik aanneem as ons Verlosser en Saligmaker.

Maar eers net die volgende:

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

JHN 1:13  wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

Nou Sy laaste opdrag voor Hy opgevaar het na die hemel:

MAT 28:18-20 

18  En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.

19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.

Dan onderstreep Jesus Sy opdrag aan ons met die volgende woorde:

HAN 1:8  maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

HAN 1:9  En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.

Mense het my al gevra:

“Maar wat kan ek doen?

Ek kan nie preek nie.

Ek kan nie sing nie.

Ek word angstig as ek voor mense moet opstaan om iets te sê.”

Hoe wonderlik!

Ja, ons kan nie almal preek nie.

Ons kan nie almal sing nie.

Ons kan nie almal in die openbaar bid nie.

Ons kan nie almal gedagtes uit die Woord of preke oor die internet uitstuur nie en so kan ek aan en aan gaan.

Al Jesus se volgelinge het een iets waarmee ons Here ons geseën het en wat ons almal kan en moet gebruik en dit is: die lewe wat jy lewe.

Onthou jy wat jy hier bo in hierdie skrywe gelees het?

MAT 5:14  Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie;

MAT 5:15  en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.

MAT 5:16  Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.

Hoe wonderlik as die verloregaande mense om ons, en die siek Christene in die kerk, Jesus in en deur ons kan sien – en ons só Sy liefdesopdrag kan uitlewe, omdat – en hoe absoluut wonderlik:

GAL 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Groete,

Sakkie