LEEF SOOS JESUS SE VOLGELING

LEEF SOOS JESUS SE VOLGELING.

Sakkie Parsons

Iemand skryf en vra die volgende:
“1 Korinte 5 :9- gaan dit hier basies net oor mense in die kerk?”

Lees net gou eers 1 Korinthiërs 5:9

1KOR 5:9  In my vorige brief het ek vir julle geskryf dat julle nie met mense moet assosieer wat ’n onsedelike lewe lei nie.

Ter inleiding wil ek dan sommer met jou die volgende interessantheid deel:
Die brief wat as 1 Korintiërs bekend staan, wel 1 Korintiërs in die Woord is. maar dit is nie die eerste brief wat Paulus aan die Korintiërs geskryf het nie.
Daarom lees ons hier in 1 Korintiërs 5:9 byvoorbeeld:

1KOR 5:9  In my vorige brief …

Sy vorige brief is dan eintlike 1 Korintiërs wat verlore gegaan het.
Daar het baie geskrifte aan die begin van die Christendom rondgegaan, maar hoe heerlik egter om te weet, dat omdat die Woord Heilige Gees geïnspireerd is, is alles wat Paulus en die ander skrywers geskryf het wat vir ons Here se volgelinge van alle tye bedoel is, in Sy woord vir ons opgeneem.

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek.
2TIM 3:17  Dit is God se manier om sy mense voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen.

Terug by die vraag naamlik:
“Gaan dit hier basies net oor mense in die kerk?”

Dan is die antwoord – verseker gaan dit hier oor die mense in die kerk.

Laat ek verduidelik:
Korinte was in die tyd toe Paulus die gemeente daar begin het, ‘n uiters bose
stad. Die tempel van Venus die godin van liefde was in Korinte en onsedelikheid
het, om dit so te stel, ongekende hoogtes bereik.
Byvoorbeeld:
Deel van die godsdiens van Venus het behels, dat daar 1,000 prostitute in die
tempel, kom ons noem dit maar  “diens” gedoen het.
Nou het die onsedelikhede/godsdiens van Venus ook in die gemeente van
Korinte gemanifesteer en nou skryf Paulus:

1KOR 5:9  In my vorige brief het ek vir julle geskryf dat julle nie met mense moet assosieer wat ’n onsedelike lewe lei nie.

Dan gaan Paulus verder en verduidelik wat hy in die vorige brief, die een wat vir ons verlore is, nié bedoel het nie:

1KOR 5:10  Daarmee het ek hoegenaamd nie die ongelowiges van die wêreld bedoel wat ’n onsedelike lewe lei of gierigaards of swendelaars of afgodsdienaars is nie. Om dit reg te kry sou julle hierdie wêreld moes verlaat!

Paulus sê, dat hy nie praat van die ongelowiges wat om hulle woon nie.  Nee hy praat van  mense in die gemeente wat hulleself Christene noem, wat selfs meer boos lewe as die ongelowiges om hulle.

Ons lees:

1KOR 5:1  Ek kon my ore byna nie glo om van die seksuele vergrype onder julle te hoor nie – daarby van so ’n ernstige aard dat dit selfs nie onder die
ongelowiges voorkom nie. …

Nee, sê hy.  Hy het nie oor die ongelowiges gepraat nie.  Hy praat van hulle – die gemeente in Korinte:

1KOR 5:10  Daarmee het ek hoegenaamd nie die ongelowiges van die wêreld bedoel wat ’n onsedelike lewe lei of gierigaards of swendelaars of afgodsdienaars is nie. Om dit reg te kry sou julle hierdie wêreld moes verlaat!

Dan gaan Paulus verder en hy verduidelik wat hy in die, vir ons, verlore brief bedoel het:

1KOR 5:11  Wat ek bedoel het, is wat ek nou in hierdie brief bevestig: Julle moenie in die gemeente assosieer met iemand wat op Christenskap aanspraak maak en ten spyte daarvan ’n onsedelike lewe lei of ’n gierigaard of afgodsdienaar of kwaadsteker of dronkaard of swendelaar is nie. Julle moenie eers saam met so iemand eet nie.

