JESUS IS DIE SOETSTE NAAM VIR MY

JESUS IS DIE SOETSTE NAAM VIR MY

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende:

“Iemand wat saam my werk het so paar maande terug die opmerking gemaak dat ons gebede nie verhoor word nie want ons gebruik die verkeerde Naam vir God se seun.
Die persoon beweer dan dat ons name nie in ander tale verander nie en dat die Naam ‘Yahweh’ die Seun van God se "regte" naam is en daarom verhoor God ons nie!
Wat is jou mening daaroor asseblief?”

Ek gaan die persoon wat na my mening hierdie onware stelling oor Jesus se Naam gemaak het van hier af Hantie noem.
As iemand na my toe kom met ‘n argument en sy/haar argument met selfs net ‘n halwe waarheid wil probeer bewys, hoor ek ‘n hele growwe leun en sien ek voor my ‘n onbetroubare mens wat ‘n leuenaar is.

Hantie sê in haar argument:
“Ons name verander nie in ander tale nie en dat die Naam Yahweh die Seun van God se ‘regte’ naam is en daarom verhoor God ons nie!”

Onthou nou, dat na my mening, ‘n halwe waarheid, wat vir die volle waarheid vertel word, ‘n hele vieslike leuen is.
So, kom ons kyk na Hantie se argument en omdat Hantie ‘n naam uit die Woord in haar argument gebruik, bepaal ek my ook maar net by name in die Woord.

Sê of skryf gou die volgende name in Engels:
Mattheus, Markus, Lukas, Johannes en sommer vir die lekker daarvan my groot held Paulus se naam ook.
Kan jy nou sien dat dit wat Hantie gesê het oor die algemeen gewoon net nie waar is nie.

Voordat ek verder gaan, deel ek graag met jou name van ons Here en hul betekenisse, waar die naam Yahweh in voorkom:

Yahweh-Elohim Here God.
Yahweh-Jireh  Die Here sal voorsien.
Yahweh-M’kaddesh Die Here wat ons heilig, of die Here wat ons heilig maak.
Yahweh-Nissi      Die Here ons banier/vaandel.
Yahweh-Rapha   Die Here wat gesond maak.
Yahweh-Rohi      Die Here ons herder.
Yahweh-Sabaoth       Die Here van die leërskare.
Yahweh-Shalom        Die Here ons vrede.
Yahweh-Shammah Die Here is daar/hier.
Yahweh-Tsidken     Die Here ons geregtigheid.

Ek dink dat ek nou genoeg wat Hantie se stelling oor die naam Yahweh van ons Here gesê het.

Ek wil nou graag met jou ietsie deel oor ons Verlosser se Naam Jesus maar voordat ek dit doen, net gou dit –

Dit wat ek nou gaan sê, sê ek met al die nodige respek teenoor my God en Verlosser:

Daar is mense wat ons Here aan die wêreld wil voorstel as hierdie persoon wat met ‘n sambok agter jou loop en jou fyn dophou en as jy skeef trap, looi Hy jou dat jy bars.
Dan is daar mense soos Hantie wat my God en Verlosser aste ware voorstel as iemand wat swaksinnig is.  Mense wat wil voorgee, dat die Almagtige, die Skepper van die heelal, nie in my hart kan sien van wie ek praat as ek sê:  “In Jesus naam kom ek na U toe” nie.

In Hebreeus lees ons ‘Yeshua’.  In die Grieks se vertaling lees ons ‘Iesous’.  In my Bybel lees ek ‘Jesus’.

Nêrens in die Woord kry ek ‘n instruksie om net Hebreeus te gebruik nie.

Ons praat in Afrikaans van die Woord van ons Here, as “die Bybel”.  Terwyl hulle in Engels van die “The Bible” praat.
Verander dit nou enigsins in  Afrikaans of in Engels iets aan die Woord van ons Here en alles wat daarmee gepaard gaan?
Ai!
Soms kan ek maar net glimlag as ek sien wat satan gebruik om Jesus se kinders oor te laat stry.

Sommer so vir die heerlike lekker daarvan –
In die Bybel wat ek die meeste gebruik, omdat hy op my rekenaar vir my so “user-friendly” is, kom die naam Jesus 974 keer voor.
Die Woord leer my:

HAN 4:12  En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.

Die NLV stel dit so:

HAN 4:12 “Daar is geen redding by iemand anders nie.  Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word nie.”

Dan kom ons Here en bekragtig aste ware wat Hy in HAN 4:12 laat skryf het, as Hy weer laat skryf: (NLV)

FIL 2:9  Daarom het God Hom ook tot die hoogste posisie verhoog en aan Hom die Naam gegee wat belangriker is as elke ander naam.
FIL 2:10  So sal by die noem van Jesus se heerlike Naam elke knie in die hemel en op die aarde en onder die aarde buig,
FIL 2:11  en elke tong sal erken:  “Jesus Christus is Here!”  En so sal God die Vader verheerlik word!

Sommige mense lees FIL 2:9 sonder om te besef, watter geweldige sterk mededeling in hierdie vers aan ons gemaak word.

Luister –
Maak nie saak watter naam jy al ooit van ons Here waar gehoor of van gelees het nie.
Vir die Christen, Jesus se dissipels, is daar geen naam wat deur ons Here hoër geag word as die Naam van Jesus Christus nie.

FIL 2:9  Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,

So my vriendin/vriend –

KOL 3:17  En wat julle ook al doen in woord of in daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Dan spreek jy Jesus sommer heerlik in jou moedertaal uit.
Ai!  Nou kom daardie ou koortjie weer in my hart op terwyl ek hier vir jou skryf:

Jesus is die soetste naam vir my,
Hy is altesaam,
Soos Sy dierbare Naam.
Daarom het ek Hom so lief gekry,
Want Jesus is die soetste Naam vir my.

Groete,
Sakkie