KAN EK AS CHRISTEN DIE SATAN BIND?

KAN EK AS CHRISTEN DIE SATAN BIND?

“En kyk, Ek is met julle tot aan die voleinding van die wêreld.” MAT 28:20

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra my twee vrae:

Ek antwoord die vrae na die beste van my vermoë, soos ek dit verstaan maar eintlik soos jy sal sien en ek ook maar moes agterkom, het ons Here se Heilige Gees my toe eintlik met ”n wonderlike waarheid laat eindig.

Die eerste vraag het gehande oor waar in die Woord staan daar dat ons “vuur en vlam” vir die Here moet wees.

Ek dink nie die mense wat bid, dat ons byvoorbeeld, “die ene vuur en vlam vir ons Here moet wees” gebruik dit so, omdat hulle dink dit kom uit die Woord uit nie.

Dit is maar die manier wat ons Afrikaners soms praat.

So met die rugby byvoorbeeld in gedagte, sal jy maklik hoor:

“Ek is ‘n vurige Bul ondersteuner.”

Of:

“Sy besering is nou heeltemal genees en hy is die ene ‘vuur en vlam’ om te speel.

Self weet ek nie van ‘n gedeelte in die Woord wat letterlik sê, dat ons “vuur en vlam” moet wees nie maar ek wens al Jesus se kinders was “vuur en vlam” in die verkondiging van Sy Evangelie.

Daar is wel gedeeltes wat jy dalk verkeerdelik in hierdie verband kan gebruik maar dan soos ek sê, gebruik jy dit uit verband uit.

Ek gee ‘n paar voorbeelde.

HAN 2:3  Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.

2THS 1:6-8 

6  aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde,

7  en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele

8  in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.

Oor jou vraag, of ons vir satan kan bind:

Sover my kennis strek, kan ons nie vir satan of sy engele “bind” nie.

So met die tong in die kies, as ons dit kon doen, kon ons al lankal satan en al sy engele gebind het en die aarde kon weer ‘n paradys gewees het.

Ons bind wel satan se werke in iemand se lewe of in ‘n bepaalde situasie in die Naam van Jesus en ons gebruik byvoorbeeld die volgende as ons outoriteit.

Mat 18:18  Voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees; en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel ontbonde wees.

Dan is dit natuurlik goed om te weet, dat mense wel deur satan in die een of ander faset of fasette van hulle lewens gebind kan word.

Luk 13:16  Maar hierdie vrou wat ‘n dogter van Abraham is, wat die Satan—dink daaraan! —agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie?

Dan en hoe heerlik om dit ook te weet –

‘n Mens kan ook deur die Heilige Gees gebind word.

Ek glo, dat ek byvoorbeeld kan sê, dat die Heilige Gees my heerlik gebind het, om elke dag, soms vir baie, baie ure voor my rekenaar te sit om vir ons Here te werk.

HAN 20:22  En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie,

Die enigste wie ek in die Woord sien, wat die satan, om dit so te stel, in die persoon kon bind, is ‘n engel van ons Here:

OPG 20:1  En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand.

OPG 20:2  En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank,

Hoe heerlik om te weet:

Jy en ek het Jesus aangeneem as ons Verlosser en Saligmaker.  Hy is in beheer van ons lewens.  Ons is en hoe heerlik om dit so te mag stel –

Ons almal wat Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker, is, jy kan maar sê, deur Sy Gees wat in ons woon, aan Hom gebind.

Is dit nie ‘n wonderlike waarheid om te weet nie –

Alle mag in die hemel en op aarde is in Sy hande en ons is deur Sy Gees, om dit so te stel, aan Hom gebind.

Mat 28:18  En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.

Weet jy?

Net nadat Jesus aan ons hierdie wonderlike mededeling gemaak het naamlik,

Mat 28:18  En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.

Gee Hy vir ons wat deur Sy Gees aan Hom gebind is, die volgende opdrag:

Mat 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Iemand vra nou:

“Sakkie hoe kan ek met al my tekortkominge, gehoor gee aan hierdie opdrag?”

Nou is dit gewoon net ‘n realiteit, dat ons nie almal e-pos boodskappe kan skryf en uitstuur nie.

Nie almal van ons kan op ‘n verhoog gaan staan en sing nie.

Nie almal van ons kan agter ‘n preekstoel gaan staan en preek nie en so kan ek aan en aan en aan gaan.

Ons almal wat Jesus aangeneem het, het egter twee groot heerlikhede in gemeen:

Ons het Sy Gees inwonend in ons, en ons het ons lewe.

So, soos ek al so baie gesê het, sê ek nou maar weer:

Begin as volg:

Lewe jou lewe vir Hom.

Laat jou lewe, jou gedagte vir die dag aan die mense om jou wees.

Laat jou lewe jou lied oor Hom aan die mense om jou wees.

Laat jou lewe jou preek oor Hom aan die mense om jou wees.

Terwyl jy al die tyd onthou, dat Hy saam met jou is, om jou te help.

Want net nadat Jesus ons die bevel gegee het van:

Mat 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, …

Hy vir ons:

Mat 28:20  En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.