Ons Here wil nie dat ek ander mense in die wêreld veroordeel nie.
Veroordeel hulle sonde, maar verkondig aan hulle die evangelie van Jesus Christus.

Dit is egter my plig as kind van ons Here om mense in die gemeente wat nie
volgens Christelike standaarde leef nie in liefde aan te spreek, nadat ek natuurlik eers daaroor gebid het, sodat ek die regte wysheid mag verkry om met hulle te deel en as hulle dan nog steeds hulle nie van daardie bose wyse van lewe wil bekeer nie, kom daar ‘n tyd, dat ek my heeltemal van hulle moet distansieer.

Jy sien, as jy nie jou mede broeder of suster wat as Christen verkeerd lewe vermaan nie, gaan satan sorg dat dinge in die gemeente net meer en meer vererger.
Soos wat dit destyds ook gebeur het en soos wat dit vandag onder die Christen gemeenskap reeds ook al hoe meer gebeur.

Sonde is soos ‘n aansteeklike siekte en soos met ‘n aansteeklike siekte, as jy nie onmiddellik werk daarvan maak nie, word dit ’n dodelike epidemie.
In die geval van sonde, word dit dan ‘n geestelik dodelike epidemie.

Die gemeente in Korinte het dinge in die gemeente wat verkeerd gegaan het nie aangespreek nie en toe Paulus uiteindelik daarvan hoor was dit al so erg dat hy deur hulle leefwyse geskok aan hulle moes skryf:

1KOR 5:1  Ek kon my ore byna nie glo om van die seksuele vergrype onder julle te hoor nie – daarby van so ’n ernstige aard dat dit selfs nie onder die ongelowiges voorkom nie. …

Tot so ver wat 1KOR5:9 en die gemeente in Korinte aanbetref.

Vandag, in die tyd wat ons lewe en ek praat nie van die nie-Christene nie, immers is ons vooraf gesê dat die wêreld meer en meer boos gaan word.
Ek praat van die Christendom.  Want meer en meer vind ons maar onder die meeste Christene vandag dieselfde tendens wat homself in die gemeente van Korinte afgespeel het.

Mense soos my groot held Paulus wat daar aan die begin van die Christendom die leiding gegee het, se monde sou van stomme verbasing oopgehang het as hulle moes sien wat vandag vir die meeste Christene as die norm deurgaan.

So, laat jy en ek wie Christene is, leef soos Jesus se volgelinge, sodat die mense op daardie wyse die verskil tussen ons en die wêreld kan sien.

Want my vriendin en vriend wat hier lees:

1THS 4:7  God het ons mos nie geroep tot ’n onrein lewe nie. Hy het ons geroep om onsself al hoe meer aan Hom toe te wy.
1THS 4:8  Iemand wat hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie ’n mens nie, maar God wat sy Heilige Gees aan julle gee!

ROM 12:1  Nou wil ek julle baie ernstig vra, broers en susters: As julle dink aan alles wat God in sy groot barmhartigheid vir julle gedoen het, gee dan julleself aan Hom as ’n lewende en heilige offer. Dit is dié soort offer waarvan Hy hou, en wat julle diens aan God werklik sinvol maak.

ROM 12:2  Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe.
Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is.

Iemand vra:
“Wat is die maatstaf waarvolgens ek moet lewe wat ek moet gebruik wat jy sou aanbeveel?”

Dan sou ek graag soos volg vir Christene wat tot hier gelees het aan die einde van hierdie spesifieke gedagte uit die Woord antwoord:

FIL 4:8 Ten slotte, broers en susters, vul julle gedagtes met alles wat waar eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.

Dan, my mede-pelgrim oppad na die ewige lewe waar ons saam met Jesus gaan wees –
As jy glo, dit wat jy nou gelees het, is dit wat jy moet doen eenvoudig:

Leef dit uit.
 
Groete
Sakkie