MOET NET NOOIT ENIGE GELEENTHEID SONDER JESUS VIER NIE

MOET NET NOOIT ENIGE GELEENTHEID SONDER JESUS VIER NIE

Dié wat ’n spesifieke dag uitsonder, doen dit vir die Here. ROM 14:6

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en het sommer vir die interessantheid daarvan gewonder watter riglyne daar in die Woord vir ons gegee word oor verjaarsdae.  Moet ons verjaarsdae herdenk met die vrolikheid wat daarmee gepaard gaan, of moet ons liewer nie verjaarsdae herdenk nie.

Dit is nou weer een van daardie gevalle, waar ons nie ‘n direkte antwoord op wit en swart in die Woord kry nie maar ek dink tog dat ons Here in Sy Woord, vir ons riglyne gee waar volgens ons kan gaan wat hierdie saak aanbetref.

Voor ek daarby kom net eers die volgende:

Sover my kennis strek, vertel die Woord vir ons van twee verjaarsdae van mense wat met ‘n partytjie, of dan met ‘n fees gevier gewees het.

Albei was ongelowiges en die een in die Nuwe Testament, was sommer absoluut wreed en by uitstek goddeloos.

In die Ou Testament lees ons van die viering van die Farao se verjaarsdag, waar Josef se uitleg van die drome van die skinker en die bakker in vervulling gekom het.

Gen 40:20-22  Drie dae later was dit die Farao se verjaardag.  Hy het ‘n groot feesmaal gereël vir sy amptenare.  Hy laat haal toe die hoof van die skinkers en die hoof van die bakkers en verhoor hulle voor almal.  21Hy het die hoof van die skinkers in sy pos herstel om soos vroeër weer die beker aan te gee.  22Maar die hoof van die bakkers het hy aan ‘n paal laat ophang – alles presies soos Josef gesê het.

In die Nuwe Testament lees ons van Herodes se verjaarsdag wat gevier was.

Jy kan dit gaan lees in onder andere, MAT 14 vanaf vers 6 en MRK 6 vanaf vers 21.

Ek gee as voorbeeld die een in MAT 14:

Mat 14:6  Met Herodes se verjaarsdagviering het Herodias se dogter voor die gaste gedans.  Herodes was so in sy skik daarmee 7dat hy vir haar gesweer het:  “Sowaar, vra van my net wat jy wil.”

Ek het gesê, dat daar na my mening tog riglyne vir ons gegee word van of ons onder andere verjaarsdae mag vier en ek deel dit graag met jou:

Eerstens, het ons geen getuienis in Die Woord, dat ons Here teen die gebruik om verjaarsdae te vier is nie.  Inteendeel, in die Farao se geval demonstreer ons Here hoe Hy Sy volgelinge, in daardie geval, Josef, gebruik het.

Ons lees wel die volgende kommentaar in die Woord wat hierdie saak van verjaarsdae dan ook sal insluit:

Rom 14:5  Net so is daar dié vir wie die een dag meer besonders is as die ander, terwyl ander weer alle dae as ewe belangrik beskou.  Elkeen behoort seker te maak van sy eie oortuiging in hierdie verband.

Rom 14:6  Dié wat ‘n spesifieke dag uitsonder, doen dit vir die Here… 

Wat myself aanbetref, is ek elke dag dankbaar en bly dat ek lewe en gesond

Is, maar op die dag waarop ek gebore is, is daar en dit is seker maar as

gevolg van my mensheid, baie meer dankbaarheid en vrolike blydskap, dat

ons Here my nog ‘n wonderlik jaar gegun het om vir Hom, my geliefdes, my

medemens en vir myself te lewe.

Ek weet daar is nou mense wat onder andere as gevolg van hulle geloof nie verjaarsdae herdenk nie.

As jy soos ek, dit geniet om jou sowel as ander se verjaarsdae te herdenk en iemand kom met hulle geloof se redenasie na jou, onthou dan ROM 14:5-6 as ook die volgende.

KOL 2:16  Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of Sabbat nie,

KOL 2:17  wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.

In Die Nuwe Lewende Vertaling lees KOL 2:16 so. 

Kol 2:16  Moet dus nie toelaat dat enigiemand julle veroordeel oor wat julle eet of drink, of oor hoe julle sekere feesdae of die Numaanfees of  Sabbatte vier nie.

Moet net nooit iets vier sonder JESUS nie.

KOL 3:17  Verder, doen alles – of dit nou met woorde of dade is – asof julle dit namens die Here Jesus doen.  Só is julle heeltyd besig om deur Hom dank aan God die Vader te bring.

1KOR 10:31 Wat julle ook al eet of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. 

Groete,

Sakkie