JULLE IS MY VRIENDE AS JULLE ALLES DOEN WAT EK JULLE BEVEEL

JULLE IS MY VRIENDE AS JULLE ALLES DOEN WAT EK JULLE BEVEEL.

Sakkie Parsons

Ek het by twee vorige geleenthede wat ek met jou oor Lasarus gedeel het, daarop gewys, dat Lasarus nie een van die 11 keer wat ons in die Woord van hom lees, iets gesê het nie en tog getuig die Woord baie duidelik van die mooi liefde wat daar tussen Jesus en Lasarus gewees het.

Hierdie dan, vir die huidige, is die laaste gedagte oor Jesus se geliefde vriend Lasarus, wat nie veel gesê het nie maar wat deur sy lewe, vir sy tydgenote en vir al Jesus se volgelinge oor al die eeue heen, hierdie geweldige groot waarheid gedemonstreer het.

Die beste Evangelieboodskap van Jesus en Sy liefde vir die mens wat jy vir iemand kan preek, is die lewe wat jy lewe.

Mat 7:16-18 

16 Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ‘n mens ‘n boom aan sy vrugte kan uitken.  ‘n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse af, of vye van dissels nie.

17  ‘n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ‘n siek boom slegte vrugte.

18  ‘n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra en ‘n siek boom goeie vrugte nie.

So wat sê ons Here eintlik vir ons?

Soos Lasarus gelewe het wat hy geglo het, moet die mense om my, Jesus en Sy liefde vir die mens in my kan sien.

Mat 3:8  Bewys eerder deur julle voorbeeldige lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het.

Ek sluit dan my geselsies oor hierdie merkwaardige man, Lasarus af met die

volgende.

Hoe wonderlik, as ons Here jou Sy vriend noem.

Van Moses lees ons:

Exo 33:11  Binne-in die tent het die HERE met Moses gepraat soos vriende wat gesels en mekaar in die oë kyk. ..

Moses het so ‘n mooi verhouding met ons Here gehad, dat sy gesig by geleentheid letterlik geblink het van ons Here se teenwoordigheid in sy lewe.

Exo 34:29-31 

29 Moses het van Sinaiberg afgeklim met die twee plat klippe waarop die bepalings van die verbond geskryf was in sy hande.  Toe hy afklim, het hy nie geweet dat sy gesig blink omdat God met hom gepraat het nie.

30  Aäron en die Israeliete het gesien hoe sy gesig blink en was bang om naby hom te kom.

31  Moses het hulle egter nadergeroep.  Toe Aäron en die leiers naderkom, het hy met hulle begin praat.

Kom jy en ek lewe so dat ons hele wese skitter van ons Here se teenwoordigheid in ons lewe.

Daar was natuurlik nog iemand anders van wie ons lees dat hy ons Here se vriend gewees het.

Jes 41:8  Maar jy, Israel, my dienaar, jy is Jakob, wat Ek gekies het, afstammeling van Abraham, my vriend.

Abraham wat deur sy lewe wat hy gelewe het vir ons wys, dat hy gehoorsaam aan ons Here sal wees, al kos dit wat.

Kom jy en ek volg ook ons Here, om dit so te stel, blindelings.  Ons weet mos uit die getuienis van die Woord, dat ons Here ons nooit sal faal nie.

Dan was daar natuurlik nog iemand van wie die Woord sê dat ons Here hom as Sy vriend beskou het.

Hierdie man het deur sy lewe gedemonstreer, dat jy deur jou lewe vir ons Here soos Moses kan blink en dat jy op ons Here kan reken, Soos Abraham op ons Here kon reken, tot die uiterste toe.  Selfs al is, soos in hierdie man se geval  daardie uiterste die dood.

JHN 11:11  Hierdie dinge het Jesus gesê, en daarna bygevoeg:  “Ons vriend Lasarus lê en slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”

Wil jy ook so lewe, dat jy deur ons Here Sy vriendin/vriend genoem word en wonder jy hoe jy so vir Hom kan lewe?

Weet jy?

Dit is presies wat ons Here so graag wil.  Hy wil jou Sy vriend/vriendin noem en daarom sê Jesus ook vir ons wat ons moet doen om soos Lasarus hierdie wonderlike verhouding met Hom te hê.

Jesus wil so graag jou en my as Sy vriend/vriendin hê, dat Hy selfs sy lewe gegee het om dit vir ons moontlik te maak om so ‘n verhouding met Hom te hê.

JHN 15:13  Niemand het ‘n groter liefde as hierdie nie:  dit is dat iemand sy lewe  opoffer ter wille van sy vriende.

Wat wil Jesus, moet ek en jy doen om hierdie liefdesband met Hom te sluit?

JHN 15:14  Julle is my vriende as julle doen wat Ek aan julle opdra.

Onthou jy wat het ons gelees, wat sê ons Here in Sy Woord hoe moet ons vir Hom lewe?

Mat 3:8  Ou Vertaling:  

Dra dan vrugte wat by die bekering pas.

Hoe lyk hierdie vrugte wat ek en jy behoort, nee, moét dra?

Gal 5:22  Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg (vrug):  liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.  Teen sulke dinge is daar nie ‘n wet nie.

Rom 6:22  Maar noudat julle vrygemaak is van die sonde en volledig in God se diens staan, is die resultaat ‘n lewe in die heiligmaking en die eindresultaat – die ewige lewe!

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.