KOM ONS HYS ONS KLEURE EN VERTOON ONS VAANDEL

KOM ONS HYS ONS KLEURE EN VERTOON ONS VAANDEL

Sakkie Parsons

Ek wil met jou hierdie gedagte deel wat by my opgekom het:

Ons moet versigtig wees waar ons gaan en met wie ons meng.
Natuurlik moet ons die Evangelie aan almal verkondig:

MAT 28:19  Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Persoonlik verkondig ek die Evangelie aan almal maar as iemand na verloop van tyd, nog steeds moedswillig bly en dit wat ek verkondig nie wil aanvaar nie, dan gaan ek aan, want dan volgens hoe ek redeneer, mors ek ons albei se tyd.

MAT 10 14-16
14  En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af
15 Voorwaar Ek sê vir julle dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad
16 Kyk Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe

Ek sal die Evangelie aan almal verkondig maar ek is baie versigtig, wie ek deel van my vriendekring maak.  Nie omdat ek dink ek is beter as iemand anders nie maar omdat ek nie kanse neem met die satan nie en ook nie met my lewe in die volle sin van die woord dobbel nie:

2KOR 6:14 -18
14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
15  En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?
16  Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees.
17  Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem;
18  en Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.

Ek moet ook nie die feit dat ek ‘n Christen is, op so ‘n, ‘ekskuus dat ek ‘n Christen is’ manier lewe of verkondig nie:

2TIM 4:2-4 
2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;
3  want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
4  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

Nee, die mense wat my ken moet baie duidelik weet dat ek ‘n Christen is.

Ek byvoorbeeld is ‘n Cheetah ondersteuner maar as die mense wat my ken, meer bewus is van my Cheetah statis as van die feit dat ek ‘n Christen is, is daar fout, sommer groot fout.
Ek is ook ‘n Afrikaner.  As ek byvoorbeeld meer doen om my taal te bevorder of verdedig, as wat ek doen om die Evangelie te verkondig en bevorder, dan is daar fout, sommer groot fout.

Ek gebruik hierdie twee voorbeelde, omdat dit in my eie lewe, hoë prioriteite is maar dit geld vir my in elke enkele ander afdeling van my lewe.
Ek is immers eerstens kind van God en daarom mede-erfgenaam saam met Christus, voordat ek enige iets anders is:

ROM 8:16  Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;
ROM 8:17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Ek gebruik weer die twee voorbeelde wat ek vroeër gebruik het en ek maak dit weer op myself van toepassing, dit is tog wat myself aanbetref wat ek goeie kennis van dra.
Die mense wat my ken moet eerstens weet dat ek ‘n Christen is en dan kan hulle ook weet dat ek ‘n Afrikaner en ‘n Cheetah ondersteuner is. “After all,” ek is hier op aarde ‘n bywoner.

1PET 2:10-12 
10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.
11  Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel;
12  en hou julle lewenswandel onder die heidene skoon, sodat as hulle van julle kwaad spreek soos van kwaaddoeners, hulle op grond van die goeie werke wat hulle aanskou, God kan verheerlik in die dag van besoeking.

Nie net is ek ‘n bywoner nie maar ek is net as gevolg van menslike wette ‘n burger van hierdie land.  My eintlike burgerskap het verander toe ek JESUS CHRISTUS aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker.

FIL 3:17-20 
17 Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het.
18  Want baie—van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê—wandel as vyande van die kruis van Christus.
19  Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.
20  Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,

In die ou dae het die seerowerskepe altyd, byvoorbeeld ‘n Britse vlag gehys as hulle in Britse water gevaar het en as hul prooi binne trefafstand gekom het, het hulle die Britse vlag gestryk en die seerowersvlag gehys en so hul ware kleure vertoon.

Ek wil jou aanmoedig.
Kom ek en jy, stryk alle ander vlae en laat sak alle ander vaandels en ons hys ons Christen status tot op die punt van die mas van ons lewensboot en ons laat Jesus se vaandel voor op ons lewensboot se boeg wapper.

Ek sluit af deur my lyf so ‘n bietjie digter te hou:

KOM ONS HYS ONS KLEURE EN VERTOON ONS VAANDEL.

AS EK SÊ EK IS ‘N CHRISTEN, LAAT MY LEWE DIT DAN PREEK.
AS EK SÊ EK IS ‘N CHRISTEN, LAAT HUL SIEN WAT IN MY STEEK.

EK WIL ALTYD NET EEN VAANDEL HOOG, BO ALLES UIT VERTOON.
DIT IS DIE VAANDEL VAN MY JESUS, MY GOD WAT IN MY WOON.

Groete,
Sakkie