LAAT DIE MENSE JESUS CHRISTUS IN JOU, DEUR JOU LEWE SIEN

LAAT DIE MENSE JESUS CHRISTUS IN JOU, DEUR JOU LEWE SIEN

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:
“Ek wil graag weet:
Wie is die gode van wie ons in Psalm 82:6 lees?
Wat is jou mening?”

Hier is dan hoe ek hierdie gedeelte uit die Woord verstaan:
Lees net eers die gedeelte waaroor die vraag gaan:

PSM 82:6  Ek het wel gesê:
‘Julle is gode, seuns van die Allerhoogste.’

Ek wil dan begin deur te sê, dat daar wel teoloë is wat dit wil hê, dat hiér van die gevalle engele gepraat word.
Ekself verstaan uit die Woord verseker dat hier van mense in gesagsposisies gepraat word.
Hier dan is hoe ek hierdie saak uit die Woord sien:

Die eerste feit soos ek dit in die Woord sien, is dat engele nie soos mense sterf nie.  Neem nou maar die engel Gabriël en die engel Mígael as voorbeeld.
Tog lees ons in Psalm 82:7:

PSM 82:7   Maar nee! Julle sal sterf soos ’n mens, (enige gewone mens) soos enige maghebber sal julle val.”
 

Dit is ook nie net in PSM 82 waar gewone mense vanweë die gesag wat ons Here aan hulle gegee het, Hy hulle “gode” noem nie.

Ek deel met jou nog ‘n voorbeeld uit die Woord:

EKS 7:1  Maar die Here het vir Moses gesê: “Let op, Ek sal jou soos ’n god laat wees teenoor die farao. Jou broer, Aäron, sal jou boodskapdraer wees. Hy sal jou woorde aan die farao oordra.

Die mense wat in Psalm 82 van gepraat word, is dus na my mening die mense in die samelewing met gesag, soos byvoorbeeld regters ens.
Net ‘n bietjie vroeër in Psalm 82 naamlik vers 3 en 4 lees ons wat van hierdie mense wat soos “gode” is, verwag word:

PSM 82:3  “Laat reg geskied aan armes en wese.
Verdedig die saak van die hulpelose en behoeftige.
PSM 82:4  Bevry die armes en die behoeftiges;
verlos hulle uit die greep van goddelose mense.

Eintlik lees ons maar net in Psalm 82:3-4 wat ons Here lank terug aan die Israelitiese leiers en almal wat in magsposisies was, voorgeskryf het:

DEUT 1:17  Wanneer julle uitsprake lewer, moenie die ryk mense bevoordeel nie. Wees ewe regverdig teenoor belangrike en onbelangrike mense. Moenie bang wees oor hoe hulle sal reageer nie, want julle tree namens God (soos gode) as regters op.  …

Ten slotte, wat hierdie vraag aan my aanbetref, deel ek graag met jou hoe Jesus na hierdie onderwerp kyk, van God wat soms na die mens verwys het as “gode.”

Ons lees:

JOH 10:24  Die Joodse leiers het toe ’n kring om Jesus gevorm en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan jy ons nog aan ’n lyntjie hou? As jy die Messias is, sê dit vir ons padlangs.”
JOH 10:25  Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo My nie. My optrede is in die Naam van my Vader; hierdie dinge bevestig wie Ek is.

Dan sê Jesus net ‘n bietjie verder:

JOH 10:30  Ek en die Vader is één.”

Dit het die Joodse leiers woedend gemaak en hulle wou Jesus stenig.
Jesus vra hulle toe, vir ‘n rede waarom hulle Hom dan nou wil stenig en dan antwoord hulle Hom:

JOH 10:33  Die Jode het Hom geantwoord: “Dis nie oor die een of ander besondere daad dat ons jou wil stenig nie, maar oor laster. Jy wat ’n mens is, doen jouself voor as God.”

Dan antwoord Jesus hulle en Hy verwys terug na PSM 82:6:

JOH 10:34-36 
34 Jesus het hulle nog ’n keer geantwoord: “Is dit nie in julle wet opgeteken dat God gesê het: ‘Julle is gode’ nie?
35  As daardie mense wat God se boodskap ontvang het, gode genoem word – en die Skrif kan nie verbreek word nie –
36  hoe sê julle dan dat Hy wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is, laster omdat Hy gesê het: ‘Ek is die Seun van God’?

Tot so ver die antwoord op die vraag wat aan my gestuur gewees het.

Ek wil dan nou met jou die volgende grootse heerlikheid deel:

In die Ou Testament het ons Here soms, soos ek jou gewys het,  na mense verwys as gode maar nóú, nádat Jesus Christus Homself vir ons op Golgota geoffer het en jy en ek Hom aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker, verwys ons Here in Sy Woord na ons, nie meer as byvoorbeeld “gode” nie maar as Heiliges.

Natuurlik verwys ons Here in die Nuwe Testament ook na ons in ander wonderlike intieme terme.  Soos broers en susters, Sy kinders, Sy erfgename ens maar weet jy –  In die een Bybel wat ek gebruik, kom die word “heiliges” in die Nuwe Testament na my kennis, waar dit oor almal wie Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker gaan, meer as 40 keer voor.

Ek sluit dan hierdie gedagte uit die Woord aan jou af met die gedeelte uit die Woord, wat almal wie Jesus Christus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker oor kan jubel:

1PET 2:9  … want God het júlle as sy volk gekies. Julle is ’n koninkryk wat uit priesters bestaan, ’n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ’n volk wat heeltemal God s’n is. Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is. Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in sy wonderlike lig ingeroep het.

Hoe wonderlik om te onthou as jy hierdie gedeelte verder lees, wat Jesus Christus deur Sy offer op Golgota vir jou en my bewerkstellig het
Ons Lees:

1PET 2:10  “Vroeër was julle nie ’n volk nie;
nou is julle egter die volk van God.
Vroeër het God geen ontferming aan julle bewys nie;
nou hét julle egter sy ontferming.”
Handhaaf ’n voorbeeldige leefstyl teenoor die nie-Christene

1PET 2:11  Geliefdes, omdat julle uitlanders en bywoners (in hierdie wêreld) is, waarsku ek julle om nie aan julle natuurlike neigings toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe.

Kom jy en ek bevorder hierdie koningryk van ons Here waarvan ons deel is, soos die Woord ons aanmoedig om te doen:

2TIM 4:2  Verkondig die woord van God. Hou daarmee vol, of die tyd daarvoor geleë is of nie. Jy moet jou mense met geduld reghelp, aanspreek en bemoedig terwyl jy hulle geduldig onderrig.

Weet jy wat is vir my so wonderlik van hierdie opdrag?
Ek hoef nie ‘n wonderlike spreker te wees nie.
Ek hoef nie pragtige ingewikkelde preke voor te berei nie en so kan ek aan en aan gaan maar ons het almal ‘n lewe.
So, as jy kan preek, dit is goed doen dit ook.
As jy kan sing, dit is goed, doen dit ook.
As jy voor mense kan getuig, dit is goed, doen dit ook maar wat jy ook al vir ons Here doen, bó alles, verkondig die evangelie van Jesus Christus deur jou lewe:

KOL 3:12-15 
12 Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.
13  Verdra mekaar en vergewe mekaar as die een teen die ander ‘n klag het; soos Christus julle vergeef het, so moet julle ook doen.
14  En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.
15  En laat die vrede van God, waartoe julle ook in een liggaam geroep is, in julle harte heers, en wees dankbaar.

Met ander woorde –
Laat die mense Jesus Christus in jou, deur jou lewe sien.

Groete
Sakkie