MY ANTWOORD OP DIE LEUEN – DEEL 2

MY ANTWOORD OP DIE LEUEN – Deel 2

Sakkie Parsons

In my vorige skrywe oor hierdie onderwerp het ek as volg geëindig:
Toe belewe hulle ook nog Sy hemelvaart.  Hulle staan en kyk, hoe die Vader aste
ware Sy arm om Sy Seun sit en Hom in die Hemel opneem.

HAN 1:9  En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.

Natuurlik! daarna kon niks hulle keer nie!

Nou gaan ek verder en deel ook sommer met jou oor wat ek as die grootste maar ook die swakste leuen van alle tye beskou.

Onthou jy?
Daar staan hy, nou die dag se groot lafaard, wat bewend van vrees vir sy lewe, vir ‘n diensmeisie se aantyging vloekend gelieg het, om te wys dat hy nie een van Sy volgelinge is nie en langs hom staan een van die ander groot lafaards, dalk nog die een wat destyds hom skoon uit sy klere uit gehardloop het.
Soos ek gesê het.
Daar staan hulle nou, dieselfde mense, voor die owerstes, ouderlinge en skrifgeleerdes, die leiers van die volk.

HAN 4:18-20 
18 En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Jesus te spreek of te leer nie.
19  Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis;
20  want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.

Dink ‘n bietjie ook hieraan:
Waarom het die mense wat Jesus se dissipels wou stil maak so geweldig baie moeite gedoen om hulle stil te maak maar nie hulle troefkaart gespeel het, om te wys dat Jesus nie opgestaan het nie.
Kom ons sê, dat hierdie gewone mense waarvan die meeste eenvoudige vissermanne gewees het,  was besig met ‘n reuse bedrogspul.
Waarom het hierdie geleerde mense nie hulle troefkaart gespeel en hulleself ‘n geweldige klomp moeite gespaar, wat toe op die ou end tog op niks uitgeloop het nie.  Want hier is jy en ek ‘n bewys, dat hulle totaal misluk het in hulle poging om hierdie Evangelie tot niet te maak.
Waarom het hulle nie net Jesus se gekruisig en verminkte liggaam in die openbaar uitgestel nie?
Hulle het dan so deeglik gesorg, dat Jesus se liggaam nie deur Sy dissipels gesteel kon word nie.

MAT 27:62-66 
62 Die volgende dag—dit is die dag ná die voorbereiding—kom die owerpriesters en die Fariseërs by Pilatus saam
63  en sê: My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan ek op.
64  Gee dan bevel dat die graf verseker word tot die derde dag toe, dat sy dissipels nie miskien in die nag kom en Hom steel nie, en vir die volk sê: Hy het opgestaan uit die dode. En die laaste dwaling sal erger wees as die eerste.
65  Daarop sê Pilatus vir hulle: Julle sal ‘n wag kry; gaan verseker dit soos julle dit verstaan.
66  En hulle het gegaan en die graf verseker deur die steen te verseël in teenwoordigheid van die wag.

Die enigste groot leuen wat destyds verkondig was, was nie deur Jesus se dissipels verkondig nie maar deur die groot geleerdes van destyds, omdat hulle natuurlik nie die opgestane Jesus se liggaam te voorskyn kon bring nie.
Nee! En toe moes hulle maar van ‘n leuen gebruik maak waarmee hulle minder reggekry het, as wat ‘n man sou kon regkry wat om die wêreld in ‘n lugballon wil reis maar toe hy nie ‘n lugballon kon kry nie, toe maar op ‘n seepbel besluit het.

Enige iemand wat iets van die Romeine se soldate en hulle ysere dissipline weet sal vir jou kon sê, hoe absoluut belaglik hierdie leuen wat hulle verkondig het gewees het.
Lees hier:
‘n Engel het toe gekom, die klip voor die graf weggerol.
Die wagte het hulleself skoon uit hulle afgodsgeloof geskrik en toe hulle uiteindelik hulleself so ver kon kry om weer te beweeg, gaan vertel hulle wat by die graf gebeur het en nou lees ons:

MAT 28:11-14 
11 En terwyl hulle op weg was, kom daar sommige van die wag in die stad en vertel die owerpriesters alles wat gebeur het.
12  En nadat hulle saam met die ouderlinge vergader en raad gehou het, het hulle die soldate baie geld gegee
13  en gesê: Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was.
14  En as dit by die goewerneur gehoor word, sal ons hom tevrede stel en maak dat julle sonder sorg is.

Weet jy ‘n mens sou amper vir hierdie mense se belaglike patetiese optrede kon gelag het.
Want toe verkondig hulle presies wat hulle gesê het dat hulle die dissipels wou verhoed om mee weg te kom en soos jy gelees het, betaal hulle toe nog op die koop toe ‘n groot som geld vir die leuen.

Hierdie leuen wat hulle eers wou verhoed en toe maar self gebruik het, steek natuurlik weer vandag sy kop uit maar hoe kan dit ook anders, die Woord het dit mos so voorspel.

MAT 28:15  Hulle het toe die geld geneem en gedoen soos hulle geleer was. En hierdie verhaal is versprei onder die Jode, tot vandag toe.

Het jy gesien?

MAT 28:15  … tot vandag toe.

Hierdie enigste groot reddende waarheid, naamlik die Evangelie van Jesus Christus  het meer as 2 000 jaar se aanslae en toetse van satan se volgelinge deurstaan en elke keer met vleiende vaandels die aanslae en toetsing geslaag.
‘n Mens kan amper nie glo dat daar nog vandag regdenkende mense, met al hierdie gegewens voor hulle, so belaglik kan optree nie maar dan onthou ek, dat ons Here ook in Sy Woord in die verband sê:

1KOR 1:18-25 
18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God;
19  want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak.
20  Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?
21  Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red;
22  want die Jode vra ‘n teken en die Grieke soek wysheid,
23  maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ‘n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke;
24  maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.
25  Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense.

Iemand sê dalk nou:
“Dit is nou alles goed en wel maar wat nou van my?  Ek was nie by Jesus se visbraai nie en ek was nie daar om te sien hoe voel Thomas aan die merke in Sy hand nie.”
Jy dink ons Here skryf hulle hoog aan en jy is reg maar kom ek wys jou nog ‘n groter groot heerlikheid en jy is deel daarvan as jy Jesus aangeneem het as Jou God, Verlosser en Saligmaker.
Want dan, skryf Jesus jou nog hoër aan as hulle en onthou, ook Johannes die geliefde dissipel was een van hulle daar toe Jesus hierdie woorde gesê het.

JHN 20:27-29 
27 Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.
28  En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!
29  Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.

HEB 11:1  Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.

So kom jy en ek maak ons Here Jesus se hart bly, deur nog mense na Hom te bring wat Hy so hoog kan aanskryf.
Hoe doen ons dit?
Die antwoord is voor die handliggend as ek onthou, dat ons Here in Sy Woord vir ons sê.

ROM 10:17  Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.

So, kom mede Christen en laat ons Sy Getuie wees en hierdie ewige lewegewende groot waarheid verkondig aan ‘n wêreld, wat aan soveel leuens blootgestel word.
Laat jy en ek deur ons woorde maar veral ons optrede deur ons lewe die antwoord wees op die vraag wat uit die Woord tot ons kom.

ROM 10:14  Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek?

“Laat ons leef wat ons preek”

Groete,
Sakkie